praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Sport Rugby Slordig maar lekker! Bulle beur verby Haaie

Slordig maar lekker! Bulle beur verby Haaie

E-pos Afdruk PDF
Haaie en bulle

Julle sportskrywer het, vir julle kennisname en moontlike plesier, die eerste drie wedstryde van 2012 se Super Rugby-toernooi onder die loep geneem, en vir dié wat gewonder het, en miskien selfs senuweeagtig is, laat ek julle verseker, hierdie wedstryde in ag geneem, het die Suid-Afrikaanse spanne niks uit Nieu-Seeland of Australië te vrees nie. Dié twee buitelande, daarenteen, moet maar hulle vitamines drink en die lewe onthou soos wat dit nou is, want hierdie jaar gaan hulle slae verdra as dít wat in die laaste wedstryd van die dag te siene was ’n  patroon vir die jaar gevestig het.

Die Bulle en Haaie het mekaar met uitsonderlike geweld op Loftus getref. Daar was baie hanteerfoute, soos maar altyd aan die begin van die jaar, en van die skopvoete was nog nie behoorlik gekalibreer nie, maar daar was ongewone intensiteit vir ’n aanvangswedstryd. Genade, eintlik was die twee spanne oorgehaal soos styfgerekte rekkers en van die openingsfluitjie af het hulle sonder brieke op botsende bane in mekaar vasgepletter. Die aanslane was, ongewoon vir Suid-Afrikaanse spanne aan die begin van ’n  seisoen, nie te wyte aan blote bottervingers nie, maar omdat die verdedigers die baldraer telkens met soveel ribkrakende trompsnelheid getref het dat die bal iewers heen móés gaan.

Die eerste helfte was ’n  triomf van aanvallende verdediging oor punteskeppende aanvalle. Die punteversamelaars, Morné Steyn, Pat Lambie en Riaan Viljoen het al hulle skoppe (net-net) mis geskop en van drieë was daar nie sprake nie. Min openingshelftes lewer soveel roekelose aksie op en nog minder eindig 0-0. Dié een het.

In die tweede helfte het ’n mate van nugterheid tot die rugbyruim teruggekeer en die blou puntestroper het in beweging gekom. Hangskoppe het die Natallers vasgepen en die blou horde se smorende aanvalle het strafskoppe opgelewer wat Morné Steyn, nou weer in die vloei van dinge, oorgeskop het. Konsentrasiebreuke deur die Bulle, veral in die skrum, het weer vir Lambie binne trefafstand gebring en hy het self ses punte van twee strafskoppe gemaak. Uiteindelik het die blou golf tog vooruit gerol en met ’n  bykomende skepskop het Steyn en die Bulle 18 punte gehad teenoor die Haaie se ses.

Daar was nou oënskynlik ’n  patroon – ’n ou, herkenbare een. Die Bulle het die Haaie weereens in ’n  hoekie van hulle kwartgebied vasgedruk. Maar daar is ander herkenbare patrone in Suid-Afrikaanse rugby ook. Die Bulle het die bal afgestaan en die Haaie het dit met hulle rug teen die doellyn aangegee. Binnesenter Whitefield het ’n  skoppie vorentoe geknikker in die hoop om uit te breek, dit op een of ander manier weer gevind en dit het teen die agterlyn afgeloop totdat Jacques Botes vir Lwazi Mvovo teen die kantlyn kon afvuur. Die vleuel en sy grillokke is ingejaag en platgeloop maar het die bal binneveld toe gekry waar die einste Botes, genoeg van ’n veteraan om daardie mitiese kortpaaie op ’n  voetbalveld te ken, die bal gevang en ’n  strompelende Bulle-verdediging finaal versnipper het vir die enigste drie van die wedstryd. Dit het 71 minute gevat, maar die wag was ’n  nie ’n onredelike prys vir ’n kosbare drie nie. Die telling was toe 18-13.

Dis asof die spanne hulle tradisionele persoonlikhede vir die laaste tien minute in daardie oomblik herontdek het. Die Bulle, asof afgespreek, sou verdedig, terwyl die Haaie snerpend en verbete sou aanval. Op een stadium moes die Bulle digby die 40 fases in twee bewegings absorbeer voordat hulle die bal kon wegrokkel. Steyn se verligtingskop het 30 meter van sy doellyn af oor die kantkalk gegaan. Die Haaie het hulleself styfgetrek vir net nóg een lynstaan waarna hulle net nóg ’n aanval, met alle potensiaal op sukses, kon loods. Haker Wepener se gooi was ’n presiese boog, reg waar dit moes wees, in die middel van die lynstaan. En toe rys daar ’n lang skraal figuur en kaats die bal voor die Haaie weg, Bulle se kant toe. Is dit ’n Matfield in daardie nommer-5 trui? Nagenoeg.

Juandré Kruger het gewys die slotfabriek is in volle produksie. Hy het die Bulle se lynstane gereguleer soos sy mentor, Victor Matfield, self. Hy het wonderlike voetbalvoorgevoel en het soos die wind met die bal gehardloop en die harde lakke ingestop wanneer hy moes. Hy is as Man van die Wedstryd aangewys, en dít nie sonder rede nie.

Die vraag is wat die aanbod van talent in SA rugby is na die vertrek van ’n tros ware legendes. Inderwaarheid is daar soveel nuwe modelle op die mark, dat die voetbalverbruiker skoon bederf sal voel. Die ander jongeling wat prominent in die Bulle-span was, was die jong Francois Venter op binnesenter. Hy doen sy werk, verlustig homself in die geweld van kontak en het daardie wonderlike vermoë om ’n paar tree dieper aan te val as wat redelik sou wees. Die Haaie se jong slot, Anton Bresler, het gewys dat die Bulle nie ’n  patentreg op dié posisie het nie.

Die Bulle het die laaste aanslag weerstaan en die stryd met 18-13 gewen.

Dit was nie foutlose voetbal nie, maar daar was genoeg van die ongebreidelde gladiatorgees in die skouspel om die aptyt te wek vir ’n groot Super Rugby-seisoen.

Laat waai!

Punte deur:

Bulle -
Strafdoele:  Morne Steyn (5). Skepskop: Steyn.

Haaie - Drie: Jacques Botes. Doelskop: Pat Lambie. Strafskoppe: Pat Lambie (2).


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: