praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar

Hoofartikels

Die toekoms van NAVO

E-pos Afdruk PDF
Die ingryping in Libië was 'n besonder slegte advertensie vir NAVO. Volgens Robert Kaplan was die VSA soos 'n reus tussen dwergies, onder meer Frankryk en Brittanje. Die dwerge het aan die VSA die diplomatieke vye blaar gebied om van agter te lei.

Meer as 80 persent van die brandstof wat gebruik is in die ingryping het van die VSA se militêre magte gekom. So ook die logistieke ondersteuning. Maar byna al die bevele in die operasie het van Amerikaners gekom. Slegs agt lugmagte is deur hul verdedigingsministries toegelaat om enige bomme te laat val. Baie oorvlugte is gedoen deur die alliansie, blykbaar net vir die simboliek daarvan. Terwyl die meeste lugaanvalle deur nie-Amerikaanse vliegtuie gedoen is, moes die VSA die operasie koördineer.

Dit kan hulle doen deur hulle groter slaankrag, goeie tegnologie en ruimtesatellietstelsels.

In 1980, het die Europese lande vir 40 persent van NAVO se totale verdedigingsbegroting ingestaan. Nou is hulle verantwoordelik vir 20 persent. Wes-Europa is gerig op humanitêre verligtingsoefeninge, met die uitsondering natuurlik van Frankryk en Brittanje.

Gedurende die Koue Oorlog, is NAVO geheel en al oorheers deur die Verenigde State en binne die EU veel meer deur Noord-Europese lande as hul suidelike bure. Niemand het werklik omgegee toe Griekse premier Andreas Papandreou in die 1980's sy land se uittrede uit die verdrag aankondig nie, want hulle het geen impak meer gehad nie.

Omdat NAVO nie in warm oorloë gedurende die Koue Oorlog betrokke was nie, is die ongemaklike werklikheid van die spanning tussen die EU en die VSA in die alliansie versluier. Post-Libië, is dit nie meer nie.

Die oorspronklike kerndoelwit ontbreek vandag: Die verdediging van Sentraal-Europa teen die Sowjet-Unie. Die verdwyning van daardie kerndoel verswak NAVO. En die onttrekking van twee van die vier Amerikaanse brigades uit Europa teen 2014 sal dit verder aftakel.

Dit beteken dat Frankryk 'n veel groter rol binne Europa sal kan speel sonder NAVO. In daardie opsig het die pro-Amerikaanse Sarkozy 'n slag vir Frankryk geslaan teen die Amerikaners se betrokkenheid in Europa se verdediging. Die Franse het niks gehad om te verloor in Libië nie en alles om te wen aan eer en aansien vir sy magte op 'n internasionale verhoog.

As 'n politieke stabiliseringsagent in Europa self, wil dit voorkom of Frankryk daardie rol onder Hollande in die oog het.

NAVO is 'n politieke, diplomatieke en militêre meganisme wat gerig is teen 'n Russiese ontwerp. Hoe meer Europa onder sy skuldkrisis gebuk gaan, hoe groter is die moontlikheid van geopolitieke vordering wat gemaak sal word deur Rusland.

As Hollande nie oortuig kan word om binne die alliansie te bly nie, hoop die VSA dat NAVO ten minste die toekomstige geopolitieke rigting van Duitsland sal bly bepaal. Solank as wat NAVO bestaan ​​en Duitsland 'n lid is, is die kanse van Duitsland binne 'n alliansie met Rusland in die komende jaar kleiner.

NAVO soos dit nou daar uitsien is vir die Amerikaanse hegemonie die goedkoopste manier om mag uit te oefen. Sonder die bestaande konsensus, raak dit egter baie duurder, ook vir die VSA se beeldbou-oefening soos die Libiese lugaanval gewys het.

Daar is tans 'n Nordiese Gevegsgroep wat die Baltiese en Skandinawiese lande asook Ierland insluit, en die Visegrad Groep wat Pole, Hongarye, die Tsjeggiese Republiek en Slowakye insluit wat binne die alliansie opereer.

NAVO is by uitstek geskik vir lug en die see reddingsendings in Afrika maar dien tans as 'n voertuig vir Europese politieke samehang. Die "slim verdediging"-inisiatief waarvolgens individuele lande hul wapenaankope koördineer is 'n goeie voorbeeld.

Byvoorbeeld, die Nederlanders het in die ontbinding van hulle tenkbataljonne vertroue in die Duitse eenhede gestel om Nederlandse gebied te verdedig. Met die besparing, het die Nederlanders belê in missielafweerradars vir fregatte, 'n vermoë waarby alle alliansielede nou baat.

 

 

Laas Opdateer op Donderdag, 10 Mei 2012 17:35

Pro- of anti-Amerikaanse Frankryk?

E-pos Afdruk PDF
Die oorlog in Afghanistan, die globale ekonomie, die verloop van Europese integrasie of disintegrasie, asook die Chinese en Amerikaanse invloed in Afrika gaan binnekort gekleur word deur die uitslag van die Franse verkiesing.

Een van die twee vernaamste aanspraakmakers - Nicolas Sarkozy van die sentrum-regse Unie vir 'n Populêre Beweging en Francois Hollande van die sentrum-linkse Sosialistiese Party - sal op 6 Mei as wenner uitstap.

Meningsopnames gee Hollande die voorsprong. Vroeër vanjaar het die Amerikaanse graderingsagentskap Standard & Poor Frankryk van 'n AAA-kredietgradering gestroop, 'n teken dat Europese state nie genoeg doen om sistemiese probleme in die eurosone aan te spreek nie. Dié stap was nie gewild onder Franse nie.

In Frankryk, soos in baie ander lidlande van die Europese Unie, is daar gewoonlik min ideologiese afstand tussen die hoofstroom van die sentrum-regse en sentrum-linkse partye. Gedeeltelik as 'n gevolg daarvan vaar kleiner, meer ekstremistiese partye goed, soos Jean-Luc Mélenchon, die ekstreemlinkse kandidaat gewys het. Ook Marine Le Pen van die regse Front National het uitstekend gevaar deur 20% van die stemme op haarself te verenig.

Tussen Le Pen en Sarkozy is daar egter tans insgelyks baie min verskille in standpunte en die president verwens Le Pen seker dat sy die belangrikste kwessie, naamlik 'n anti-Moslemsentiment, gemonopoliseer het. Daaragter skuil op die koop toe 'n nasionalisme wat niks goeds vir die VSA inhou nie.

Ten spyte van die ideologiese samevloeiing van die belangrikste partye, sal die uitslag van die verkiesing waarskynlik 'n beduidende uitwerking op sowel buitelandse as binnelandse beleid hê. Hollande het belowe om die Franse troepe uit Afghanistan te onttrek aan die einde van 2012. Frankryk het tans ongeveer 3600 troepe in Afghanistan.

Sy veldtog het ook laat deurskemer dat hy dalk Sarkozy se 2007-besluit om deel te wees van NAVO se geïntegreerde bevelstruktuur, 'n stap waarteen die Sosialiste gekant is, sal heroorweeg. Nie alleen die gemiddelde kieser nie, maar baie Moslems, is uiters kriewelrig oor Franse deelname daar. En Frankryk het Noord-Afrikabande om in ag te neem.

Hoewel Sarkozy waarskynlik Frankryk se mees pro-Amerikaanse leier sedert die Tweede Wêreldoorlog is, wil hy ook die onttrekking uit Afghanistan bespoedig, en Franse troepe teen die einde van 2013 uit hê.

Die volgende Franse president sal egter met sy NAVO-bondgenote moet reken en bly by 'n onttrekkingsrooster waarop ooreengekom is vir die komende NAVO-beraad in Chicago. En hoewel Hollande laat deurskemer het dat hy Frankryk gaan distansieer van NAVO, sal hy die verhouding as gevolg daarvan moeilik ongedaan kan maak, hoop die VSA.

Frankryk se pogings om Europa se reaksie op die Arabiese lente en NAVO se optrede in Libië te lei, het dalk gehelp om Frankryk se aansien in Amerika te verbeter, maar nie tuis nie.

In Wes-Afrika sal Frankryk steeds meeding met die VSA en indien Hollande wen, gaan dié mededinging beslis verdiep. Amerika het in Suid-Afrika 'n bondgenoot gevind teen China in die Franssprekende lande daar, maar die Franse het 'n stewige voorsprong in hulle agterplaas vanweë taal, administrasie en die CFA-geldeenheid, en speel die twee groot moondhede teen mekaar af.

Wanneer dit kom by die Europese Unie en sy voortgesette finansiële krisis, is beide kandidate bewus van groeiende anti-EU-sentiment onder die publiek. Sarkozy het die vooruitsig van grensbeheer en die herwaardering van bestaande reëlings vir die vrye vloei van mense onder die lidstate gestel.

Intussen het Hollande aangedui dat hy van voornemens is om die EU se nuwe fiskale verdrag te onderhandel, en aangedring dat die transaksie meer bepalings wat groei sal stimuleer insluit. Hy praat ook van tariewe op invoere vanuit lande wat nie aan EU-standaarde voldoen nie.

Alhoewel beide Sarkozy en Hollande soms die anti-EU-kaart speel om die verregse en verlinkse publiek tevrede te hou, omdat beide vyandig teenoor globalisering en Europese integrasie staan, sal nie een van die twee die Europese projek verraai nie.

Die volgende Franse president sal eerder 'n leidende rol speel om nuwe lewe in die EU te blaas, wat beteken dat hy voorsiening sal moet maak vir openbare skeptisisme oor Europese integrasie.

Die verkiesing beloof om 'n impak te hê, hoewel 'n beskeie een, op Duits-Franse verhoudinge, wat nog steeds die belangrikste skakel in die EU bly. Samewerking tussen Berlyn en Parys sal die EU se anker bly, wat enige Franse president min ruimte laat en 'n frustrasie vir die Amerikaners bly.

Die ekonomiese planne wat aangebied word deur beide kandidate is daarop gemik om kiesers die hof te maak met meer as realistiese oplossings vir Frankryk se ekonomiese uitdagings. Frankryk se openbare besteding is die hoogste in die eurosone.

In die lig van Frankryk se geskiedenis van sosiale onrus en ontwrigtende stakings, bly politici van regoor die politieke spektrum lugtig vir drastiese stappe om die land se ekonomiese beleidsrigtings te verander.

Laas Opdateer op Maandag, 23 April 2012 17:20

Breivik, Quisling, die verhoor van psigiatrie

E-pos Afdruk PDF
Die wêreld kyk na die komende verhoor van Anders Breivik, wat aangekla word van die moord op 77, meestal wit, blou-oog tieners. Vir baie, nasionaliste veral, is Breivik se beweerde gedrag so vreemd dat hy net doodeenvoudig stapelgek moet wees.

In teenstelling met wat die vermeende dader grinnikend en selftevrede beweer, was sy optrede beslis nie die van 'n kerngesonde nasionalis nie, laat staan nog 'n kritikus van Islam of multikulti. Sy optrede weerspreek elke rede wat hy tot dusver kon aanvoer omdat dit sal lei tot 'n weersin in nasionaliste, Christene en anti-intergrasie aktviste.

Breivik is al met Vidkun Quisling vergelyk, 'n mede-Noor en ywerige Nazi. Vir Quisling se verraad teenoor sy volksgenote gedurende die Tweede Wêreldoorlog word sy naam in alle tale gebruik om 'n verraaier wat saam met sy land se vyande sy eie mense onderdruk, te beskryf.

Noorweërs maak reg vir 'n verskriklike opvoering, 'n tweede, waarin Breivik in sy "gevegsuniform", 'n uitrusting wat baie na 'n polisie-uniform lyk, wou optree.

Aanvanklik is hy deur psigiaters ondersoek en onbevoeg verklaar om verhoor te word. Dit is net 'n herhaling van 'n gebeurtenis wat 67 jaar gelede die wêreld se aandag getrek het: Die verhoor van Quisling self.

Terwyl daar 'n begeerte was om geregtigheid te sien geskied, het baie twyfel oor Quisling se gesonde verstand bestaan. In die 1920's was hy 'n nasionale held wat duisende honger Oekraïners en Armeense slagoffers van die Ottomaanse volksmoord gered het.

Wat gevolg het, was ook in wese 'n verhoor van die mediese beroep eerder as tussen die vervolging en verweerder. Sielkunde en psigiatrie is vandag weer die nie-amptelike deelnemer, sê 'n bekende Australiese psigiater.

Tydens 'n roetine-psigiatriese ondersoek destyds, het die psigiater Jon Leikvam gesê Quisling het geen bewyse van paranoïese denkbeeldvorming getoon nie. Leikvam het dit só uitgedruk: "As Quisling as kranksinnig beskou word, dan het ek nie nie veel hoop vir die res van ons nie."

Die psigiaters is daarna deur die neuroloë vervang. Georg Monrad-Krohn, Noorweë se voorste neuroloog, was getref deur die kontras tussen Quisling se vlugtelingwerk en sy gedrag as die Noorweegse diktator. Dit het Monrad-Krohn laat besluit dat net 'n organiese brein disfunksie Quisling se daaropvolgende onmenslike gedrag sou kon verduidelik.

Neuroloog Sigvald Refsum het egter bevind Quisling was neurologies normaal. Uiteindelik het die aanklaer gesê sielkunde is "'n eienaardige wetenskap", want dit kon nie 'n verduideliking vir die verweerder se optrede gee nie. Henrik Bergh, Quisling se regsverteenwoordiger het geantwoord dat sy kliënt "'n merkwaardige man" was, 'n raaisel. Sy toestand was 'n anomalie buite die raamwerk van wetlike psigiatriese definisies.

Op 10 September 1945, is Quisling skuldig bevind en gevonnis tot die dood. Johan Scharffenberg, die psigiater wat die Noorweegse weerstand geïnspireer het, het hom in sy tronksel ondersoek, en tot die gevolgtrekking gekom dat Quisling sy sin vir die werklikheid heeltemal verloor het.

Ná sy dood is Quisling as 'n paranoïese sosiopaat met periodieke uitvalle van paranoïese psigose gediagnoseer.

Die kwessie van Quisling se gesonde verstand is steeds 'n bron van heftige polemiek en na Breivik se verhoor gaan die meningsverskille oor sy geestesgesondheid ook beslis verdiep, ongeag die uitslag van die verhoor.

Op die ou end, is die psigiaters net so beperk deur die konseptuele probleme van die bepaling van psigose en skuld as wat hulle in die verhoor van Quisling was. Dit is 'n dilemma wat forensiese psigiatrie nog nooit, en in alle waarskynlikheid, nooit in staat sal wees om op te los nie.

Laas Opdateer op Woensdag, 18 April 2012 17:42

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL