Die Proteas-krieketspan het verlede maand die seile vir ’n belangrike sending na Nieu-Seeland gespan. ’n Blote oorwinning oor die Swartpette, wat toe hoog in hulle eie oë gevlieg het na ’n fratsoorwinning teen die Australiërs in Tasmanië en ’n genadelose afranseling van Zimbabwe, was die eerste, maar geensins belangrikste of veelseggendste, prioriteit. Wêreldranglysposisies in alle lengtes van die sport was voorop in krieketgemoedere. Die sendingopdrag was duidelik: Wen elke wedstryd. Met die finale syfers in het die Suid-Afrikaners net een wedstryd verloor – die eerste en grootliks onbenullige T20-raairaairiepa. Hulle het die eendagreeks oorheers en die toetsreeks een-nul gewen nadat twee van die wedstryde tot onbeslistheid uitgereën is. Al wat nou oorbly is die ontledings van wedstryde gespeel, balle geboul, lopies versamel en vangskote geneem of verbrou, en, allerbelangrik, van voorafontwerpte en toegepaste strategieë.
Daar bestaan nie ernstige twyfel dat Suid-Afrika die orige twee toetse, as dit nie vir die reën was nie, ook sou gewen het nie. Met al die inligting beskikbaar, en kolf- en boulvertonings in ag geneem – sou Nieu-Seeland tekort geskiet het in die eerste toets wat deur reën gekortwiek is. Hulle moes meer as 400 lopies in hulle tweede beurt jaag en hoewel veral Brendon McCullum voortreflik gekolf het, is dit redelik om te verwag dat die Suid-Afrikaanse offensief wééreens net te skerp, net te doelgerig, net te dodelik sou wees.
Die laaste toets was nog meer in die Protea-rigting gekantel. In die eerste twee dae het die reën ’n hap van ten minste 80 boulbeurte uit die wedstryd geneem. As Suid-Afrika net nóg, sê maar twintig boulbeurte met die nuwe bal gehad het, sou die Kiwi’s se kolfweerstand in alle waarskynlikheid ontbind het. Tog, as daar enige kritiek Graeme Smith veral en sy span in die geheel toekom, is dit die manier waarop hulle die laaste kolfbeurte van die toer bestuur het. Krieket, selfs oor vyf dae, word dikwels deur die kleinste optrede of voorval deurslaggewend beïnvloed.
Martin Gillespie sal nooit weer ’n meer veelreikende lopie slaan as die een aan die einde van die Nieu-Seelanders se voorlaaste beurt nie. Dié enkellopie het die opvolgbeurt vir sy span afgeweer. Omdat hulle 199 lopies en nie 200 voor was nie, moes die Suid-Afrikaners weer kolf. Graeme Smith, wat voorheen in sy kapteinsloopbaan deur ’n té goedgunstige verklaring gebyt is, het sy kolwers heeltemal te lank voor die paaltjies gehou en daardeur vir sy boulers nét te min tyd verskaf om die doodskoot te trek. As die opvolgbeurt ingeskop het, sou die Swartkepse, te oordeel aan die ontvouing van die reeks, ten beste ’n kleinerige voorsprong gehad het wat die Proteas met relatiewe min moeite sou kon afkolf.
Daar is twee krieketpryse waarna Suid-Afrika bo alles na streef: Om die Wêreldbeker te wen en om die onbetwiste Nommer-Een-span op die planeet te wees. Die volgende Wêreldbekerstryd is drie jaar voorkant toe. Die Proteas sal in alle waarskynlikheid vir die grootste deel van dié tydperk die voorste eendagspan ter wêreld wees. Maar hulle was dit al gereeld en dit is dun salf vir die seerplekke van hulle Wêreldbekermislukkings. Daarom sal die fokus vir eers wees waar dit altyd hoort: Op die kroonstryd in volwaardige toetskrieket.
Suid-Afrika is sekerlik die beste span in die Wêreld, maar weens eienaardige burokratiese mistasting en ’n gevolglike agterstand in die hoeveelheid toetse wat hulle die afgelope jaar gespeel het, is die Proteas net nommer twee op die ranglys. Maar Nommer Een, die Engelse, is kwesbaar. Hulle het sopas hulle toets teen Sri Lanka verloor. Vier jaar gelede het die Suid-Afrikaners, onder strategiese leiding van Mickey Arthur, die Souties in Engeland verrinneweer. En die Proteas van vandag is aansienlik beter toegerus as die weergawe van 2008.
Alles inaggenome was die uitstappie na die Kiwi-eilandjies ’n waardevolle boublok in die Proteas se ontwikkeling. ’n Span se selfbeeld is bepalend vir sukses en al was hier met ’n minderwaardige span meegeding, het die Suid-Afrikaners tog kosbare bevestiging van sekere onmisbare elemente gekry. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het hulle twee hoofmagte, boulers en kolwers afsonderlik, wat wedstryde kan wen.
Die boulaanval moet nou die beste ter wêreld wees. Die volgehoue akkuraatheid, venyn en variasie van die snelboulers sal deur min kolflyste weerstaan word. Vernon Philander bly ’n verbluffende verskynsel. Dis asof hy die kolwers hipnotiseer, meer op die manier van ’n toordraaier soos Warne of Muralitharan as ’n mediumsnelbouler. Sy knaende akkuraatheid bring die volle geweld van die Wet van Gemiddeldes na die kolfblad. Daar kan net soveel balle verby die kolfbuiterand flits voordat een gestreel word.
Dit lyk nou al ’n ruk asof Morné Morkel besig is om sy hierjy! te herontdek en in die laaste toets het hy seëvierend daarmee vorendag gekom. Daar word al lank gewag vir ou Langeraad om sy lengte, spoed, akkuraatheid en wipkrag bymekaar te trek. Op sy beste is hy ’n vernietigingsmag. In die laaste kolfbeurt van die toer, het hy wasdom bereik en die bonus is dat dit ook neerslag gevind het in sy kolfwerk. Hy is ’n stertkantkolwer met die tegniese voortreflikheid van ’n middelordekolwer.
Dale Steyn is die een bouler wat onderpresteer het, maar selfs ’n ritmelose Steyn is goed genoeg vir enige span in die wêreld. Ons ken hom darem ook al en weet dat hy deur die loop van ’n seisoen net beter word. Hy is van uitsonderlike genetiese materiaal en hoe meer hy boul – afskuwelike toonvergruising uitgesonder – hoe beter word hy. Tydens die vorige toer Engeland toe, het hy ’n paar sporte geklim na die bokant van die doeltreffendheidsleer. Dié keer sal hy daar land in die volheid van sy vermoëns.
Dan is daar die nuwe jong geweldenaar: Marchant de Lange. Hier is ’n eiesoortige bouler, iemand met al die potensiaal om werklik skrikwekkend te word. Hy is ’n buffel van ’n bouler, enorm sterk en gewillig. Hy boul van ’n kort aanloop af wat sy ritme help, en hy tref die blad met amper skokkende geweld. En tog is daar finesse, en waaglustigheid. Hy skroom nie om ’n kophoogte kartets met ’n bytende, inswaaiende York-bal op te volg nie. Hier is ’n bouler wat ’n hele aanval kan dra as die ander se snykante al stomp geword het.
Die aanvullende waarde van Jacques Kallis as bouler is deur sy afwesigheid in die laaste toets onderstreep. Op sy ouderdom, en in ’n poging om sy loopbaan te verleng, word hy oordeelkundig en in kort skofte aangewend, maar hy het waarlik die slag om hardnekkige vennootskappe te onknoop en ou Goue Arm se afwesigheid het ’n droewige leemte gelaat juis toe die Proteas hom die nodigste gehad het.
Imran Tahir is tot dusver nie die tolbaloplossing wat gehoop is hy sal wees nie. Sy belangrikste aanwending, blyk dit, is om die onderkant van ’n kolflys uit te wis. Topordekolwers kan nog sy repertoire van aflewerings uitpluis, maar meeste stertkanters is heeltemal oorbluf wanneer hulle moet uitwerk of ’n bal links of regs gaan swenk, gaan opsis of deurwurm. Suid-Afrika is al voorheen ongedaan gemaak deur die slaankrag van die Engelse se laerordekolwers – dink maar Steve Harmison. In Engeland kan ’n stertkantsekel baie waardevol wees.
Die Engelse toetssukses van die afgelope jaar is meestal aangedrewe deur hulle voorste kolflinie. Kolwers een tot ses het lopies by die gerwe geoes. Tog is hierdie kolfseksie niks indrukwekkender as dit wat die Proteas na die speelveld bring nie. Al het die Proteas in Nieu-Seeland nooit voluit met die wilge gevuur nie, het die kolwers in verskillende beurte tog elkeen homself in die span ingemessel met oortuigende bydraes. Van die sewe topordekolwers (ses plus JP Duminy wat vir Jacques Kallis in die laaste toets ingestaan het) het vyf – Graeme Smith, Alviro Petersen, Jacques Kallis, Jacques Rudolph en JP Duminy – honderdtalle aangeteken. Die beste kolwer op toer, en sekerlik nou die beste kolwer in die wêreld, AB de Villiers het nie ’n ton gekry nie, maar daar is so ’n bestendigheid aan hom, so ’n sekerheid dat hy lopies sál kry, en so ’n vermoë om sy spel te vorm soos die wedstrydsituasie dit verlang, dat ’n mens sidder om te dink wat hy oor die volgende paar jaar kan vermag.
Daarby het Mark Boucher se vorm weer geset en hy is die ou veglustige, hardnekkige stuk bamboes bo aan die laer orde wat van hom ’n legende gemaak het. Sy vermoë om ’n ekstra 80 lopies in begeleiding van die stertkanters te maak, gaan nog van deurslaggewende waarde wees.
Wat strategie, aanvoeling en die uitvoering van planne betref, was hierdie een van die beter Protea-toere, en Gary Kirsten se hand is hierin te bespeur. Graeme Smith het die agting van sy volgelinge behou as gevolg van sy kolfwerk in die voorhoede. Hy lei nie van agter af nie. Die enigste kritiek teen sy kapteinskap is dat hy in sy middelspeeljare miskien ’n snars konserwatief geword het. Die Graeme Smith van vyf jaar gelede sou Dinsdag ’n uur vroeër verklaar het en van eerste tot laaste bal aangeval het.
Elke span soek na ’n trappie tot die volgende vlak in hulle ontwikkeling en miskien is dit tyd vir Smith om die wiel aan AB de Villiers te oorhandig. Te oordeel aan hoe hy sy werk voor die penne benader, is daar min spelers met ’n meer gesofistikeerde aanvoeling vir die subtiele verskuiwings in die wedstryd; van wat nodig is en van wat gedoen kan word.
Suid-Afrika het die staf, die vaardighede en die gees om uiteindelik die troon van wêreldkrieket te beset. Gary Kirsten en Allan Donald is deurwinterde, spesialisafrigters en hulle beplanning en aansporing is uiters doeltreffend. Daar is genoeg reserwes om selfs die tydelike of permanente verlies van sleutelspelers te lap. Die bestuur van Krieket Suid-Afrika is vernuwe en kan uiteindelik bydra tot sukses eerder as om ’n rem op die span te wees.
Suid-Afrikaanse krieket het voorheen al kanse gehad om hulleself as die primêre mag in internasionale krieket te vestig. Dit is nou hulle tyd! Laat dit so wees...