In die middel hiervan lê Grasmere, 'n klein dorpie, prentjiemooi en veral bekend vanweë die digter William Wordsworth (1770-1850), wat hier gewoon en gedig het. Hy het Grasmere die lieflikste plek wat ooit ontdek is genoem en dit treffend soos volg verewig:
I wandered lonely as a cloud (1815)
I wondered lonely as a cloud
That floats high o’er vales and hills,
When all at once I saw a crowd,
A host of golden daffodils---
Beside the lake, beneath the trees,
Fluttering and dancing in the breeze.
Ja, toegegee, vandag is Grasmere oorgegee aan die toerismenywerheid, en bestaan die dorpie hoofsaaklik uit geskenkwinkels, restaurante en gastehuise. Tog het dit, veral te danke aan die eenvormige boustyle met leiklip, die welige plantegroei en die afwesigheid van Amerikaanse kitskos en koffiewinkels, baie van sy sjarme oorgehou.
Verblyf is volop; daar is baie gastehuise en hotelle om van te kies. Reg in die middel van die dorp is die Red Lion Hotel, wat, indien jou begroting dit toelaat, glad nie 'n slegte keuse is nie.
Onthou om jou stapskoene in te pak; hier is myle se staproetes wat deur toeriste van oor die hele wêreld deurkruis word. Mens sien veral families, wat met hul kinders hier kom stap as ontvlugting van die stad. Die area is baie stapvriendelik en oud en jonk geniet dit om die talle staproetes te ontdek tussen meer, boom en bos.
Dit is nie te ver om vanaf die dorpie na die Grasmere-meer self te stap nie, en die ervaring is op sy beste vroeg in die oggend, terwyl die mistigheid orals om jou opstyg. By die meer aangekom kan jy ook 'm roeiboot tussen die maande van Maart tot November huur.
Moenie Sarah Nelson se bekende gemmerbroodwinkel mis nie. Sarah het in 1850 begin om gemmerbrood te bak en die geheime resep het oor geslagte heen behoue gebly. Die winkel was oorspronklik 'n skool waar William en Dorothy Wordsworth skoolgehou het.
Sarah Nelson se gemmerbroodwinkel, in 1860 en hoe dit nou daar uitsien.
Dove Cottage is gerestoureer om mens 'n idee te gee van hoe dit gelyk het toe Wordsworth daar gebly het. Reg langsaan is ook die bekende Wordsworth-museum.
Dove Cottage waar Wordsworth gewoon het.
| Volgende > |
|---|








