praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Nuus Suider-Afrika VF+ skrik nie vir toldreigemente nie

VF+ skrik nie vir toldreigemente nie

E-pos Afdruk PDF
"Die Vryheidsfront Plus glo dat die minister van Finansies, Pravin Gordhan, 'n diskriminerende pryslokval vir die padverbruikers van die Gauteng-tolhekstelsel in sy begroting gister gestel het. Die party is nie gelukkig met die klaarblyklike toegewing van 'n plafon van R550 wat gestel is vir die betaal van tolfooie nie. Die projek moet eerder in sy geheel geskrap word," sê adv. Anton Alberts, die parlementêre woordvoerder oor Ekonomie vir die VF Plus.

"Die minister het nie die versekering gegee dat hierdie R550 plafon nie jaarliks sal styg nie. Padverbruikers kan daarom verwag dat daar 'n jaarlikse toename in die maksimum bedrag wat betaalbaar is vir tolfooie, kan wees. Die jaarlikse toename kan oor 'n periode van 4 jaar geskied totdat die staatskuld vir die projek gedelg is. Die minister stel dus 'n lokval vir padverbruikers om te glo dat hulle nooit meer as R550 gaan betaal nie," het Alberts verduidelik.

Die praktyk is ook diskriminerend omdat motoriste wat noodwendig nie van openbare vervoer gebruik kan maak nie, tolfooie gaan betaal terwyl taxi's en busse geen fooie hoef te betaal nie. Tog maak beide taxi's en busmaatskappye geld uit die gebruik van die tolpaaie. Die meeste motoriste se begrotings is reeds onder soveel druk en die tolfooie is te veel om in hul begrotings te pas. Selfs met die klaarblyklike toegewings gaan die Gautengse ekonomie geknou word deur die instel van tolfooie in April.

Dit sou meer logies gewees het indien die minister aangekondig het dat die bou en instandhouding van paaie uit brandstofheffings betaal sal word. Indien die regering vanjaar 'n ekstra R5 miljard in die begroting kon vind vir die afbetaling van die tolpad-projek, kan die regering oor die volgende vier jaar dieselfde bedrag in die begroting vind totdat die regering die skuld afbetaal het. Die regering is ondeurdag met die beplanning van die projek gewees en is onbeholpe met die vind van 'n oplossing om die skuld vir die tolpad-projek te delg.

"Die VF Plus is nie geïntimideer deur die dreigement van die regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi, dat motorist wat weier om tolfooie te betaal, vervolg sal word nie. Die party wil 'n ferm boodskap aan hom en die regering stuur dat die tolpadprojek immoreel en diskriminerend is en geen legitimiteit het nie. Die party sal daarom afsonderlik en in samewerking met vakbonde en burgerlike organisasies voortgaan met die beplanning vir regstappe en burgerlike protesaksies teen die tolpadtariewe," het adv. Alberts gesê.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: