Jy is hier: Sport Rugby

Rugby

All Blacks, Springbokke speel in Soweto

E-pos Afdruk PDF

Die All Black-afrigter Graham Henry het onbedoeld onthul dat Nieu-Seeland en Suid-Afrika hul drienasiesrugbywedstryd op 21 Augustus by die Soccer City-stadion in Soweto sal speel.

Suid-Afrikaanse amptenare moet steeds hul besluit aankondig om die wedstryd van Ellispark in Johannesburg te verskuif na die Sowetostadion met 95 000 sitplekke waar die finaal van die sokkerwêreldbeker gaan plaasvind.

Henry het die inligting Vrydag laat fal in 'n onderhoud met die stuff.co.nz-webwerf. Hy het die stadion vir die wedstryd bevestig in antwoord op 'n vraag, maar toe sy fout agtergekom en die raad van die All Blacks se mediabestuurder gevra.

"Ja, dis amptelik, is dit nie?" het Henry gesê, voordat hy na die mediabestuurder Joe Locke gedraai het en aan hom gevra het: "Mag ek dit maar sê, Joe?"
"Ek het dit so pas gesê, nie waar nie? Daar is gespekuleer... nee, ek mag dit nie eintlik sê nie. Nee, daar is net gespekuleer dat ons in 'n stadion wat 97 000 mense vat, kan speel. Jinne, dit sal fantasties wees, nie waar nie? Ek kan nie wag nie."
Laas Opdateer op Vrydag, 02 Julie 2010 09:13

Bok-oorwinning groot met brak kol in skrums

E-pos Afdruk PDF
Gio Aplon“Maar hy is te klein om te merk,” sou ‘n mens g’n Franse Haan kon verkwalik as hy by die afrigter moes gaan verduidelik het hoe Gio Aplon twee keer die doellyn oorgesteek het nie.

Inderdaad, Hawston, Aplon se tuisdorp, se parlemoensmokkelaars sou by dié klein blits kon leer hoe om met vaart en aftrappe die dienders te ontglip.

Maar die Springbokke se eerste toetsoorwinning was nie net ‘n geval van biltong en boerewors nie, groot telling of te nie.

Daarvoor het die nou reeds ou kwaal ingetree dat die Bokke se voorspelers in die skrums teen die noordelike halfrond se voorhoedes knor.

Eers, ironies, toe Peter de Villiers se witbrooedjie-speler, John Smit, en BJ Botha, van die veld af is en deur Chillieboy Ralephele en Jannie du Plessis vervang is, het die bokke hier die mas opgekom. Toegegee, ‘n paar Franse is ook vervang.

Die gevolg was dat die Springbokke, met die uitsondering van die lynstane, nie werklik oorheers het nie. François Louw het wel die Franse ‘n les met lang vingers geleer maar die Franse is nog nie so lank aan die nuwe reëls blootgestel nie.

Die Franse meen, afgesien van die bykans oninhaalbare telling in die openingsminute, was hul balbesit so skraps dat hulle grootliks van die Springbokke se doellose skoppery gebruik moes maak om aanvalsgeleenthede te skep. Die openingsagterstand was net te groot vir inhaalrugby sonder veel konstruktiewe besit.

Die groot Bok-telling het dikwels in die vorm van sporadiese snelvuur, eerder as volgehoue druk gekom. Die Franse, so onvoorspelbaar soos hulle tradisioneel is, het bottervingers ingespan. Hul skrumskakel, Morgan Parra, se mam-Parra-skop het sy span vroeg onder druk gehad toe Pierre Spies die teenaanval afgerond het.

Dit is nie net die feit dat Aplon twee drieë gedruk het wat vir dié spoedvraat ‘n veer in die kopskerm is nie. Vir beide drieë moes hy heelwat werk doen. Sy tweede drie het ook getoon ‘n aanvallende span wat verbrou, kan met Aplon in die Bokke se geledere maklik sewe punte op die telbord teen hulle verwag.

Teen Italië kom veranderings aan die span, wat aan die Snorreman die geleentheid bied om sy poel van spelers vir die groot toetse te vergroot. Met twee Suid-Afrikaanse spanne wat sake in die eindstryd van die Super 14 uitgespook het, is dit duidelik dat Springbokmateriaal volop moet wees. Hulle moet net gekies word.

Laas Opdateer op Maandag, 14 Junie 2010 10:57

Bulle tem die Storm

E-pos Afdruk PDF
Met die flymskerp Juan de Jong vroeg beseer, was die hemelbesem-slot van die WP, Andries Bekker, 'n paar keer die Stormers se beste agterspeler...

 

Dit som miskien ten beste die eindstryd van die Super 14 op, wat as rugbyskouspel dalk nie geslaag het nie, maar waar die sterker span waarskynlik as die wenners van die veld gestap het.

Dat die Bulle suksesvol kon skop en storm, moet nie die illusie laat dat dit in enige span se broek sit om dieselfde te doen nie. Vra maar die Cheetahs wat wedstryd na wedstryd ook so probeer maak en in die proses met mamparraskoppe besit aan die opponente present gegee het. Eers laat in die reeks het die Cheetahs hul eie rugby begin speel en weer begin wen.

Die Bulle se skoppe was meestal op 'n tiekie, met 'n hele bondel naelende Bulle wat meeding wanneer die bal net buite die Stromer-kwartlyn afkom, met nog 'n bondel om enige moontlike stroomop-aanvalle in die kiem te smoor.

Die gevolg was dat die Stormers, in plaas van aanval met die balle wat hulle wel kon bemeester, benoud mamparraskoppe geloods het.

Tog...met die skoppery het die Stormers twee drieë teen een gedruk. Trouens, so hitte-titte was daar nog 'n drie of twee teen die Bulle op die telbord.

Die Stormer-base sal seker hul hare uit hul kop trek dat hulle JC Kritzinger as impakspeler opgestuur het. Dié knaap het gevou en Morné Steyn kon die telbord na vallende skrums aan die gesels hou. Boonop het Bekker en Duanne Vermeulen losskrum-sotlikhede begaan wat nog ses punte gekos het.

Maar in alle eerlikheid, as die Stormers die pyp gerook het, sou dit nie die verhaal vertel het nie.

Die Bulle het van die begin tot die einde die Stormers se agterlyn bitter min beweegruimte gegee. Wanneer dit lyk of die Stormers besit vir 'n agterlynaanval het, is die Bul-agterlyn versterk en het dit soms gelyk of daar 'n stuk of 20 manne is wat agterlangs 'n muur vorm.

Die Stormers se taktiek om met voorspelers die bresse agterlangs te slaan, het net meer tyd aan die Bulle verskaf om die verdegingslinie op te stel. Die Stormer-voorspelers wat in die agterlyn geboer het, het op die uitsondering na van Bekker, min deurdringingsvermoë getoon, en die bloot die spoed waarmee die bal agterlangs versprei is, vertraag.

Waar die opstuur van Kritzinger 'n blaps was, was die laat opstuur van Deon Fourie as plaasvervanger-haker ewe-eens 'n blaps. Tiaan Liebenberg was gebruiklikerwys 'n yster, maar Fourie se impak was uitsonderlik.

As in gedagte gehou word dat daar nog spelers van formaat in ander Suid-Afrikaanse spanne en oorsee is, is dit duidelik dat 'n Springbokspan van gehalte met nog volop diepte gekies kan word. Dit is nie nodig om ander toetslande met eksperimentele en raap-en-skraapspanne aan te durf nie.

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL