Dié bekende kultuurhistoriese erfenisterrein waar vanjaar (oor minder as twee weke) weer 'n Majubafees aangebied word, was bestorm deur 24 jongmanne van die Perdekommando en Verkennerbeweging van Suid-Afrika. Hulle was slegs bewapen met grassnyers, bossiekappers, kettingsae, skrapers en verfrollers. Mnr Hendrik Eksteen was die bevelvoerder.
Hulle het daarin geslaag om die swartwattelbome(pes) en lang gras te tem.
Die mans- en damesbadkamers in die jeugherberg het 'n splinternuwe laag verf gekry en die grasdakkleedkamers in die kampeerterrein spog met 'n nuwe stelsel waterpype nadat vandaliste ál die koperpyper (sug!) verlede daar afgesteel het.
Na verwagting, sal meer as 3000 Afrikaners/Boere gedurende die laaste naweek van Februarie daar kom uitkamp om die heldedaad van ons krygers te vier wat die Engelse mag 131 jaar gelede oortuigend verslaan het.
Nuwe vlagpale is ook opgerig in voorbereiding van 'n seremonie wat insluit die hysing van die Transvaalse en Vrystaatse vlae, oggendoordenking asook die feesrede deur mnr Andries Breytenbach, voorsitter van die Boere-Afrikaner Volksraad.
Die Majubafees word gereël deur die GHA.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





