Dink ’n mens aan Mercedes-Benz, dan sien jy groot lomp karre vir oumense, maar die teendeel is egter in 2010 van die moderne Mercedesse waar.
Daar is werklik ’n rasegte Mercedes vir elke segment of smaak beskikbaar. Die ongelooflike is dat elke Mercedes wat by ’n handelaar se deure uit ry werklik soliede kwaliteitmotors is net soos dit ’n ware Mercedes betaam. Van die heel goedkoopste A180 tot by die duurste SL65 AMG Black Series is die bougehalte dieselfde. Baie keer kom 'n mens teë dat die goedkoper modelle van ’n sekere vervaardiger se boukwaliteit of toerusting veel te wense oorlaat. Ons het die A180 CVT onder hande gehad. Die motor is nou wel die kleinste Mercedes beskikbaar, maar die standaardtoerusting sowel as die gevoel wat die motor bied, is werklik besonders. Baie ander vervaardigers maak motors wat heel kompeterend is en goeie gehalte en ekonomie bied, maar min het nog reggekry waarmee Mercedes met die A-klas geslaag het.
Bakwerk
Die motor is baie slim ontwerp met meer as genoeg spasie waar dit nodig is en met minimum oorhange voor en agter is daar ook nie onnodige bakwerk nie. Die motor is kort; om die waarheid te sê hy is 3,8 meter van stamper tot stamper, ’n hele 2 meter breed van spieël tot spieël en 1,6 meter hoog. Die wiele is reg op die hoeke gemonteer en die daklyn bereik sy hoogste punt waar die voorste windskerm en die dak bymekaarkom. Ons kan nie anders as om hierdie ontwerp as briljant te beskryf nie. Die gevolg is baie spasie binne-in die motor, die voorste sitposisie is hoog, maar nie ongemaklik nie, die agterste passasiers het werklik meer as genoeg been-, skouer- en kopruimte. Vergelyk die spasie in die A-klas met ander motors in sy segment soos die VW Golf 6 wat tans Suid-Afrika se motor van die jaar is en jou mond sal oopval. Dit is nie asof die Golf ongemaklik of klein is nie, maar die Benz doen dit net soveel beter. Die Golf is 4,2 meter lank; tog is die binneruim nie naastenby so ruim soos dié van die A-klas nie. Rondomsig vanuit die bestuurdersitplek is ook puik. Die groot glasoppervlaktes rondom die A-klas maak parkering en veral truparkering baie maklik.
Binneruim en toerusting
In egte Mercedes-styl is daar hope standaardtoerusting en ons toetsmotor was in die “Elegance”-pakket uitgedos. Daar is drie afwerkingspakkette beskikbaar op elke modelreeks in die Mercedes-Benz-stal. “Classic” is die gewone afwerking met niks wat blink of fyn is nie, “Avantgarde” is die sportiewe afwerking met meer sportiewe sierwiele, alluminium en koolstofafwerking en dan die “Elegance” wat ’n meer luukse tydlose afwerking met hout en chroom insluit. Die Elegance sluit ook 16-duim fynspeeksierwiele in wat die motor net nog meer spesiaal laat voorkom. Die binneruim van ons toetsmotor was uitgevat in ’n ligte roomkleur wat die motor nog groter laat voel as wat hy werklik is. Baie goeie gehalte matte en die plastiekinsetsels op die voorste paneel asook die greep op die stuurwiel is alles net soveel anders as in enige ander motor wat ons al bestuur het. Ek het werklik dieselfde gevoel wat jy in ’n E-klas of selfs ’n S-klas ervaar in hierdie motor aangetref en dit vir minder as R300 000 of anders gestel dieselfde as wat jy vir ’n Golf 6 met dieselfde spesifikasie sal betaal. Die been- en kopruimte vir al die insittendes is uitstekend, deure maak wyd oop en die vloer is relatief laag. Die A-klas is ’n vyfdeurluikrug, met ander woorde die groot agterste deur maak ook hoog en groot oop sodat groter begasie maklik gelaai kan word. Die drumpel vanaf die pad na die begasievloer is nie te hoog soos in sommige ander luikrûe nie. Met die agterste sitplekke wat nog kan platvou ook, het die A-klas hope laairuim vir groot stukke begasie. Die daklyn is hoog, amper in die klas van veel groter motors soos die Renault Scenic of VW Touran. Sitplekke in ons toetsmotor het meer as genoeg systeun en rug steungebied en dit was ten volle verstelbaar vir reik en hoogte. Al die instrumente is net reg geplaas, alles voel net reg, nie te ver en nie nie te naby nie, nie onder iets weggesteek of agter iets anders gemonteer nie. Met skoon instrumente wat duidelik leesbaar is en met satellietkontroles vir die telefoon en radio op die stuurwiel lyk en voel die baba Benz baie spesiaal.
Padgedrag
Kyk ’n mens na die motor se hoogte en lengte dan lyk hy met die eerste oogopslag effens ongemaklik regop, maar die gewigsverspreiding en die gewigsverplasing van die motor is so te sê perfek. Hy voel en bestuur soos’n groot motor. Min padgeraas , min windgeraas en ’n goeie terugvoer deur die onderstel bied eintlik baie meer as wat ’n mens in ’n motor onder R300 000 verwag. Die stuurwiel se terugvoer is regtig besonders en die motor doen wat jy wil hê hy moet doen. Rondomsigbaarheid is uitstekend en omdat die motor se wiele ver op die hoeke gemonteer is, draai hy regtig kort. In regte Mercedes-tradisie is al die veiligheidskenmerke in die motor ingebou: daar is ABS-remme, EBD-remverspreiding, ASR-glybeheer, lugsakke vir alles en almal. Die verrigting van ons toetsmotor was nou nie dié van ’n Golf Gti nie, maar vir ’n klein motortjie met ’n 1,6-literenjin is dit glad nie sleg nie. Ons kon ’n maksimumsnelheid van 190 km/uur haal en die 100 km/uur-merk het in 11,5 sekondes gekom. Ons toetsmotor is ook toegerus met die 5-spoed outomatiese ratkas wat dinge so effens stadiger doen as die handratmodel. Brandstofverbruik was bietjie teleurstellend vir dié tipe voertuig: ons kon slegs 10,8 l/km behaal en dit was heeltemal te onekonomies na ons mening vir ’n 1,6-liter stadsmotortjie. Weereens, die outomatiese ratkas het die syfer erg beïnvloed, maar aan die ander kant outomaties of nie, hy behoort baie meer ekonomies te wees.
Gevolgtrekking
Sal ons die Mercedes-Benz A180 outomaties met ons eie geld koop? Kyk bietjie rond en vergelyk wat anders kan jy koop wat vir jou dieselfde praktiese benutting kan gee, die VW Golf 6 1,4 TSi Highline? Ja, hy kos min of meer dieselfde, maar is nie outomaties nie en hy is die “Motor van die Jaar”, maar hy is kleiner binne en duurder. Jy voel ook nie heeltemal so spesiaal in ’n VW soos in ’n Mercedes nie. Die Audi A3 1,4 Tsi ( R257 000) is nader aan die kol, maar selfs met sy uitstekende boukwaliteit voel nie soos ’n Mercedes nie en hy is nie outomaties nie. Die A-klas het genoeg teenwoordigheid om in enige geselskap tuis te wees; óf jy nou by die golfbaan, skool, kerk óf by die Westcliff is, hy voel en lyk net reg. Teen R239 000 plus R15000 vir die CVT outomatiese ratkas en R10 700 vir die Elegance-pakket kom die A180 CVT Elegance in op R264 000 en die prys sluit Mercedes se MobilioDrive 120-onderhoudsplan ook in. Die Mercedes A180 is werklik soos dit behoort te wees: kompak, maar ruim, met uitstekende boukwaliteit en die gevoel van ’n groot motor. Die driepuntster op die neus en meer as genoeg aandklere om in enige geseldkap in te pas, maak 'n wenner daarvan.
Padtoetse








Ons het so pas een van daardie klein botteltjies raak geloop. Renault se Clio Renault Sport of die RS, soos hy bekend staan, het ’n draai by ons gemaak. Anders as die vorige Clio Renault Sport-modelle word hierdie Clio nie deur ’n V6- middelgemonteerde monster aangedryf nie. Nee, hierdie is ’n baie fyn besnaarde vier silinder wat seer byt. En die wonderlike van die eenheid is dat daar geen turbo is nie; dit is net pure enjintegnologie wat tot op die uiterste toe gespan is. Die Clio RS laat my nogal dink aan ’n kruisboog ; jy weet hy is gevaarlik, maar aan die ander kant is hy mos nie regtig ‘n vuurwapen nie. Maar boeta, skuif bietjie agter daardie stuurwiel in.
Vir die gewone ou op straat sal dit ‘n rukkie neem om gewoond te raak aan die harde onderstel, dit is nou nie ’n Gti of OPC dié nie. Dit voel kompleet of jy agter die stuur van ’n renstel (go-cart) sit. Jy sit laag en die rensitplekke vou letterlik hier om jou middel om jou stewig in posisie te hou. Die instrumentepaneel is pure Renault en verskil nie veel van die nuwe Clio s'n nie, so ’n mens voel darem nie heeltemal ontuis agter die stuur nie. Daar is oral subtiele vlekvryestaal-insetsels met Renault Sport-kentekens op wat jou herinner dat jy nie in ‘n gewone Clio is nie. Die kort ratkierie en dikraamleerstuurwiel is ‘n baie subtiele, meer verfynde, amper sagter herinnering daaraan dat hierdie nie die brutale gedierte is wat die vorige Clio V6 RSe was nie. Hierdie motor is meer gerig op die gewone ou, wat soos ‘n renjaer wil voel.
Van buite is die Clio RS heelwat anders as sy gewone Clio-stalmaat. Dit is veral die kleur van die motor wat ‘n regte Renault Sport-blou is. Jy sal nie sommer ‘n gewone Clio in dié kleur kry nie. Die RS het dan ook net drie deure wat wyd oop maak en ons was nogal verbaas oor die hoeveelheid bagasieruimte wat die motortjie bied. Die in- en uitklim is maklik al sit jy so effens laer as in ‘n gewone motor; selfs die agterste passasiers kan maklik met die sitplekke wat vorentoe skuif as die ruglening op gelig word, agter in glip. Daar is natuurlik nie baie sitspasie binne die Clio nie, na regte is dié net ’n viersitplekmotor. Kry jou sit en draai die aansitter, ja draai die aansitter, anders as waaraan ons gewoond geraak het met Renaults het die Clio RS wel ‘n sleutel wat jy moet insit en draai soos in die ou dae. Wanneer die tweeliter- viersilinderenjin aan die luier gaan, het nie net een persoon vir my gevra of dié ‘n V6 is nie, maar ’n hele paar. Die enjin klink by luierspoed net soos ’n V6-motor. Miskien is dit omdat die mense geweet het die vorige RS was ’n V6, maar ons vermoed dat dit eerder die twee aggressiewe uitlaatpype is. Die pype sit net soos die Gordini's van ouds se pype amper in die middel van die agterste buffer, net aan die binnekant van die twee agterligte, baie imponerend en ‘n duidelike teken van die motor se sportiwiteit.
Die Clio RS het ons werklik beïndruk deur sy werkverrigting en veral hantering. Wanneer jy die stuurwiel draai en vet gee, is daar geen weifeling nie, die kar gaan vinnig waar jy wil hê hy moet gaan. Hy is voorwielaangedrewe, so daar is ‘n baie klein bietjie onderstuur, maar dit is werklik so min dat dit amper nie genoem hoef te word nie. Met ons verrigtingstoets het die Clio RS my telkens verras met hoë vinnig en sekuur hy doen wat jy wil hê. Ons het die topspoed van 225km/u maklik gehaal en 100km/u kom sonder enige aarseling binne 6,9 sekondes aan. Die 2,0 liter petrolenjin lewer 147,5 Kw. se krag en 215 Nm. se wringkrag. Dit is indrukwekkend, veral as ‘n mens dit vergelyk met die 155 Kw. wat die GTi met ’n turbo lewer. Die Clio RS is breër as die gewone Clio, sy asafstand is met 10 mm verleng om meer stabiliteit te gee en die vet tekkies van 17 duim pas mooi vol in die wielboë op elke hoek van die motor. Die remme in die Clio RS is 312 mm Brembo geventileerde skywe, so jy sal stop as dit moet. Daar is ses ratte met ratverhoudings wat korter en meer skuur is as vantevore. Ons het met al hierdie werkverrigting steeds ‘n brandstofverbruiksyfer van 8,5 ℓ/100km aangeteken. Goed vir ’n verrigtingsblitsbuks!
Anders as die Clio RS, is die 1.6 Dynamic ’n groot kar, nou nie regtig nie, maar daar is heelwat meer binneruimte en hierdie Renault bied regtig baie vir die geld wat jy uithaal om hom in jou motorhuis te parkeer.
Die Clio 1.6 Dynamic is ook toegerus met splinter nuwe 16 duim allooi vellings as standaard en kyk jy na die res van die motor dan kan daar duidelik lyne van die nuwe Megane gesien word, veral in die voorste ligte. Die Clio se wiel afstand is nou 41 mm langer as die vorige generasie om sodoende ‘n werklike indrukwekkende 1343mm skouer hoogte en agterste kop ruimte van 886 mm te bied.
Kom ons by die prys van die Clio 1.6 Dynamic het ons aanvanklik gedink die motor is duur, maar kyk na sy mededingers ( Ford Fiësta 1.6 Titanium R195 650, Mazda 3 1.6 Dynamic Sport R225 520 en Peugeot 207 VTi Dynamic R200 000 ), wat almal minder toerusting en veiligheidstoerusting as die Clio het, dan klink die R194 900 na ’n goeie koop. Ingesluit by die prys is ‘n 3-jaar 45 000 km-diensplan en Renault se 100 000 km/ 3 jaar-waarborg.






Wel, as jy nou ’n Volkswagen aanhanger is, sal jy onmiddellik die GTi raak sien met sy kenmerkende sierwiele. Die wiele is so eiesoortig dat dit moeilik is om die motor mis te kyk al is die res van sy aandpak effens verlede jaar.








