praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Sport

Sport

Handskoen en harpuis: Boks, die manlike kuns

E-pos Afdruk PDF

Ons weet nie veel van die apostel Paulus se persoonlike lewe en voorkeure af nie, maar dít weet ons: Die man het sy boks geniet. Hy gebruik dit om ’n doelgerigte geloofslewe te beskryf. “Ek is nie soos ’n bokser wat net lug raakslaan nie,” beduie hy in een van sy sendingbriewe. Dit is moeilik om die denker wat liefde as “die uitnemendste” innerlike natuurkrag beskryf het, met die kryt te versoen, maar in die twee millennia daarna sou daar ’n ontelbare skare mans – en ’n beduidende aantal vroue – wees wat iets roerend en selfs edel in dié sport gevind het.

Om suksesvol te oorleef, te koester, te bou en te beskerm, hang van die krag en sekerheid van die mens se instinkte af. Die man van vervloë dae wat in die nag uit sy slaap opspring en ’n knuppel opneem om sy huis en haard te beskerm, het nie die luuksheid van onsekerheid gehad nie. Die oomblik wat dit sou neem om te bepeins of hy moet of nie moet slaan nie, kon sy en sy gesin se ondergang beteken het. Hoewel die noodsaak vir dié soort paraatheid verdwyn het met die totstandkoming van die moderne staat en sy sekerheidsmagte, is die manlike instinkte nie sondermeer afgeskakel nie, en ’n aktiewe instink bou voortdurend druk op om uitgeleef te word.

Die meeste mans het nou nog die drang tot aksie, om met ’n teenstander slaags te raak, om diep in homself te moet delf om neerlaag te voorkom en oorwinning te behaal. Die mens het homself deur die eeue gekondisioneer om hierdie drang óf persoonlik, óf deur die dade van ’n ander uit te leef, en dit, in ’n neutedop, verduidelik die herkoms van sport. Van die vroegste tye af kon sterk, fikse manne ander, minder fisies gegoede, mans kry om hulle te betaal om teen ander sterkmanne te veg. In Romeinse tye was dit die gladiator wat die gemeenskap se verbeelding gekaap het. Die Middeleeue het die verskynsel van die ridderkampvegter gebaar. In die laat negentiende eeu en deur die eerste driekwart van die twintigste eeu was boks die primêre skouspel waarmee die gemeenskap sy versugting vir aksie bevredig het.

In die eerste vyf twintigste-eeuse dekades was boksers dikwels meer bekend en gewild as filmsterre. Hulle is gesien as iets amper bomenslik. Die gedagte dat ’n man die veiligheid van ’n kleedkamer sou verlaat, homself sou inhok in ’n verhewe kamp van hoekpale en toue waar hy homself in die openbaar fisies, net met sy vuiste, vernuf en vasberadenheid, moes verdedig teen ’n geweldenaar, het ’n hol kol op die toeskouer se maag en ’n bewondering in sy gemoed gelaat. En as bystander was hy nie onbetrokke in die stryd nie. Omdat hy ’n paar pennies vir ’n kaartjie betaal het, óf omdat hy hom bloot vereenselwig het met een van die boksers, is hy emosioneel by die geveg ingesleep. Anders as in ’n rolprent waar die held beskerm is deur draaiboekskrywer en regisseur en waar filmateljees ingestel was om gehore met ’n verkose uitslag te bedien, was daar nooit enige waarborge in boks nie. Geen geveg was ooit ’n uitgemaakte saak nie. Die bokser se oorwinning het aan sy ondersteuners ook behoort, maar sy neerlaag is emosioneel net so intens deur sy volgelinge beleef.

Die boksers het uit ’n ander wêreld verskyn. Hulle habitat was dié van dofbeligte gimnasiums met oefenkryte, slaansakke, gebiedende afrigters en afgeleefde oudstryders wat met raad en daad rondgeslof het teen ’n agtergrond van mure vol vergeelde toernooiplakkate en foto’s van vergange helde in hulle fleur te midde van die stryd tussen die toue vir ewig vasgevang. Boks het die verbeelding aangegryp, juis omdat dit so ryk aan stories was en elke geveg het die lewensverhale van twee manne vir die duur daarvan laat saamdruis. Soos in die beste verhale, is die rykheid van karakter deurslaggewend en in geen sport was die karakters ooit meer kleurvol as in boks nie.

Bokskampioene het soos gode te midde van sterflinge gewandel, wesens van legende en mite. Hulle heldedade is ontleed, bespreek, besing en toegejubel. Anders as tans, was daar op enige gegewe tyd op die meeste net agt gewigsafdelings en dus net agt wêreldkampioene. Die gemiddelde mens se kans om tydens sy leeftyd drie keer deur weerlig raakgeslaan te word, was aansienlik beter as om ’n wêreldkampioen – heersend of voormalig – te ontmoet. Boksers was deels sportman, deels sprokiesheld. Hulle het monsters verslaan, vuurwarm geleef en vroeg uitgebrand. ’n Volk het sy helde nodig gehad, en boks het baie van hulle verskaf.

Die Goue Tyd van boks was sekerlik van die 1930’s tot die 1980’s. Kampioene was skaars en dus verhewe, veral in die mees gevierde gewigsklas van die swaargewigte. Enige boksentoesias kon die opeenvolging van kampioene van, sê nou maar, John L. Sullivan, tot en met Larry Holmes resiteer, soos wat rojaliste die dinastie van konings in vroeër jare kon opsê. Daar was Sullivan, boks se eerste wêreldfiguur wat verslaan is deur “Gentleman” Jim Corbett, wat die kroon afgestaan het aan Bob Fitzsimmons waarna dit deur verskeie hande gegaan het voordat die verafskude Jack Johnson die eerste swart wêreldkampioen in 1908 geword het en dit sou bly totdat ’n knoorse plaasseun, Jess Willard, hom in 1915 kis geslaan het en daarna self verrinneweer is deur die “Manassa Mauler,” Jack Dempsey, wat ’n legende van verwoesting was totdat hy deur ’n belese marinier, Gene Tunney, geklop is en die titel later deur Tunney met sy aftrede afgestaan is aan die Duitser Max Schmeling wat verslaan is deur die geslepe Jack Sharkey wat op sy beurt oordonder is deur die reusagtige Primo Carnera wie se heerskappy skouspelagtig kortgeknip is deur die vernietigende grapjas Max Baer wat op sy beurt deur die depressieheld James Braddock verras is voordat die Joe Louis-era begin het met die negerbokser se oorwinning oor die veelgeroemde “Aspoestertjieman,” ’n era wat eers twaalf jaar later met Louis se uittrede tot ’n einde sou kom en waarna Ezzard Charles die vakante titel gebuit het en later Jersey Joe Walcott sou afstaan voordat dit deur die genadelose Rocky Marciano gebuit is en syne tot en met sy uittrede as die enigste onoorwonne swaargewigkampioen gebly het, waarna Floyd Patterson dit gewen, aan Ingmar Johansen (wat die laaste blanke kampioen vir ’n baie lang tyd sou wees) afgestaan en toe weer teruggewen het, waarna hy deur Sonny Liston verpletter is en dit by Liston deur ’n opkomende jong grootbek, Cassius Clay, weggestroop is...

Cassius Clay het natuurlik, tot die groot vermaak van ’n Westerse wêreld wat toenemend aan selfhaat begin ly het, homself herontwerp as Muhammad Ali. Die liberale pers het in alle ywer van hom die sport se grootste megaheld gemaak, ’n ikoon op die vlak van Suid-Afrika se mislukte terroristeleier, Nelson Mandela. Die Ali-legende is oor sowat twee dekades geskep, van sy opkoms as jong ster tot sy finale, verkleinerende nederlaag teen Larry Holmes in die vroeë tagtigs. ’n Gevegslegende kan nie sonder formidabele teenstanders geskep word nie, en Ali is goed gedien met veral Ken Norton, Joe Frazier en George Foreman wat almal ’n holte in die heldemuur vir hulleself verdien het.

Die val van Ali het sy koninkryk laat versplinter. Verskeie boksbeheerliggame het gesampioen en elkeen het ’n sny van die uiters winsgewende koek probeer kaap. Skielik was daar twee, drie, vier, en nou wie weet hoeveel, beheerliggame, elkeen met sy eie kampioen. Die aansien van die bokser as volksheld het verdof.

Suid-Afrikaners het deur die dekades hulle eie bokshelde gehad. George Hunter het in 1948 ’n goue medalje en die toekenning vir die mees wetenskaplike bokser by die Olimpiese Spele gewen. In die vyftigerjare het die Toweels, ’n Lebanese familie van die Oos-Rand, die vaandel gedra. Vertellinge van hulle krytdade het die grondslag gelê vir my eie belangstelling in boks.

My twee oupas het nie veel in gemeen gehad anders as hulle liefde vir boks nie. Oupa Willem (Roux) was kort, vasberade en ’n predikant in Boksburg. Oupa Flip (Venter) was kort, veglustig en meermale burgemeester van Boksburg. Volgens oorlewering kon hyself ’n bokser van formaat gewees het. Hy was diep betrokke by die opheffing van armblankes in Boksburg en het op ’n keer gereël dat van die ouer mans as skoonmakers kon werk. Ene Floyd, ’n dorpsamptenaar het hulle gestuur om die lokasies se strate te gaan vee. Toe Oupa Flip dit hoor, het hy afgesit na die munisipale kantore. Hy het vir Floyd, wat ’n goeie kop langer as hy was, by die trappe van die munisipale kantore raak geloop en hom met een magtige regterhaak neergevel. Die oumense het die tien pond waarmee hy beboet was, ingesamel.

Oupa Flip, soos die res van Suid-Afrika, was in ekstase toe Viccie Toweel Suid-Afrika se eerste wêreldkampioen geword het met ’n titaniese geveg teen die legendariese Manuel Ortiz. Toweel het sy titel ’n keer of wat suksesvol verdedig voordat hy deur die toue geklim het vir ’n ontmoeting met ’n bleek Skot, Jimmy Carruthers. Oupa Flip het homself met sorg en bewende afwagting voor die radio tuisgemaak. Toe die openingsklok lui, het hy gevroetel vir ’n sigaret en gedemp geswets toe hy besef hy het dit in die kombuis laat lê. Die spanning sou vir hom te veel wees, en hy het kombuis toe en terug gewikkel, en so het hy die hele geveg misgeloop. Carruthers het vir Toweel binne sekondes uitgeslaan.

Toweel sou vir een-en-twintig jaar ons enigste wêreldkampioen wees.

In 1973 het die spanning en die glorie van boks my vir die eerste keer werklik aangegryp. Ek was toevallig saam met vriende op ’n familieplaas in Nylstroom en ons het rondom die groot staanradio in die sitkamer vergader, die grootmense op stoele en ons kinders wat op ons mae met ons kenne in ons hande gestut gelê het. Daardie rooi mat met die Oosterse patroon op, die bal-en-klousitkamerstel en die vertoonkas en die kombuisreuke en die plaasnaggeluide sal in my geheue altyd verbind wees met die glorie en atmosfeer van boks.

Arnold Taylor, ’n koekiebakker van Johannesburg (regtig!), het na ’n moeisame weg deur die rangordes ’n titelgeveg met die wêreldkapokgewigkampioen, Romero Anaya, van Meksiko afgedwing. Dit was ’n bloedige uitmergelstryd, en die drama daarvan is in my jong gemoed versterk deur die feit dat ek dit net kon hóór, elke trefslag van handskoen teen vlees, die geskuifel van boksskoene op harpuis, die histeriese geloei van die skare en die masjiengeweervoordrag van die kommentator. Ek was aangegryp en dit het vir my belangrik geword dat Arnold Taylor sou wen, en na die vyfde rondte, waarin hy tweemaal platgeslaan is, het dit vir my ’n obsessie geword.

My hartklop het versnel, my asemhaling vinniger en vlakker, en ’n drukking van afwagting het in my opgebou en daarmee saam ’n desperate begeerte dat my wil deur die vuiste van Taylor sou geld. Anaya was ’n ware kampioen, ’n tipiese Meksikaanse bokser, tegnies bedrewe, glibberig, gesout en met knalkrag in beide hande. Taylor het ’n goeie regterhaakhou gehad en vragte moed en... en eintlik was dit al. Hy was ’n maklike teiken vir Anaya en sy stokkerige bewegings het sy voornemens blootgelê.

Anaya het hom nog drie keer in die agste planke toe gestuur en nog drie keer het Taylor opgestaan. Hy het nie ’n duim se grondgebied prysgegee nie; eerder onverskrokke en meedoënloos vorentoe op die aanval geskuifel en net nooit opgehou slaan nie. Teen die veertiende rondte was hy, verstommend genoeg, nog steeds op sy voete, steeds op die aanval. Anaya was nou al moedeloos; moedeloos om Taylor te slaan en moedeloos om geslaan te word. Tog was hy so ver voor op punte, só in beheer van die geveg en onstuitbaar... Soos ’n donderslag uit blou lug het Arnold Taylor oorgehaal en ’n verwoede regterhaak geslinger: ’n Voltreffer!

“... en hy slaan soos ’n dooie os neer!” het die kommentator gegil. (Later, toe ons uittreksels van die geveg in die nuusprent in die inryteater gesien het, was dit opvallend dat Anaya se agterkop vóór sy hakke die krytvloer getref het.)

En skielik was daardie plaassitkamer in die Nylstroom-distrik vol gillende, huppelende, vuispompende mense. Sekondes tevore was ek uitgeput, asof ek persoonlik drie keer in ’n rondte platgeslaan is, verkleineer, afgetakel, lusteloos en van nederlaag oortuig. Daardie sekondes wat dit vir skeidsregter Stan Christodoulou geneem het om vir Anaya uit te tel – en dit was ’n lang telling want ’n oorstelpte Taylor wou nie na ’n neutrale hoek gaan nie – was ’n hele epog van spanning, hoop en groeiende ongeloof. Teen die tyd wat die Meksikaan uitgetel was, was ek vol energie, jubelend, huppelend. Dit was asof ék persoonlik tussen die toue was, asof ek die wetenskaplike vernietiging van Romero Anaya oorleef het, asof dit mý regterhaak was wat hom omtrent onthoof het. Arnold Taylor was ’n bloedige held en het van honderde duisende manne daardie aand helde gemaak. Dis net, ek was nie vol kneusplekke nie en Anaya het nie bloed getrek uit een van die ander luisteraars nie. Taylor, aan die anderkant, het gelyk asof hy heen-en-weer deur ’n hamermeul is. En dit is waarom hy die prysgeld wat hy ontvang het – en daardie dae was dit relatief min – dubbel en dwars verdien het.

Vir my, en die wyer Suid-Afrikaanse publiek, het daardie November-aand in 1973, ’n nuwe en vurige belangstelling in boks ingelui. En ’n panteon bokshelde het reg gestaan om ons saam met hulle in die kryt te neem, manne met verskillende benaderings, tegniese swak- en sterkpunte, en, bowenal, persoonlike verhale en karakters, manne soos Pierre Fourie, Charlie Weir, Andries Steyn, Brian Mitchell en die swaargewigviertal Mike Schutte, Kallie Knoetze, Gerrie Coetzee en Jimmy Abbott.

Volgende keer vertel ek meer van hulle, en hoe boks as deel van die volksbewussyn verwelk het, en ek nooi julle om saam met my te onthou.

Laas Opdateer op Woensdag, 25 April 2012 07:03

Stormers hou die fort Doeroender

E-pos Afdruk PDF

Dit is ’n beproefde waarheid in voetbal dat ’n goeie offensief wedstryde wen, maar ’n hegte verdediging wen toernooie. In die wortel van dié twee benaderinge is daar uiteenlopende strydfilosofieë: Die aanvallende span reken daarop om te wen deur meer punte as die ander span te kry terwyl die verdedigingsgesinde span daarop ingestel is om te sorg dat die ander span minder punte as hulle kry. Die Reds het verlede jaar, in weerwil van bogenoemde aanname, die Super Rugby-toernooi aanvallenderwys gewen met ’n offensief wat om die oëverblindende hanteer- en voetwerk van Quade Cooper gekonstrueer was. Hy is tans op die kroklys, maar nog steeds probeer hulle die aanvallende voetbal van verlede jaar speel. Die lollery is wanneer hulle nou teen ’n goed-georganiseerde verdediging te staan kom en dis wat vroeër vandag in Australië teen die Stormers gebeur het.

Die Rooi wedstrydstrategie was ’n eenvoudige een: Kry die bal en hou aan daarmee dryf en hardloop totdat daar ’n bres in die verdediging verskyn. Wel, die Stormers-verdediging was ’n slot waarvoor die Reds nie ’n sleutel kon vind nie. Sodra die Reds in aanvalsformasie kom, vorm die Stormers se verdediging op, ongestoor, ongejaag, presies seker waar die brandpunte in die offensief is en hoe hulle dit gaan snuit. Hulle het so ’n goeie begrip van die ruimtes tussen hulle dat die lyn, of soms die kurwe, deurentyd heg bly. Dit is ’n plesier om hierdie verdedigers aan die werk te sien. Daar is nie een werklik verwoestende verdediger onder hulle nie – Juan de Jongh kom seker die naaste daaraan – maar die verstandhouding, vertroue en kommunikasie tussen die verdedigers is op die kop. Wanneer ’n aanvaller in die skootsvak kom, word daar oombliklik besluit wie sy pale gaan lig.

Daar is egter nóg ’n element in die verdediging en dit is die swerwende jagters. Selfs wanneer die verdedigingslinie faal, is dié verdedigers volspoed in posisie om die ontsnappende aanvaller neer te vel.

Die Stormers verstaan ook dat die werk nie klaar is wanneer die bal grond toe gaan nie. Die losbal word genadeloos gejag, nie net deur die losvoorspelers nie, maar deur elkeen binne trefafstand. Die Reds het net nooit die luuksheid gehad om ’n bal te laat rondlê nie en dit was veral Tiaan Liebenberg en Gio Aplon wat vinnig op los goed geteer het. Boonop het die Stormers die vermoë ontwikkel om rondom die losskrum met vinnige verdediging te verras. Telkemale is ’n Reds-speler afgehaal om te sien dat hy die bal afgestaan het omdat ’n verdediger opgeduik het net waar hy nie verwag of gewens was nie. Dit het alles veroorsaak dat die Reds se tyd om ’n aanval in te rig baie beperk was.

Einstein het gesê dat ’n kranksinnige mens iemand is wat ’n eksperiment oor en oor herhaal en elke keer ’n ander uitslag verwag. Om deurlopend aan te val met dieselfde resultaat – nóg ’n uitgedoofde aanval, nóg ’n verlore bal, nóg ’n bal wat skielik terug geskop word oor al daardie meters wat jy so duur gekoop het – laat ’n span naderhand effens mal voorkom en dis wanneer ’n speler wat normaalweg nugter dink, soos Will Genia, sotlikhede aanvang, soos om te reken hy kan die vlakopstormende Stormers-linie koudsit met ’n boogskoppie uit sy eie kwartgebied. Die gevolg was ’n teenaanval waarin Kitshof, die jong kerriekopstut fyntjies langs die kantlyn afgetrippel het, op een of ander manier binne gebly het en die bal aangestuur het na Aplon wat weer sy aangee te midde van ’n sweepslaglak nie vir iemand nie, maar na ’n algemene area, gegooi het waar dit tog opgeraap is en die ander aanvallers kon deurslaan. Uiteindelik was dit Peter Grant wat tussen oorhoopse Reds-verdedigers deurgedwaal het vir ’n drie.

Die Stormers se ander drie was ’n langafstandspanpoging wat uiteindelik voltooi is deur Gio Aplon. Grant se korrel was die hele aand in en na al die Reds se harde werk was dit die Stormers wat gaan lemoenskyfies eet het met ’n voorsprong van 17-3.

Toertamheid het die Stormers in die tweede helfte gevang en van teenaanvalle was daar nie sprake nie. Hulle is verrinneweer in die skrums en het net soms hulle eie lynstaanballe gewen. Maar die verdediging het steeds gehou. Die Reds se enigste drie was nie die vrug van volgehoue, deurpriemende aanvalle nie, maar van ’n lynstaanblaps deur die Stormers net buite hulle doelgebied. Deon Fourie het die bal eenvoudig oor sy slotte gegooi tot waar James Horwill losgestaan en die bal sonder ’n verdediger voor hom gevang het. Vyf maklike treë vir ’n drie.

Dit was die Reds se enigste punte in die tweede helfte en die Stormers kon self net twee strafskoppe se punte insamel vir ’n 23-10 oorwinning.

’n Mens sou wou sien dat die Stormers se gevaarlike agterlyn meer bestendig begin vuur. Maar selfs sonder trosse drieë, as dit bloot van hulle verdediging afhang, kan die Kapenaars hierdie jaar dwarsdeur druk en die hand aan die trofee slaan.

Krieketster in kaping doodgeskiet

E-pos Afdruk PDF
'n Voormalige Namibiese en Suid-Afrikaanse krieketspeler Louis Vorster is in Muldersdrift doodgeskiet Dinsdagaand, het Gautengse polisie gesê.

Hy het 'n vulstasie verlaat toe 'n goue Volkswagen met twee swart mans sy pad geblokkeer het, het gesê Lt-Kol Tshisikhwawe Ndou.

Een van die mans het 'n skoot na hom geskiet, terwyl die ander na die passasierskant van sy voertuig geloop het en 'n sak gegryp het. Hulle het gevlug.

"Hy was op die toneel dood verklaar," sê Ndou, en het bygevoeg dat 'n moordsaak geopen is. Hy kon nie bevestig of die persoon Vorster was nie.

Vroeër Dinsdagaand, het Sport 24 berig oor die nuus van Vorster se dood op die sosiale netwerk-webwerf, Twitter.

Die omstandighede rondom sy dood was duidelik nie, maar hy is buite Pretoria geskiet het, het hulle berig.

Onder die twiete was een van die Proteas se Albie Morkel: "Vanaand huil ek soos 'n baba oor 'n verlore groot vriend. Rip Louis Vorster ... # anothercrimevictiminSA!!"

Voormalige Proteas-draaibouler Pat Symcox het getwiet: "Louis Vorster ex-krieketspeler doodgeskiet buite Pta vermoor soooo sooo hartseer. Wat 'n mooi man!"

Die Proteas se kolwer, Jacques Rudolph: "Nog 'n sinnelose moord in SA ... RIP Louis Vorster".

Daar was ook 'n pos deur die Suid-Afrikaanse swemmer Ryk Neethling: "'n groot man se lewe is met geweld geëindig vanaand RIP Louis Vorster.".

Vorster het sy eersteklas debuut gemaak in die 1985/86 seisoen en Noord-Transvaal, Noord-Wes, Namibië, Matabeleland, Transvaal en die graafskap van Worcestershire in Engeland verteenwoordig.

Sy laaste genoteerde eersteklaswedstryd vir Namibië teen Oostelikes in Windhoek was in Oktober 2009.

Hy het 4786 eersteklaslopies teen 'n ​​gemiddeld van 33,23 behaal, met 'n hoogste telling van 188.

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL