‘n Indiër en sy 18-jarige seun het op 'n aanklag van meineed voor die hof verskyn nadat hulle gelieg het oor 'n rooftog.
Raj Veerna, 40, en sy seun, Shanil, het Donderdag voor die landroshof in Oos-Londen verskyn.
“Hulle is in hegtenis geneem toe die polisie uitvind die klag, wat hulle op 5 Maart gemaak het, is vals,” het Supt. Mtati Tana gesê.
Die twee het aan die polisie gesê hulle is langs die pad van twee maande se salaris beroof toe hulle motor onklaar geraak het.
Dit het egter later geblyk dat die Veerna's hulle werkgewer se motor gesteel het en pakke lekkers wat in die voertuig was, sonder toestemming verkoop het.
Hulle het die geld vir hulself gehou en gesê dat ‘n groep onbekende mans hulle beroof het.
Die twee word van diefstal en meineed aangekla en sal 18 Maart voor die hof verskyn.
| < Vorige | Volgende > |
|---|








