Nelson Mandela se gesig sal op 'n nuwe reeks banknote verskyn, het pres. Jacob Zuma Saterdag in Pretoria aangekondig. Die rand het dadelik na dié aankondiging na benede getuimel.
Dié note sal Suid-Afrikaners help om te onthou wat hulle bereik het, het Zuma aan verslaggewers gesê by 'n funksie wat ook deur Gill Marcus, goewerneur van die Reserwebank, en Pravin Gordhan, die minister van finansies, bygewoon is.
"Dit is 'n toepaslike herdenking van Mandela se bydrae tot die geboorte van demokrasie in Suid-Afrika, sowel as sy aansienlike positiewe impak op nasionale versoening," het die DA in 'n verklaring bygevoeg. Die DA het die "gelukkige" aankondiging verwelkom.
Vroeër Saterdag, het die Duitse internasionale nuusagentskap DPA egter berig dat 'n gebrek aan besonderhede oor die aard van die aankondiging kortliks markte negatief beïnvloed het. Die rand het sowat 2,5 persent teenoor die dollar getuimel.
"Handelaars is bekommerd dat die sentrale bank van Afrika se grootste ekonomie op die punt is om 'n drastiese beleids- of personeelverandering te maak, terwyl markte gesluit is," het DPA gesê.
Ná gerusstellende kommentaar deur bankamptenare, wat aangedui het dat die nuus nie ook rentekoersveranderings of bedankings sal insluit nie, het die rand herstel.
Die aankondiging sou aanvanklik om 13:00 gemaak word, maar is toe tot 15:00 verskuif.
Hoewel die Reserwebankgoewerneur Gill Marcus om verskoning gevra het vir die verwarring, was sensitiwiteit vir die skedulering van dié groot aankondiging nie deur die bank in ag geneem nie, sê markontleders.
Marcus het gesê die nuwe banknote sal oor 'n tydperk ingefaseer word, en die huidige note sal steeds ná die bekendstelling wettig gebruik kan word.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





