Jy is hier: Sport Krieket

Krieket

Proteas blom met besige tydjie wat voorlê

E-pos Afdruk PDF

Die Proteas het die eerste toets teen Wes-Indië op die vierde dag van die wedstryd wat in Trinidad gespeel is, in die sakkie toegeknoop. Die Wes-Indiërs is met 163 lopies met die kous oor die kop huis toe gestuur.

Dale Steyn, wat met sy vyf paaltjies in die eerste beurt sy 200ste toetspaaltjie platgetrek het, is met ‘n wedstrydontleding van agt vir 94 as die man van die wedstryd aangewys.

Iemand wat egter self in aanmerking moes kom, is die tuisspan se Sullieman Benn, wat self agt paaltjies platgetrek het, maar ‘n honderd lopies meer as Steyn afgestaan het. Benn het ook ‘n rekord agste paaltjie vennootskap van 66 lopies teen Suid-Afrika met Shane Shillingford gedeel.

Die Wes-Indiërs het die wedstryd sonder verskeie van sy topspelers aangepak.

Intussen het Krieket SA ‘n besige program vir die Proteas aangekondig. Drie toetse word teen Indië gespeel, onder andere een in die nuwe Moses Mabhidastadion in Durban om die 15oste herdenkingsjaar van die aankoms van Indiërs in Suid-Afrika te vier. Indië word ook in vyf eendagwedstryde die stryd aangesê, Zimbabwe in drie, en dan word Pakistan in vyf eendagwedstryde in die Verenigde Arabiese Emirate die stryd aangesê.

By die wedstryd in die Moses Mabhidastadion word die nuwe kompetisie om die Krish Mackerdujtrofee geloods, en die grootste skare verwag wat nog ‘n krieketwedstryd in Suid-Afrika bygewoon het.

Krieket: As die stert die hond swaai

E-pos Afdruk PDF
"Die stert swaai nou al te lank die hond."

 

So stel 'n sportskrywer die situasie waar die Proteas se senior spelers skynbaar so magtig geword het dat die afrigters deurentyd op dun ys en die keurkomitee die trekpas gekry het.

Die boodskap is skynbaar: Vat aan Graeme Smith, Jaques Kalis en sy boesemvriend Mark Boucher, en jy is in die sop.

Dié situasie skep veral in Pro-20-wedstryde probleme wanneer een of meer van die toporde-spelers nie die lopiekraan oopgedraai kry nie, en uiteindelik van Albie Morkel verwag word om die onmoontlike reg te kry.

Al hoe meer vrae word oor Smith se kapteinskap gevra.

Toegegee, Suid-Afrika se krieket- en rugby-ondersteuners is enkeldimensioneel. Solank hul spanne wen, is alles klop-disselboom. Verloor hul span egter, is die lang messe uit en word vir lykskouing ingespan.

Wanneer 'n patroon egter ontwikkel, kan leunstoelkritiek egter nie onder die mat ingevee word nie.

Die probleem kan basies soos volg opgesom word: Te veel sektorale belange moet gedien word. Daar moet ten eerste nie aan die senior speler-Sanhedrin getorring word nie, kwotas moet in die oog gehou word, gekontrakteerde spelers moet speelkans kry en oplaas, in krieket is dit noodsaaklik dat jong vormspelers die aansporing van blootstelling kry. Vir laasgenoemde is daar, veral in wêreldbekertoernooie, nie nog plek ook nie, met die gevolg dat te veel spelers wat die kluts kwyt is, weens die ander belange die wa deur die drif moet trek.

Vandat AB de Villiers die handskoene teen die Wes-Indiërs by Mark Boucher oorgeneem het, wen die Proteas weer. AB is ongetwyfeld 'n beter paaltjiewagter as Boucher, en die keurders kan as AB agter die paaltjies stelling inneem, nog 'n spesialiskolwer inspan, Boucher se geskiedenis met die kolf ten spyt.

Spelers wat groter as die spel geword het, het die Bafana Bafana lank in die woestyn laat beland. Eers toe die prima donnas van die koring geskei is, kon aan die span se vertoningslys gewerk word. Krieket, so lyk dit, is nou by dieselfde kruispad.

Van Zyl bly aan as afrigter

E-pos Afdruk PDF

Krieket SA het Vrydag aangekondig dat Corrie van Zyl tot April 2011 sal aanbly as waarnemende breier van die Proteas.

Van Zyl is as waarnemende afrigter van die Proteas aangestel ná die skielike bedanking van Mickey Arthur verlede maand.

Die raad van Krieket SA het ook na afloop van hul jaarvergadering gesê dat Graeme Smith sal voortgaan om die Proteas te lei tot aan die einde van volgende jaar se Wêreldbeker in die Wes-Indies terwyl Jacques Kallis as onder-kaptein aangestel is.

Ses nuwe spelers is ook tot die lys van kontrakspelers vir die 2010/11 seisoen bygevoeg. Hulle is Loots Bosman, Alviro Petersen, Charl Langeveldt, Ryan McLaren, Roelof van der Merwe en Rusty Theron.

Kontrakspelers vir die Proteas in die 2010/11 seisoen is: Graeme Smith (kaptein), Jacques Kallis, Hashim Amla, Lungile (Loots) Bosman, Johan Botha, Mark Boucher, AB de Villiers, Jean Paul Duminy, Herschelle Gibbs, Paul Harris, Charl Langeveldt , Ryan Mclaren, Albie Morkel, Morne Morkel, Makhaya Ntini, Wayne Parnell, Alviro Petersen, Ashwell Prince, Dale Steyn, Rusty Theron, Lonwabo Tsotsobe, Roelof van der Merwe.

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL