Jy is hier: Menings Kommentaar Weet die linkerhand....?

Weet die linkerhand....?

E-pos Afdruk PDF

Vanaand voer pres. Jacob Zuma na verwagting samesprekings met bekende Afrikaners en Afrikanerorganisasies. Buitengewoon baie is op die spel.

Dié samesprekings volg kort op die hakke van ‘n nuwe nuusstorm wat Zuma se aangewese kroonprins, Julius Malema eiehandig veroorsaak het. Dié hofnar loop hom nou minstens tien klagtes van haatspraak op die lyf.

Soos gebruiklik is die werklike probleem nie dat Malema dit sê nie, maar dat die ANC laer om hom trek.

Aanvanklik is ontken dat Malema sekere woorde kwytgeraak het, maar die SABC was braaf genoeg om aan te dui dat dié instelling beeldmateriaal het wat aandui dat hy dit wel geuiter het. Die ANC se reaksie was om te ontken dat dié bevrydingslied haatspraak behels.

Die media wys egter daarop dat die ANC die lied reeds in 1993 verbied het.

In die proses het Malema nou die minister van polisie, Nathie Mthethwa, effektief gerepudieer nadat die minister op lange laas plaasmoorde baie gekwalifiseerd veroordeel het. Mthethwa het politieke partye gevra om nie politiek van plaasaanvalle te maak nie, maar hieroor steek sy eie party nou vir hom ver tong uit.

Zuma is egter ‘n ervare Houdini. Pas het hy weer die ongeneentheid met Solidariteit se misdaadveldtog in ‘n geleentheid omskep om dié vakbond met mooi woorde ‘n rukkie lank te pasifiseer, en selfs om lof aan Zuma toe te swaai.

Gaan Zuma dit vanaand weer regkry?

Dié keer is die teerling, wat die publiek betref, egter gewerp. Zuma mag dalk vanaand die afvaardiging met sy bekende sjarme om sy pinkie draai, maar in die oë van die publiek gaan die samesprekings net nog hol woorde wees as Malema nie onomwonde vasgevat word, en die probleem op ‘n manier blywend aangespreek word nie.

In ‘n sekere sin bevind Zuma hom nou tussen die duiwel en die diep blou see, en sekere mediagroepe bespiegel kliphard oor tekens dat die president se uurglas binnekort leeggeloop gaan wees.

Zuma het inderdaad nie net te kampe met, wat Jakes Gerwel en Max du Preez verregsing noem nie, maar ook groeiende verset aan die teenoorgestelde kant van die politieke spektrum waar Comrade Winnie haar mond uitspoel. Die verregsing is in ‘n groot mate die resultaat van Malema se ongetemde losbekkigheid, terwyl ander groeperings hul pond vleis begin opeis na Zuma met beloftes Kersvader gespeel het.

Zuma besef ook dit is nie meer so maklik om Malema vas te vat en sodoende polarisasie in die land te help temper nie. Waarnemers wys al ‘n geruime tyd daarop dat Malema se radikalisme ‘n breë stroom onder die swart jeug verteenwoordig. Malema self is dus nou net die oortjies van die seekoei.

Tog het Zuma in die praktyk nie vanaand ‘n keuse nie. Geen Houdiini-toertjie om Malema te laat loskom gaan meer goed genoeg wees om polarisasie te stuit nie.

Zuma moet duidelik sy voet neersit, én dit bedoel, en daar moet sigbaar van werk gemaak word. As hy nie die ruggraat hiervoor het nie, moet hy plek maak vir iemand wat wel ernstig oor die land se toekoms voel.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: