In die woude van Sentraal-Amerika word steeds stede ontdek wat eeue gelede deur die Mayas bewoon, en dan skielik verlaat is net om elders weer ‘n stad met piramides, paleise en tempels te bou.
Nadat lank kopgekrap is oor die oorsaak vir hierdie proses, is tot die gevolgtrekking gekom dat dit die gevolg van roofbou was. ‘n Stuk woud is afgebrand, en gate is met ‘n skerp bamboes in die grond gedruk en mieliepitte daarin gegooi.
Na ‘n ruk was hierdie grond uitgeput, en is ‘n volgende stuk woud afgebrand, tot die afstand tussen die landerye en die stad met sy regerende elite te ver geword het. Dan is ‘n nuwe stad gebou, en die proses het van vooraf begin.
Tot, op ‘n dag, is geen nuwe stad gebou nie. Met die aankoms van die Spaanse veroweraars is taamlike primitiewe Mayastamme gevind waarvan die inwoners nog onthou het dat hul oupas en oumas eens in van hierdie stede gewoon het.
Die skielike tot stilstand kom van hierdie beskawing was egter meer kompleks as net die roofbou in die landbou, en hoe dieper gedelf word, hoe meer raakvlakke word met die huidige Suid-Afrika gevind.
Ten eerste het slegs ‘n klein persentasie elite, hoofsaaklik die adel en die priesters, die voordeel van die beskawing beleef. Hierdie elite het geleer lees en skryf, hulle het van die mees verstommende astronomie van hul tyd gelewer en ‘n besonder akkurate kalender opgebou. Hulle het in die paleise en tempels gewoon.
Die gewone mense het vlak naas hierdie stede in bamboesskuilings onder betreklik haglike omstandighede gewoon. Hulle self het min voordele uit die beskawing geput, en moes nog bykomend tot liggaam en siel aan mekaar hou, hard werk om die elite in staat te stel om in die glans van ‘n gloriebeskawing te baai.
Tot op ‘n dag.
In Suid-Afrika het ‘n eietydse Mandarynse elite tot stand gekom, wat oor en oor die vrugte van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging oes. Enkele jare gelede het Suid-Afrika Brasilië verbygesteek as die meetbare land met die grootste welvaartsgaping.
Vanoggend berig Volksblad van ‘n Gautengse maatskappy wat die tender ontvang het om die brandstof te voorsien aan staatsvoertuie wat onder meer veronderstel is om paaie te herstel. Terwyl berigte oor die meer gat as pad-toestand van Vrystaatse paaie toeneem, en verwere gehoor word soos dat daar nie geld vir brandstof is nie, maak dié maatskappy glo tot R2,50 wins per liter. Vrystaat Landbou het al ‘n geruime tyd gelede hierdie beweerde uitbuiting onder die verantwoordelike politici se aandag gebring. Niks het egter gebeur nie.
In teendeel, lyk dit asof amptenare wat vrae vra, verskuif of uitgewerk word.
Die naweek is ook berig oor hoeveel dit nou meer kos om uitvoervrugte uit die Noorde van Limpopo by die markte te kry weens die onrybaarheid van die paaie.
Die matrieksertifikate wat net meer as die helfte van die probeerders kry, is in ‘n groot persentasie van die gevalle niks meer werd as die algehele weerhouding van letter- en syfervaardighede wat die grootste deel van die Mayabevolking se lot was nie.
Die grondhervormingsplan het meer raakvlakke met die Mayas se roofbou as met ‘n herverdeling van hulpbronne.
Pres. Jacob Zuma is nou onder geweldige morele druk. Hy, as hy polities wil oorleef, moet nou ‘n aggressiewe moraliteitsveldtog voer om van korrupsie, nepotisme, wanbestuur en vele meer ontslae te raak. Hy het die voordeel dat hy nie ver hoef te soek na gevalle om voorbeelde van te maak nie.
Volksblad wys in sy hoofartikel egter ook uit dat Zuma se integriteit onder verdenking sal bly solank hy nie sy dag in die hof gekry het nie.
Intussen word die tekens al hoe meer dat Suid-Afrikaners ‘n Maya-tipe beskawing ontwikkel, een waar die elite die mooiste huise bewoon, sportstadions gebou word wat aan die Mayas se glans-tempels herinner, hul kinders privaat skole bywoon, die deftigste vuurwaens op die minder wordende gangbare paaie beweeg, maar die groot deel van die bevolking werkloos is of hande-arbeid verrig en busse, treine en taxi’s volprop.
Die omvang van rommelstrooi dui ook op ‘n gesindheid dat die mense deel voel van die paleise van die elite-beskawing nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|








