praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Sport Rugby

Rugby

Stormers hou die fort Doeroender

E-pos Afdruk PDF

Dit is ’n beproefde waarheid in voetbal dat ’n goeie offensief wedstryde wen, maar ’n hegte verdediging wen toernooie. In die wortel van dié twee benaderinge is daar uiteenlopende strydfilosofieë: Die aanvallende span reken daarop om te wen deur meer punte as die ander span te kry terwyl die verdedigingsgesinde span daarop ingestel is om te sorg dat die ander span minder punte as hulle kry. Die Reds het verlede jaar, in weerwil van bogenoemde aanname, die Super Rugby-toernooi aanvallenderwys gewen met ’n offensief wat om die oëverblindende hanteer- en voetwerk van Quade Cooper gekonstrueer was. Hy is tans op die kroklys, maar nog steeds probeer hulle die aanvallende voetbal van verlede jaar speel. Die lollery is wanneer hulle nou teen ’n goed-georganiseerde verdediging te staan kom en dis wat vroeër vandag in Australië teen die Stormers gebeur het.

Die Rooi wedstrydstrategie was ’n eenvoudige een: Kry die bal en hou aan daarmee dryf en hardloop totdat daar ’n bres in die verdediging verskyn. Wel, die Stormers-verdediging was ’n slot waarvoor die Reds nie ’n sleutel kon vind nie. Sodra die Reds in aanvalsformasie kom, vorm die Stormers se verdediging op, ongestoor, ongejaag, presies seker waar die brandpunte in die offensief is en hoe hulle dit gaan snuit. Hulle het so ’n goeie begrip van die ruimtes tussen hulle dat die lyn, of soms die kurwe, deurentyd heg bly. Dit is ’n plesier om hierdie verdedigers aan die werk te sien. Daar is nie een werklik verwoestende verdediger onder hulle nie – Juan de Jongh kom seker die naaste daaraan – maar die verstandhouding, vertroue en kommunikasie tussen die verdedigers is op die kop. Wanneer ’n aanvaller in die skootsvak kom, word daar oombliklik besluit wie sy pale gaan lig.

Daar is egter nóg ’n element in die verdediging en dit is die swerwende jagters. Selfs wanneer die verdedigingslinie faal, is dié verdedigers volspoed in posisie om die ontsnappende aanvaller neer te vel.

Die Stormers verstaan ook dat die werk nie klaar is wanneer die bal grond toe gaan nie. Die losbal word genadeloos gejag, nie net deur die losvoorspelers nie, maar deur elkeen binne trefafstand. Die Reds het net nooit die luuksheid gehad om ’n bal te laat rondlê nie en dit was veral Tiaan Liebenberg en Gio Aplon wat vinnig op los goed geteer het. Boonop het die Stormers die vermoë ontwikkel om rondom die losskrum met vinnige verdediging te verras. Telkemale is ’n Reds-speler afgehaal om te sien dat hy die bal afgestaan het omdat ’n verdediger opgeduik het net waar hy nie verwag of gewens was nie. Dit het alles veroorsaak dat die Reds se tyd om ’n aanval in te rig baie beperk was.

Einstein het gesê dat ’n kranksinnige mens iemand is wat ’n eksperiment oor en oor herhaal en elke keer ’n ander uitslag verwag. Om deurlopend aan te val met dieselfde resultaat – nóg ’n uitgedoofde aanval, nóg ’n verlore bal, nóg ’n bal wat skielik terug geskop word oor al daardie meters wat jy so duur gekoop het – laat ’n span naderhand effens mal voorkom en dis wanneer ’n speler wat normaalweg nugter dink, soos Will Genia, sotlikhede aanvang, soos om te reken hy kan die vlakopstormende Stormers-linie koudsit met ’n boogskoppie uit sy eie kwartgebied. Die gevolg was ’n teenaanval waarin Kitshof, die jong kerriekopstut fyntjies langs die kantlyn afgetrippel het, op een of ander manier binne gebly het en die bal aangestuur het na Aplon wat weer sy aangee te midde van ’n sweepslaglak nie vir iemand nie, maar na ’n algemene area, gegooi het waar dit tog opgeraap is en die ander aanvallers kon deurslaan. Uiteindelik was dit Peter Grant wat tussen oorhoopse Reds-verdedigers deurgedwaal het vir ’n drie.

Die Stormers se ander drie was ’n langafstandspanpoging wat uiteindelik voltooi is deur Gio Aplon. Grant se korrel was die hele aand in en na al die Reds se harde werk was dit die Stormers wat gaan lemoenskyfies eet het met ’n voorsprong van 17-3.

Toertamheid het die Stormers in die tweede helfte gevang en van teenaanvalle was daar nie sprake nie. Hulle is verrinneweer in die skrums en het net soms hulle eie lynstaanballe gewen. Maar die verdediging het steeds gehou. Die Reds se enigste drie was nie die vrug van volgehoue, deurpriemende aanvalle nie, maar van ’n lynstaanblaps deur die Stormers net buite hulle doelgebied. Deon Fourie het die bal eenvoudig oor sy slotte gegooi tot waar James Horwill losgestaan en die bal sonder ’n verdediger voor hom gevang het. Vyf maklike treë vir ’n drie.

Dit was die Reds se enigste punte in die tweede helfte en die Stormers kon self net twee strafskoppe se punte insamel vir ’n 23-10 oorwinning.

’n Mens sou wou sien dat die Stormers se gevaarlike agterlyn meer bestendig begin vuur. Maar selfs sonder trosse drieë, as dit bloot van hulle verdediging afhang, kan die Kapenaars hierdie jaar dwarsdeur druk en die hand aan die trofee slaan.

Rugby: Haaie skraap deur teen Brumbies

E-pos Afdruk PDF

Haaie 29, Brumbies 26

Ag, sal iemand tog met die Haaie, veral hulle agterste driehoek, hulle voorspelers en hulle losskakel praat? En ek bedoel, praat stadig met groot gebare en, indien nodig, teken prentjies. Want blykbaar verwar die regstreekse uitskopreël hulle. Telkens, wanneer hulle die bal met die afskop ontvang, dryf die voorspelers waaghalsig tot net oor die kwartgebiedstreep, gee die bal terug tot in die kwartgebied en dan moet die arme ontvanger die bal binneveld hou. Dit beteken dat hulle sekondes later hulle doellyn met mag en mening moet verdedig.

Hierdie eenvoudige wanbegrip het vanoggend (Boeretyd) hittete veroorsaak dat die Haaie verkleineer is met een van voetbal se vernuftigste Houdini-toertjies. Die Natallers was 29-19 voor met minute op die stophorlosie oor. Riaan Viljoen, heelagter, ontvang ’n diep bal in sy eie kwartgebied. Hy moet: A) Die bal terugsool, regstreeks oor die kantlyn naby of oor die middellyn skop waar die Haaie die lynstaan kan betwis, of B) Hy moet die bal gryp en terwyl daar geen druk op hom is nie tot buite die kwartgebied storm en die bal luglangs oor die buitelyn skop. So wat doen Riaan, hmm? haa? Natúúrlik! Hy B verskriklik en nou is daar ’n Brumbie-lynstaan net buite sy kwartgebied. Die Wildeponies val uitgelate aan, die Haai-verdediging stotter en die skrumskakel Nick White glibber deur vir ’n drie wat sy span binne vyf punte van die Haaie bring. Te midde van die jubelinge gryp iemand die bal en vervyf dit sommer met ’n skepskop. Oomblikke later tjank die sirene en die Haaie móét afskop en mág nie die bal regstreeks uitskop nie. Die Brumbies val van 85 meter af aan en op die ou end is dit net ’n diep aanslaan in die Haaie se kwartgebied wat die eindfluitjie laat lawaai. Maar dit was net te naby...

Die Haaie se taktiese skopwerk was, om presies te wees, van meet af pateties. Veral Frederic Michalak het die Haaie se verlange na die beseerde Patrick Lambie baie akuut gemaak. Of hy gejaag is en of hy tyd het, Michalak het die een bisarre skop na die ander met ’n boepensboog die middelveld in gepos. Die Brumbies het die bal gul ontvang en het met die een diep aanval na die ander losgebrand. Dit was net hardekwasverdediging deur veral die voorspelers en ’n paar keer wat die Haaie die Brumbies se bal op die grond vervreem het, wat die Natallers se aanspraak in die wedstryd lewend gehou het. Hieruit het hulle twee interkontinentale drieë gedruk, die een regoor die maksimum afstand toe hulle die balle uit Brumbie-hande oor die Haaie-doellyn geruk het. Slot Sykes het langs die kantlyn afgerammel en is uitasem gejag deur die buitesenter en Jesse Mog, die heelagter. Hy het kop en bal gehou totdat die verdedigers se hande omtrent om hom was voordat hy met ’n netjiese aangee vir Lwazi Mvovo gevind het. Dié het gehardloop asof twintig Dobermanns agter hom aan was en het ’n drie gedruk wat die Brumbies swaar gekwes het.

Vroeër het Odwa Ndungane ’n mog’t-troffe aanslag op die bal tussen twee Brumbie-aanvallers geloods en dit onderskep. ’n Jonger Ndungane sou net daar ontvlam het om die resies na die hoekvlag te wen, maar die 2012-model het binnekant toe gedryf en vir Riaan Viljoen gevind wat genoeg ratte gehad het om deur te spaander vir ’n drie. ’n Derde van die Haaie se vier drieë is gedruk toe Speight, die Brumbies se vleuel nie ’n tollende, wippende bal in sy eie kwartgebied bymekaar kon maak nie en Willem Alberts van alle mense, soos ’n seekoei wat ballet, hom van agter bekruip het, die bal met ’n delikate toon vorentoe geknikker en toegeval het. Drie van die Haaie se vier drieë dan, was nie oorwegend die resultaat van goeie afronding van skrander planne nie.

Die Brumbies self het net twee drieë gedruk; die een dié van Nick White en dan ’n  skitterende skop-, jaag- en vangpoging deur heelagter Jesse Mogg, ’n  drie wat nog merkwaardiger sou gewees het as hy nie die bal met ’n  blatante vorentoe-aangee ontvang het nie.

Die Haaie maak meer staat op hulle brekers soos Bismarck du Plessis, Willem Alberts en Marcel Coetzee as op ’n  goedingestudeerde wedstrydplan. Die Brumbies, daarenteen, is goed afgerig en planmatig, veral vinnig en akkuraat op die aanval. Dit is net die Haaie se verbetenheid wat die Canberra-span in toom gehou het.

Die Haaie het nog nie hulle persoonlikheid as span ontdek nie. Is hulle ’n  aanvallende span of is hulle een wat beter toegerus is om ’n  telling te verdedig? Dis moeilik om vas te stel. Hulle het nie die Vrystaat se flair op die aanval, die vermoë om soos die Bulle die vyand met skoppe en offensiewe verdediging in hulle eie kwartgebied onder kwarantyn te hou of om soos die Stormers hulle lyn onbepaald te verdedig nie. Hulle gaan bitter gou hulle sterkpunte moet ontdek en uitwerk hoe om ’n  wedstryd rondom dit te smee.

Tog, met die twee Du Plessis’s, ’n  Willem Alberts, ’n  Marcel Coetzee en ’n  paar ander spelers wie se baarde begin hard word, sal geen span hulle as sawwe prooi beskou nie.

Die vraag is of die Haaie bestendig genoeg goeie voetbal oor lang periodes kan speel. Vandag het hulle dit net met tye reg gekry en dit het gewerk. Maar tans lyk dit nie goed genoeg om ’n  ferm aanspraak op die titel te hê nie.

Rugby: Die Laastekwartierbewerasies en hoe om dit te voorkom

E-pos Afdruk PDF
Oor die naweek is daar sewe Super Rugby-wedstryde gespeel en ses van die verloorspanne het ’n bonuspunt vir ’n goeie nederlaag gekry. Dit wil sê, hulle het met sewe punte of minder verloor. In hierdie ses wedstryde was die gemiddelde punteverskil net meer as vier per wedstryd. Suid-Afrikaanse spanne het in vier wedstryde meegeding, insluitende ’n binnelandse tweegeveg tussen die Leeus en die Stormers. Drie van dié spanne – Die Cheetahs, Haaie en Leeus – het verloor, met die Kolletjieskatte van Bloemfontein wat die ergste loesing op die lyf geloop het, en dit was met sewe punte.

Die punt is, Suid-Afrikaanse spanne is net te geneig om verwoed vir die uitslag van ’n wedstryd in die laaste vyftien minute te moet spook. Dikwels het hulle die geleenthede gehad om die wedstryd alreeds teen hierdie tyd toegerits te hê. Dis asof die Suid-Afrikaners gerieflik voel om die uitslag in die loopgraaf van die Laaste Kwartier uit te baklei. As daar strategieverskille onder die spanne is, dan is dit vir die Leeus, die Stormers en die Haaie om skraal voorspronge te probeer beskerm en vir die Cheetahs om in die pylvak aan te val om hulle snoete net voor die eindsirene voor te kry.

Die een span wat regtig moes gewen het, maar tekort geskiet het, was die Haaie teen die Waratahs in Sydney. Die Haaie was vir lang grepe van die wedstryd behoorlik in beheer. Hulle vaste vyf, met Bismarck du Plessis heel vooraan, het die Aussie Ligbloues behoorlik verdruk en op losskakel het Patrick Lambie die balvloei knap gereguleer om sy snellers gereeld in posisie te kry. Dit was net asof hulle telkens die voet van die keel gelig het. Die probleem is miskien die oudste onbesonnenheid van Suid-Afrikaanse voetbal: Die voorliefde om in puntebeskermingsmodus in te gaan deur die bal te probeer diep skop en om dan ’n verdedigingslinie regoor die veld te span in ’n poging om die teenstanders in te hok.

Saterdag het die Haaie, met tien minute om te speel, nadat Patrick Lambie drie punte met ’n strafskop gemaak het, 30-27 voorgeloop. Dit wat gevolg het, was alte voorspelbaar. Hulle het eenvoudig die bal aangegee na die Waratahs en as’t ware daarmee gesê: Doen julle bes. Dis tyd dat die Haaie besef hulle het nie die verdedigingspotensiaal om ’n verbete inbreker onbepaald uit die spens te hou nie. Die probleem is dat hulle verdedigingslyn net te buigsaam is. Die spelers bly in posisie ja, en dis nie dat onnodige gate daarin val nie, maar wanneer vinnige of swaar aanvallers die linie tref, buig dit terug tot agter die oorpronklike skermutselingslyn. Die verdedigers ontvang die aanvaller, eerder as om hulle te gaan jag. Die gevolglike momentum is dus aan die kant van die indringers en as hulle geduldig is, dryf hulle die Haaie met snelherlaaifases terug tot in die kwartgebied waar die uitslag oor die laaste vesting, die doellyn self, beslis word.

Die Haaie is nie die beste span in hierdie soort uitmergelende stryd vir die laaste paar sentimeters nie en Saterdag het die laaste linie onvermydelik gevou en ’n laaste, noodlottige drie ingelaat. Die Haaie het ’n wedstryd uit die hounet laat glibber. Hulle sal moet leer om die laaste kwart van die wedstryd soos die eerste driekwart daarvan te benader. Hierdie is ’n span wat gevaarlik op die aanval is. Die voorspelers hersirkuleer die bal behendig genoeg, voor- en agterhoede skakel vloeiend en hulle het genoeg knal om drieë uit die agterste driehoek te druk. Die grootste dividend is natuurlik dat wanneer hulle knaend aanval, hulle nie knaend hoef te verdedig nie.

Die Cheetahs voorkom die noodsaak om ’n klein voorsprong vir die laaste kwartier te verdedig deur te sorg dat hulle nie net-net voor is nie, maar net-net agter. Dan is dit hulle wat wild en woes vir ’n deurbraak aanval. In hulle vorige wedstryd, teen die Rebels, het hulle die wendrie – ’n ware mirakelpoging – met die kwynende eggo’s van die laaste sirene in hulle ore gedruk. Saterdag, teen die Crusaders kon hulle nie dieselfde knoop deurhaak nie. Die Jagluiperd is ’n jagdier en die gedagte inspireer die gelyknamige span blykbaar om die teenstander voor hom te laat uitkom en hom dan agterna te sit en plat te trek. Soms is hulle net te ambisieus en laat hierdie voorsprong net te groot word. Die Cheetahs het hierdie keer die Crusaders amper oor die kim sien verdwyn met ’n 18-punte gaping.

Hierdie week gaan Todd Blackadder se span hulle kop krap en dinge wat nie stukkend is nie, probeer regmaak. Die Vrystaters het eenvoudig deur gapings gehardloop wat nie bestaan nie om drieë te druk wat nooit moes gewees het nie. In sekerlik een van die jaar se beste drieë tot nog toe, het hulle uit hulle eie kwartgebied weggebreek en Johan Goosen, Andries Strauss en Willie le Roux het een-twee, een-twee met mekaar teen die linkerkantlyn af gespeel, die verdedigers se koppe dronk gedraai en net nog ’n paar meter gewen waar daar niks beskikbaar was nie, totdat Goosen dit agter die kalk afgerond het. Daar is niks fout met Crusader-verdediging nie. Hierdie was net ’n onweerstaanbare drie. Op 21 elk het die Cheetahs die Crusaders egter een keer te veel toegelaat om voor te trek en dié keer kon hulle nie die agterstand uitvee nie. Wanneer hulle moes verdedig, het die Cheetahs dit venynig volgens die ou beproefde metode gedoen: Hulle val die bene van die aanvallers aan. Hulle het net nie die strukturele hegtheid in verdediging nie en daarom ontstaan daar soms ontoestopbare skeure in hulle keerlyne.

Die een Suid-Afrikaanse span wat ’n voorsprong in die laaste kwartier kan verdedig, is die Stormers. Hulle voorspelers werk hard saam om die opponerende vaste vyf se dryfaanslae te smoor, die losvoorspelers is doeltreffende verdedigers om die buitewyke van skrum, losskrum of losgemaal en die agterlyn is goed georganiseer. Saterdag het hulle binne 25 minute ’n speling van 18 punte teen die Leeus se nul gehad. Vir hulle was dit heel aanvaarbaar om nie die voorsprong nie net vir die laaste kwartier nie, maar vir die hele tweede helfte te verdedig. Die Leeus het geslaan en geslaan en geslaan maar die naaste wat hulle aan die Kapenaars kon kom was 16 punte teenoor 18. Twee laat strafskoppe het hulle ’n onuitwisbare agt punte voor geplaas, en steeds het hulle die Leeus uit die doelgebied gehou. Die Transvalers moes uiteindelik tevrede wees om ’n bonuspunt met ’n skepskop te smee. Die Stomers het die wedstryd hoofsaaklik aan 120 suksesvolle lakke te danke.

Daar is een ander benadering tot hierdie laastekwartierkonundrum: Sorg dat jy voor, ver voor, is en dan teken jy nog meer punte aan. Die Bulle het gewys hoe om aggressiewe verdediging as aanvalsmetode te gebruik. Hulle het in die eerste deel van die wedstryd die Reds eenvoudig pap geduik. ’n Red wat die bal op die aanval gedra het, is nie geabsorbeer soos wat die Haaie dit doen, of by die enkels afgesny op die Cheetah-manier nie, nee, hy is oombliklik gestuit, gelig en agtertoe geblaas asof deur ’n toegespitsde orkaan, en dan is met sy liggaam ’n duik in die speelveld geslaan. Daarmee het nie net hulle harte op die aanval gefaal nie, hulle het ook alle smaak vir die verdediging verloor. Hulle kon dit eenvoudig nie in hulleself vind om elke sentimeter grondgebied met durf en daad te beding nie. Die Bulle het hulle eenvoudig eers moeggedryf en toe kis gehardloop. ’n Wentelling van 61-3 is ’n sterk aanduiding dat daar nie erg aan Pretoriase naels in die laaste kwartier gekou is nie.

Die gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word is: Die beste manier om die laastekwartierbewerasies te voorkom is om vroeg in die wedstryd baie punte aan te teken en, wanneer die laaste vyftien minute van die wedstryd aanbreek, nog meer punte te kry.

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL