praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Sport Krieket Kiwi’s goed, maar nie goed genoeg vir SA nie

Kiwi’s goed, maar nie goed genoeg vir SA nie

E-pos Afdruk PDF

Vroeg in die vyf-en-veertigste beurt van hulle kolfbeurt (ja, met krieket kry jy beurte ín beurte; dis belangrik en ons kom weer daarby) het Faf du Plessis ’n bal van Nieu-Seelander Kane Williamson haaks na die bykant gestoot om Suid-Afrika se wenlopie aan te teken. Dit het een van die opererende beginsels van krieket – van enige spansport – ingevryf: Vir ’n goeie span om ’n baie goeie span te klop, moet hulle baie goed speel. Vir ’n baie goeie span om ’n goeie span te klop, hoef hulle net goed te speel. En as ’n goeie span net goed speel, is hulle enigste kans om ’n baie goeie span te wen as dié pleinweg vrot speel.

Nieu-Seeland is ’n goeie span en Suid-Afrika is ’n baie goeie span. Gedurende die pasafgelope T-20-reeks het Nieu-Seeland in die eerste een baie goed gespeel, Suid-Afrika het vrot gespeel en Nieu-Seeland het net-net gewen; in die tweede het Nieu-Seeland baie goed gespeel en Suid-Afrika het baie goed gespeel en maklik gewen; in die derde het Nieu-Seeland baie goed gespeel en Suid-Afrika goed en Suid-Afrika het net-net gewen.

Vanoggend (Boeretyd) het Nieu-Seeland goed gespeel, maar dit was nie genoeg nie want Suid-Afrika het ook goed gespeel en maklik gewen. Dít som Nieu-Seeland se penarie teen Suid-Afrika op, ’n verknorsing wat net gaan verhewig hoe meer die spanne teen mekaar speel en hoe langer die wedstryde word. Suid-Afrika gaan vir lang tye triestige krieket moet speel om nie al drie die aankomende toetse te wen nie.

Nieu-Seeland, wat in 2005 laas ’n wedstryd op die Westpac-stadion in Wellington verloor het, het die loot gewen en manhaftig besluit om te kolf – lopies op die telbord, en al dié tipe ding, jy weet. Nieu-Seeland se lopieverkrygingstrategie is eenvoudig: Guptill en McCullum moet groot beurte speel en ’n halfdosyn ander kolwers moet bydra met gewigtige klein tellings. Guptill het nie lus gelyk hiervoor nie; nie teen ’n skroeiende Suid-Afrikaanse openingsaanval deur Tsotsobe, Morkel en veral Dale Steyn nie; nie met ’n blad wat die bal laat opspoeg en laat swaai het nie. Hy maak toe ’n strategiese onttrekking deur ’n Tsotsobe-aflewering saggies en teer op te kerf na De Villiers agter die penne.

McCullum het diep gesluk, goed gespeel en 56 lopies gekry. Williamson het wonderlik gespeel en 55 lopies gekry. En dit was maar eintlik al. De Villiers het sy boulers skrander aangewend en omgeruil en telkens ’n manier gekry om die Kiwi’s te ontwapen net sodra dit lyk asof hulle ’n beduidende vennootskap gekonstrueer kry. Hy het veral vir Steyn gereserveer vir die groot oomblikke – vir die beurtklimaks en tydens die versnelbeurte.

En nou moet ons eers praat oor die begrip “beurte” in krieket. Een van die innoverings van eendagkrieket is in Engels bekend as ’n “power play.” Dit is trosse van vyf of tien beurte waarin veldwerkbeperkings vir die kolwers kans gee om makliker en vinniger lopies aan te teken. Vir die afgelope tien jaar sukkel die Afrikaanse kommentators vir ’n gepaste vertaling. Tans berus hulle in ’n erg onoorspronklike en verbeeldinglose “kragspel” om dit te beskryf. Dit is tog duidelik dat die doel van dié tros beurte nie is om krag te vertoon nie, (nie eens “power” nie), maar om vinniger lopies te maak, d.w.s. om te versnel. So, “power play” is “versnelbeurt.” Hoor ek reeds hoe sê mense vir my dat dit veroorsaak dat daar beurte in ’n beurt is. Ja. Maar dié is daar reeds. Jy kry boulbeurte in ’n kolfbeurt en nou kry jy boulbeurte in ’n versnelbeurt en versnelbeurte in ’n kolfbeurt. Kom ons aanvaar dit nou maar so.

Nieu-Seeland het (vir hulle) ’n baie goeie en (vir Suid-Afrika) ’n baie gemiddelde telling van 253 gebank. Die Kiwi’s het duidelike doelwitte gehad om die Proteas onder dié telling voor te keer, waarvan die vernaamste was om drie paaltjies binne die eerste tien beurte van Suid-Afrika se beurt (sien!) te kry. So gedaan met Amla, Smith en Kallis wat tussen hulle presies 30 lopies aangeteken het. Kallis het gesneuwel met ’n wanberekende trekhou, ’n skoot wat hy meestal sal bêre. Maar Amla, en in ’n baie groter mate, Smith sal moet besin oor hulle eendagkolfbenadering.

Die Moslem het ’n uitstaande kolfgemiddeld en is op meriete gelys as die beste eendagkolwer in die wêreld. Tog is dit asof hy gedring voel om flambojant en aggressief, ongeag die situasie, te kolf. Hy lyk elke keer goed op dreef, en hy is, behalwe vir die irriterende en skadelike gewoonte om sy paaltjie te verloor. Hy doen dit darem op ’n vermaaklike verskeidenheid maniere en vanoggend was dit ’n delikate skramskootjie van kolf na wegpen gekap. Hy sal goed vaar om ag te slaan op daardie vervelige ou geykte wenk: Konsentreer van vooraf meer op die basiese dinge van krieket en die vreugde sal volg. Op die oog af is hy ’n verstellinkie en ’n instellinkie van sy gedugte beste af. Helaas, so is dit nie met Smith nie.

Hy is vanoggend weer op sy ou gunstelingmanier uit met ’n geslote kolfaansig wat ’n bal van die buiterand af glippe toe piets. Ek het nog altyd ’n waardering gehad vir ’n goeie speler met ’n lastige tegniekgebrek – iets soos Paulus se angel in die vlees. Jonty Rhodes moes iets baie soortgelyk as Smith oorwin. Hy het ook ’n oordrewe onderhandgreep gehad, maar hy het uitgewerk hoe om die kwesbaarheid daarvan te beperk terwyl hy die voordele daarvan kon beklemtoon. In die tweede helfte van sy loopbaan was hy die beste beurtafsluiter ter wêreld met ’n gemiddeld van meer as 80.

Smith se kwesbaarheid is besig om sy loopbaan te ondermyn en sy kolfgemiddeld is nou onder 40 (baie goed as hy ’n Kiwi was, maar onaanvaarbaar vir ’n Suid-Afrikaanse oopmaakkolwer.)

Met die Kiwi’s in vervoering oor hulle sukses het AB de Villiers en JP Duminy begin om die kolfbeurt te lap. Duminy het verbete sonder enige noemenswaardige tydsberekening geswoeg. Al dié wroeging was karige betaling om die oorkantste kolfkampie dop te hou, want AB de Villiers het, doodeenvoudig, ’n kolfmeesterklas gegee. Daar is nie nog ’n kolwer tans in wêreldkrieket wat sy spel kan vorm om die situasie te pas soos die SA kaptein nie.

O, daar is ander verwoestende kolwers: Gayle, Sehwag, Warner en deesdae ons eie Levi, maar AB op sy dag kan saam met die beste tonk. Nie een van die ander kan ’n beurt saamstel soos AB nie. Hy het enkellopies gekry waar enkellopies te kry was, ’n vier of twee toe dit nodig was, vier sesse toe die Kiwi’s dit regtig nie nodig gehad het nie. Duminy het uiteindelik die aftog geblaas op 46, wat op ’n manier goeie tydsberekening was, want toe stap Faf du Plessis in. Wat ’n irriterende kolwer om teen te boul! Hy wip hiperaktief rond in die kolfkampie, spring oor na die wegpen en druk die bal om die paaltjies na die bykant toe; bons oor na die bypen en sny die bal deur die wegkant; storm ’n vinnige bal en slaan dit oor die binnekringveldwerker...

Die vorige keer wat Du Plessis en die Kiwi’s mekaar in die oë gekyk het, het die Swart Pette gesmaal, want toe het Faf sopas vir AB in die kwarteindrondte van die wêreldbeker uitgehardloop en daarmee die slag aan die Nieu-Seelanders oorhandig. Dié verkleinering is nie nou meer voor in die Nieu-Seelandse gemoed nie. Daarvoor het Faf hulle te vrolik gestraf vir sy 66 nie uit nie.

Suid-Afrika sou in alle waarskynlikheid 300 lopies of meer kon jaag – Albie Morkel was, byvoorbeeld, nog in reserwe. Maar dit was nie nodig nie. Nieu-Seeland het bloot goed gespeel, en teen ’n baie goeie span soos Suid-Afrika is goed net nie goed genoeg nie.

blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: