praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Nuus Suider-Afrika DA wil Franz Jooste se ‘haatkamp’ gesluit hê

DA wil Franz Jooste se ‘haatkamp’ gesluit hê

E-pos Afdruk PDF
Franz Jooste

‘n Mosie om die Afrikaneroorlewingsgroep, die Kommandokorps, se “haatkamp” gesluit te kry, is Dinsdag deur die provinsiale wetgewer van Mpumalanga aangeneem, het die provinsie gister laat weet.

Die Demokratiese Alliansie se mosie is Dinsdag aangeneem, het die provinsiale woordvoerder Lebona Mosia gesê.

“Ons ondersteun dit (die mosie) en stem saam dat dié ding gesluit moet word,” het hy verklaar.

Die DA se provinsiale leier, Anthony Benadie, het gesê die mosie was “‘n beslissende oorwinning in die stryd teen rassisme”.

“Die provinsiale polisiekommissaris van Mpumalanga, luit.genl. Thulani Ntombela, is gevra om elke moontlike regsmiddele tot sy beskikking te ondersoek om die kamp se werksaamhede te beëindig, tesame met ‘n volle ondersoek oor wat daar gebeur,” het Benadie in ‘n verklaring gesê.

“Die vergadering verwerp rassisme van elke moontlike aard, sowel in dié vergadering as elders in ons provinsie. Die voortbestaan van hierdie kamp moet as ‘n belediging vir ons demokratiese orde beskou word, en moet dadelik gestuit word.”

Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat die Kommandokorps se instrukteurs seuns so jonk soos 13 geleer het dat daar ‘n rasseoorlog in die land woed en dat Suid-Afrika se swart bevolking hul vyand is.

Met ‘n opleidingsprogram van die infanterietipe, is aan die jeugdiges deur die kampleier Franz Jooste, 57, ‘n lesing oor rasseverskille aangebied, wat die bewering ingesluit het dat swartmense oor ‘n kleiner serebrale korteks as blankes beskik en nie inisiatief kon neem of doeltreffend kon regeer nie.

Hy is aangehaal as sou hy gesê het dat, benewens die inboorlinge in Australië, die Afrika-swartmens die “mees onderontwikkelde, barbaarse lid van die mensdom is”.

Jooste het Maandag dié berigte ontken.

“Daar was geen uitings van haatspraak nie. Die kadette word geleer om hul eie taal, kultuur, tradisies, godsdienste en ras lief te hê. Dit staan in die grondwet,” het hy in ‘n verklaring gesê.

Volgens Benadie het die opleiding op ‘n plaas buite Carolina in Mpumalanga plaasgevind.

“Dis geen permanente kamp of militante basis nie, en die eienaars van die plaas het geen verbintenis met die Kommandokorps nie,” het hy gesê. “Terwyl die DA-mosie nou ‘n besluit van die provinsiale wetgewer verteenwoordig en toegepas moet word, het die DA reeds die eienaars van die plaas opgespoor en indirek met hulle kontak opgeneem, en ‘n beroep op hulle genoem om geen verdere Kommandokorpsopleiding of -aktiwiteite by hul fasiliteite toe te laat nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: