Tog dien peilings 'n waardevolle doel. Dit gee veral aan politieke partye 'n aanduiding van of hulle besig is om tot die harte van mense te spreek.
In die jongste Iposos-Markinor-peiling kan die volgende afgelei word:
Die ANC het steeds ongeveer 2-derdes steun, maar slegs ongeveer 2 persent blankes steun die party.
Die DA se steun staan op ongeveer 13 persent waar dit in April 2009 nog sowat 16 % stemme getrek het, en meer as die helfte van sy steun is wit.
Die Vryheidsfront + se steun staan nou op 0,3 na dit in die April 2009-verkiesing nog bykans een persent stemme getrek het.
Cope se steun het oor dieselfde tydperk met ongeveer die helfte na sowat 3 en 'n half persent afgeneem.
Op die makro-skaal is daar dus 'n baie stabiele steunbasis waar verkiesings effektief die karakter van 'n etniese sensus aanneem.
Weens die post-1994-karakter van die verkiesings, is dit ongelukkig so dat 'n baie groot deel van die ideologiese stryd hom afspeel in die geledere van partye wat skaars meer, en dikwels minder as een persent van die stemme trek. Hierdie partye – weens die klein persentasies, presteer ook dikwels tydens verkiesings veel beter en soms ook swakker as wat die peilings aandui. Hiervoor is talle redes, soos dat dié partye, soos die VF +, tot verhouding baie verkiesingskundigheid het, en dat die talle blapse wat die regering deurlopend maak, 'n groot impak op die kleiner partye kan hê, al maak dit min indruk op die ANC se persentasie steun. As een druppel uit 'n emmer vol water gehaal word, maak dit immers min verskil, maar gaan voeg daardie druppel by 'n ander druppel, dan verdubbel die oorspronklike druppel.
Dat die ACDP bietjie steun bygekry het kan aan die demografiese aard van die peiling toegeskryf word, maar dit kan ook wees dat die party steun herwin het wat dit aan Cope se kits-opkoms afgestaan het. Die steun bly egter in die orde van een persent.
Die VF Plus se posisie kan dalk die kulminasie van baie faktore wees, soos dat baie van sy ondersteuners nou ter wille van werksgeleenthede in diaspore is, dat die leiding die steun nie raakgetref het nie en vele ander. Dit kan egter ook moontlik teruggevoer word na die besluit van die leier, dr. Pieter Mulder, om as adjunk-minister te dien. 'n Interessante parallel is die ChristenUnie in Nederland wat na die voorlaaste verkiesing as kleinste party tot die regerende koalisie toegetree het. Die CU is die koalisie in as groeiende party, 'n party met 'n reputasie van besonder goeie en skoon administrasie, en 'n dinamiese leier wat al deur joernaliste as die parlementariër van die jaar aangewys is.
Dit het opsigtelik waarde tot die regering van Nederland toegevoeg.
Dit het egter ook die ChristenUnie in so 'n mate gebind dat dit nie meer soveel aksent kon plaas op dit wat vir die ondersteuners belangrik is nie. Die stryd teen aborsies is noodgedwonge op die agtergrond geplaas omdat die tweede grootste koalisievennoot, die Partij van de Arbeid, niks daarmee te make wou hê nie. Dieselfde lot het die destydse grootste party, die Christen-Demokratiese Appèl, getref.
Dit is ongetwyfeld so dat die kommersiële landboubedryf die insigte van dr. Mulder nodig gehad het in die see van onkunde en moedswilligheid binne die ANC. Dit het egter ook daartoe gelei dat hy self, as partyleier, nie so sigbaar was in die veroordeling van plaasmoorde nie. Sy party het wel erklarings uitgereik, maar dit maak in die teikengemeenskap minder indruk as dit nie van die partyleier kom nie.
Hiervoor is gekompenseer met 'n meer aktiewe rol oor plekname, maar dit weeg blykbaar nie op nie.
Kommentaar







