Ses mans het ernstige beserings opgedoen en moes in die hospitaal opgeneem word nadat hulle deur inwoners van Westenburg in Polokwane aangeval is, het die polisie in Limpopo gesê.
Inwoners het Maandagaand die strate ingevaar opsoek na “verkragters en moordenaars” nadat ‘n moord Saterdagaand plaasgevind het, het insp. Llisi Ngoepe, ‘n polisiewoordvoerder, Dinsdag, gesê.
“Die mans, wat vermoedelik verantwoordelik was vir die moord op ‘n man van in die dertig, is gevang en aangeval. Hulle is in ‘n poel bloed in die straat gevind. ‘n Ander man is gevind waar hy in bosse gelê het.”
Ngoepe het gesê daar is tans 'n groot polisieteenwoordigheid in die gebied.
“Ons is opsoek na die mense wat by die aanvalle betrokke was. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het Ngoepe gesê.
Chris Botha, woordvoerder vir Netcare 911, het gesê sommige van die ses mans wat aangeval is, het aan paramedici gesê hulle is van Zimbabwe.
Hulle is met stomp voorwerpe geslaan.
Ngoepe het gesê die polisie beskou dit as ‘n geval van bende-geregtigheid.
“Ons weet nie eens of die beseerdes Suid-Afrikaners is nie, want hulle was bewusteloos. Ons kan nie spekuleer dat dit ‘n xenofobiese aanval was nie.”
| < Vorige | Volgende > |
|---|





