Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) is glo besig om hulle eie personeel te ondersoek nadat sowat R4 miljoen se juweliersware gesteel is, het die Saturday Star berig.
“Dit was ‘n interne misdaad gewees en dit is aaklig. Daar is geen tekens van ‘n inbraak nie. Iemand het ingekom, die plek geplunder en toe weer die deur gesluit,” het Vassiliki Konstandakellis, hoof vir die ontwerp en vervaardiging van juweliersware, gesê.
Die juweliersware, wat diamante en onverwerkte platinum ingesluit het, is glo op 27 Januarie uit die kluis gesteel. Die werkers by die universiteit moes leuenverklikkertoetse ondergaan en een persoon het dit nie geslaag nie.
“Die ondersoek is op ‘n baie sensitiewe stadium. Ons het ook na beeldmateriaal van die kringtelevisiekameras gekyk. Ons kan egter nog geen inligting bekendmaak nie,” het Angelo Echardt, hoof van sekuriteit, gesê.
Volgens die polisie in die Wes-Kaap is hulle bewus van die voorval via die media maar is geen kriminele aanklagte nog aanhangig gemaak nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|








