Nuwe vliegtuiginterieurontwerpe mik vir meer passasiers met minder gerief. Eenvan die kontroversiële ontwerpe wat ruimte en geld bespaar, behels passasiers wat in lang rye teenoor mekaar sit.
Howard Guy, direkteur van die Britse ontwerpmaatskappy Design Q, sê mense gaan nie gelukkig wees met die nuwe uitleg nie, maar hulle sal nie omgee om minder te betaal nie.
"Natuurlik sal passasiers vlugte kan bespreek waarop daar die tradisionele sitplekplan is, maar hulle sal vir daardie luukse moet betaal."
Guy voorsien dat die nuwe sitplekplan 50% meer passasiers sal beteken en 'n vermindering van 30% op die kaartjieprys.
Hy het egter toegegee dat die nuwe sitplekke nie vir langer as twee uur gemaklik sal wees nie.
Die plan sal vir kort afstande werk, "enige iets tussen 30 en 80 minute".
Trollies met verversings sal ook nie deur die nou gangetjies gestoot kan word nie en dus sal reisigers nie iets kan geniet op die vlug nie.
'n Ander opsie wat Ryanair ondersoek het, is vertikale plekke waar passasiers eerder staan as sit. Hulle wil die staanplekke en kroegstoeltjies agter in die vliegtuie aanbring en passiers so in staat stel om gratis te reis as die vlugtyd onder 'n uur en half is.
Die idee om ruimte te maksimaliseer word in ander vorme van transport soos luukse privaatstralers gebruik, sê die maatskappy.
Ligter sitplekke sal minder brandstof en meer passasiers beteken.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





