praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Saterdag, 13. Maart 2010

Bygewerk op:04:57:57 PM GMT

Jy is hier: Sport Algemeen
Facebook Twitter Digg Delicious Stumbleupon Google Bookmarks RSS Feed 
Aantal kere gelees: 3801

Rassisme by boksgeveg

E-pos Afdruk PDF

Thomas Oosthuizen voor die gevegRassisme sal hoegenaamd nie in die diverse sport, boks, geduld word nie, het die waarnemende uitvoerende beampte van Boks SA, Loyiso Mtya, gister gesê.

Dit was in reaksie op 'n berig gister in die swart koerant, die Sowetan, oor 'n blanke vroueondersteuner wat haar van rassistiese aanmerkings bedien het om Thomas Oosthuizen Saterdagaand tydens sy geveg teen Thomas Awinbono aan te moedig.

Die geveg, waartydens Oosthuizen sy WBV-Panafrikaanse supermiddelgewigtitel verdedig het, is by Emperor's Palace deur Golden Gloves-promosies aangebied.

Volgens die Sowetan het die blanke vrou in die tweede ry van die ring af gesit en luidkeels geskree, met F- en K-woorde. Die veiligheidspersoneel is deur die skakelbeampte vir die geveg, Terry "Terrible Terence" Pettifer ontbied, maar blykbaar het sy versoek op dowe ore geval.

Volgens Mtya sal "sulke gedrag nie gedulde word nie. Ons sal baie streng teen sulke mense optree. Boks SA werk onverpoosd om alle rasse na die sport terug te bring, wat die eerste in Suid-Afrika is om ras te ignoreer. Daar is geen ruimte vir rassiste nie, ek is jammer."

Oosthuizen is ook in die verleentheid gestel. Hy waardeer ondersteuning, maar dan moet dit "positief" wees. "Mense moet hul gunstelingsportmense op grond van hul vermoë ondersteun, nie op grond van ras nie. Dit maak my vies om te lees dat rassisme met my geassosieer word."

Die 21-jarige Oosthuizen, wat deur Harold "Hamer" Volbrecht afgerig word, het die geleentheid gebruik om 'n beroep op alle Suid-Afrikaners te doen om Bafana Bafana tydens die Wêreldsokkerbeker in Junie te ondersteun.

Lees nog stories oor ras en etnisiteit in Engels by Race and ethnicity - news and information on ethnic issues.

Laas Opdateer op Dinsdag, 02 Maart 2010 14:52

Engeland sonder Engelse

E-pos Afdruk PDF

Onlangs het twee voorste Engelse sokkerspanne teen mekaar gespeel. Wat dié wedstryd besonders gemaak het, is dat dit die eerste keer was dat beide spanne nie ‘n enkele gebore Engelsman op die veld gehad het nie. Die spanne was Arsenal en Portsmouth. Arsenal het wel ‘n Engelsman op die plaasvervangersbank gehad, Craig Eastmond, maar sy twee gereelde Engelse plaasvervangers, Wallcott en Gibbs, was beide beseer.

Die probleem, is, verduidelik die BBC, dat daar nie genoeg goeie Engelse spelers is sodat almal kan hê nie, veral nie met die dat Chelsea en United “almal” het so snoep is en nie van sy rariteite wil verkwansel nie.

Op die oomblik speel Engeland kriekettoetse in Suid-Afrika, met drie gebore Suid-Afrikaners wat in sy toporde kolf. Een is boonop die huidige kaptein, en ‘n ander was al kaptein. En hulle volg in die voetspore van ander gebore Suid-Afrikaners wat al Engeland aangevoer het – Tony Greig en Basil D’Olivereira. Net om sake bietjie meer af te rond, Omar Henry het ook al die Skotte aangevoer.

Pas is berig dat die All Black-losskakel, Carlos Spencer, die Lions (hoekom moet ons spanne hier Engelse name hê en dan teen die Britse en Ierse Leeus speel?) in die Super 14 beskikbaar gaan wees, terwyl die plaaslike losskakel van die Leeus weer vir die Western Force gaan uitdraf.

Onlangs het iemand, op die vooraand van ‘n provinsiale rugbywedstryd, gaan koppe tel om te kyk hoeveel spelers van elke span het werklik bande met die spanne waarvoor hulle speel. Aan beide kante was dit ‘n halwe handjievol.

Daar word graag gespot oor besoekende spanne wat teen die Vrystaat kom speel, en die besoekers se spelers dan ewe gerieflik by hul ouerhuise tuisgaan. Die Cheetahs staan egter self agter die deur.

Geldrugby is ‘n gegewe, en so ook die behoefte van spelers wat nog voel hulle het woema maar word stief deur die “keurders” behandel, wat dan na die buiteland uitwyk om ‘n behoorlike “pensioen” te gaan opbou.

In die proses is die toeskouers die verloorders. Saterdag na Saterdag word van hulle verwag om spanne wat eintlik grootliks uit huursoldate bestaan, aan te moedig.

Dikwels is die spelers weinig meer as prima donnas. Om darem van ‘n hoogs-betaalde speler te verwag om op Kimberley se harde veld ‘n speler wat baie minder verdien te moet lak ...

Tong in die kies is al voorgestel dat Suid-Afrikaanse spanne verplig word om kwotas eie spelers te gebruik. As elke span verplig word om minstens sewe spelers in te sluit wat darem minstens twee seisoene rugby, anders as vir die senior provinsiale span, in ‘n bond te gespeel het, sal die Vrystaat darem kan aanspraak maak om die Vrystaat genoem te word, die WP die WP, en die Haaie iets wat met die kus verband hou. Plattelandse bonde kan as kwalifiserende hinterland aan die topbonde toegewys word.

Kortom, eie talent sal beter bestuur word, want daar sal ‘n aanvraag wees.

Of Suid-Afrikaanse spanne dit nodig behoort te vind om buitelandse spelers in te sluit, is ‘n ander vraag. Spelers van Namibië is een saak, maar om Argentyne, Suidsee-eilanders, Franse of wat ook al in te voer, is ‘n heel ander saak.

Of dit regtig onvermydelik is dat ‘n Springbokspan in Engeland ‘n “opwarmingswedstryd” teen ‘n klubspan gaan speel en hom dan vasloop in ‘n oud-Springbokspan, is nog ‘n vraag wat kopkrap verdien.

Is daar in die beroepsera dan geen ruimte vir minstens ‘n element van tuisgemotiveeerdheid nie? Al is dit bloot terwille daarvan om die skare nie vir die gek te hou nie?

Is dit nie bietjie laf as stringe WP-ondersteuners die lang pad aandurf om te kom kyk hoe “hul” span teen die Vrystaat speel nie, maar van heelagter Frikkie Naudé af via Dawie Snyman, Morné du Plessis, Theuns Stoffberg tot Henning van Aswegen is daar 13 spelers in die span wat Vrystaatse bande het nie?

Selfs die vermaarde dr. Danie Craven het uit die Vrystaat gekom.

Die hartseer is dat die WP ontsettend baie eie talent het. Toe Rassie Erasmus (ja, ook uit die Vrystaat) Kaap toe is om af te rig het hy hom voorgeneem om plaaslike talent te identifiseer en te ontwikkel. Met sy jaarlikse inkopielys lyk dit nie of dit werklik gebeur nie. Dit lyk of slegs ‘n “kwotastelsel” sal verseker dat plaaslike talent in elke bond nie verlore sal gaan nie.

Baie faktore maak dat talent nie raakgesien word nie. So hoor die oom van ‘n blink skolespeler hoe iemand vir ‘n keurder sê hy moet tog dié nefie dophou wat uithalerspel lewer. Maar hy hoor ook die keurder sê: “Maar hy kom nie van Grey af nie.”

Miskien het so iets ‘n rol gespeel dat Morné Steyn nou vir die Bulle die Vrystaat so uitmekaar speel.

Of hy speel vir ‘n kleiner skool uit sy beste posisie omdat die skool dalk nie ‘n beter speler vir die posisie het nie.

Of hy pas nie in die afrigter se spelpatroon nie.

Of sy beste posisie is dieselfde as die span se ras-kwotaspelers.

Is daar nog ruimte vir sportmansgees ook?

Maar die Arsenal – Portsmouth-wekker herinner aan wyle oom Jurie se wysheid toe hy hoor die Britse Eilande is gedurende ‘n swaar ystydperk weens die gewig van ys op die Noordpool onder die see uitgedruk.

“Dis darem die slegste ding wat die ys nog onder die see uitgedruk het.”

Maar moenie wharrie nie, een van die dae is daar nie meer plek vir Engelse nie.

 

 

Manny Pacquiao - 'n legende tussen toue word gebore

E-pos Afdruk PDF

Pacquiao vs CottoBoks is die sportwêreld se skuldige plesiertjie, 'n polities bedenklike anachronisme waarin gebreide, doelgerigte mans die teer uit mekaar slaan in 'n wêreld waar blote verwysing na 'n persoon se velkleur sy wêreld in duie kan laat stort en die spreker as't ware vir 'n steniging kan voorberei. Die waarheid is dat boks beide deelnemer en toeskouer op 'n oervlak raak en diep instinkte aktiveer. Dit is so moeilik om te verduidelik hoekom 'n skynbaar opgevoede mens 'n vreugde daarin vind, net so moeilik om die aantrekkingskrag daarvan om 'n staalhoek deur 'n kabeljou se lip te kap en die vis met 'n tou uit die water tot op die strand te sleep te beskryf.

Die een prikkel wat ons wél kan verduidelik is dat boks oor stories gaan, verhale van heldedade, swakhede, oorwinning en nederlaag. Vir die boksaanhanger is daar 'n weelderige heldesaal van vegters en gevegte: Rocky Marciano teen Jersey Joe Walcott, van Duran teen Leonard, Ali teen Frazier, Hagler teen Hearns. In 'n tyd waar 'n swaard, 'n spies of 'n skild nie vir die gladiator beskore is nie, is toue, 'n vierkantige kryt en twee verbete vegters die stoffasie waarvan legendes gemaak word. Elke vegter en elke geveg het sy eie storie, meeste van hulle onopvallend, selfs vervelig en alledaags. Maar soms word twee boksers se loopbane vir 'n driekwartier teen mekaar vasgeslinger en word daar iets glorieryk uit gebore. Gisteroggend, SA tyd, is 'n inskrywing in die bloemlesing van helde geskryf toe twee vegters van gemengde Latynse agtergrond teenoor mekaar agter hulle vuiste ingeklim het.

Albei boksers het reeds hulle verse in die groot drama van boks geskryf. Die weltergewigkampioen was Miguel Cotto van Puerto Rico. Hy is dik van skedel, swaar in die skouer, gefokus en ernstig en 'n nasionale held. Die uitdager is 'n opgeruimde bossiekop van die Filippyne, met 'n muilbandbaardjie soos Roberto Duran s'n en 'n veglus wat aan dié legende, die geroemde "hande van klip" herinner. Mannie Pacquiao het 'n ongekende opmars deur gewigsklasse gemaak, 'n oorheersing van vlieggewig tot superliggewig.

Die eerste ses rondtes van die geveg is vir die boksaanhanger wat Maria Callas se 1953 Lucia di Lammermoor in La Scala vir operacognoscenti is. Cotto het die eerste rondte doelgerig en doeltreffend begin deur 'n onweerstaanbare aanval, reg in die kanaal tussen Pacquiao se handskoene deur. Die Filippyn het sy ratsheid gebruik om ernstige strukturele skade vry te spring. Cotto self was ligter op sy tone en vinnig genoeg oor die kryt dat dit gelyk het asof sy groter krag die magsbalans na hom toe sal laat kantel. Maar in die derde rondte het Pacquiao, in die gevaarakker teenaan Cotto,  met die skielikheid van 'n slagyster toegeslaan. 'n Warrel van haakhoue uit onmoontlike rigtings het lyf toe en kop toe geknal en 'n meesterlike kortlinker het Cotto van sy voete af geslaan.

Cotto, in trurat maar met sy gevaarlike grofgeskut in posisie, het die rondte oorleef. Daarna was dit 'n weerligreën van houe, teenhoue, van taktiese voetwerk en aanvalle. Verdediging is deur albei boksers ingeboet vir die kans om 'n voltreffer te land. Die skrif was nog nie teen die muur vir Cotto nie, maar die pen is in die inkkannetjie gedoop toe dit duidelik word dat Pacquiao nie net in staat is om in 'n uitgerekte kortafstandsloegfees teen Cotto te bly staan nie, maar dat hy skokkend genoeg daarop gedy  het. Van die agste rondte het Cotto, sy gesig wat teen die tyd gelyk het soos 'n knoffelpolonie wat uit 'n baie hoë gebou geval het, verrassend genoeg verdedigend begin boks, deur agter sy piklinker terug te val, duidelik bedag op oorlewing eerder as  oorwinning.

Pacquiao het hom meedoënloos van hot tot haar agtervolg en, wanneer hy die toegangsroetes kon afsny, Cotto met blitsende vuiste gekasty. In die laaste rondte het hy Cotto finaal vasgekeer en bestook totdat die skeidsregter homself tussenbeide gewerp het om die verslane kampioen verdere vernieling te spaar.

Manny Pacquiao is een van twee boksers wat 'n sinvolle aanspraak op die mees gesogte titel in boks - beste vegter, pond-vir-pond - het. Die ander is Floyd Mayweather, junior. In hedendaagse boks is hierdie die droomgeveg, 'n Hector-vs-Achilles-stryd waarna elke bokskyker uitsien.

Barbaars, ja, miskien, maar só 'n vertoning herinner 'n mens net weer aan die glorie wat in die eenvoudige kryt gevind kan word.

Laas Opdateer op Maandag, 16 November 2009 17:48

Bladsy 1 van 3