Die gebeure in Pretoria waar hoë geboue wat meesal deur arm swartes bewoon word deur kwaaddoeners aan die brand gesteek is, verteenwoordig bloot die jongste insident in die tragiese agteruitgang van ons middestede.
Pretoria se middestad, met sy mengsel van historiese geboue – die “oustad” soos die Europeërs sê – en voortreflike moderne wolkekrabbers wat vanaf die vyftigerjare opgerig is, was eens ʼn plek om op trots te wees.
Dieselfde geld vir die middestad van Johannesburg en die omliggende woonstelbuurte Hillbrow en Berea wat eens as die “Manhattan van Suid-Afrika” bekendgestaan het.
Vandat die ANC egter die munisipale bewind oorgeneem het, is die strate in Afrikabasaars omskep sonder inagname van wette en regulasies wat daar is om handel in ʼn stad ordelik en veilig te laat plaasvind.
Met die vlug van ondernemings en professionele blankes uit die stede, veral uit Pretoria, het ook die residensiële geboue verswart om wolkekrabberlokasies te word. Die ongesofistikeerde inwoners uit die lae inkomstegroep het eenvoudig nie die middele om hoë geboue wat elders ter wêreld in wêreldstede soos New York, Chicago, Tokio of Hongkong teen peperduur pryse verhuur of verkoop word, te onderhou nie.
Aasvoëlspekulante het in die Pretoriase middestad inbeweeg en sulke geboue teen ʼn appel en ʼn ei opgekoop en verhuur, wetende dat die uiteinde net verval kan wees. Waar sulke geboue deur die ANC-stadsraad weens wanbetaling van dienste oorgeneem is, is die geboue ook nie na behore onderhou nie en het dit tot die soort gebeure van die afgelope paar dae gelei waar uitgesette inwoners die geboue aan die brand gesteek het.
Die Pretoriase stadsraad belowe nou dat geboue soos Krugerpark opgeknap sal word om agterna deur dieselfde ongeskoolde laeinkomstegroepe betrek te word. Dus moet die onhoudbare idee van wolkekrabberlokasies nou deur die Pretoriase belastingbetaler onderhou word.
Totdat daar behoorlike stadsbeplanning en begrip kom vir die kulturele, argitektoniese en handelsrol van ʼn middestad, is Pretoria, Johannesburg, Kaapstad en Durban waarskynlik gedoem om die eerste postmoderne murasies te word waar wolkekrabbers soos in Detroit eenvoudig aan die elemente oorgelaat mag word.
Om die proses om te keer, gaan ʼn politieke en kulturele revolusie verg, want inwoners van middestede verteenwoordig elders ter wêreld die room van die bevoking, nie die hulpbehoewende armes nie. Sulke mense woon in ʼn stad omdat hulle naby hul werkplekke soos die aandelebeurs, banke, hoofkantore van maatskappye, regsfirmas, mediamaatskappye, ens. wil wees. Hulle wil ook deelneem aan die kulturele en stadslewe in die vorm van teater, opera, films, boekwinkels, restaurante en wil graag flaneer in die stad se parke of voor die winkelvensters van boetieks en gespesialiseerde winkels.
Die ANC-model om van die middestad ʼn opvangplek vir maatskaplike probleme, onwettige immigrante en gesubsidieerde hulpbehoewendes te maak, is presies die teenoorgestelde van wat ʼn stad gewoonlik is. Die huidige inwoners van die Pretoriase middestad beskik eenvoudig nie oor die opleiding om in ʼn stad met sy ingewikkelde dienstenywerheid te oorleef nie.
Vandaar die onwerkbaarheid van die wolkekrabberlokasies wat nou in vlamme uitbars.
| < Vorige | Volgende > |
|---|








