Enige optrede, selfs in 'n demokratiese land soos Suid Afrika, behels 'n risiko vir die armes se ekonomiese sekuriteit wat heeltemaal uit verhouding is met die sekerheid om iets te bereik. Hulle beskik skaars oor die instrumente om hulle begeertes te verseker. Boonop het hulle selde geleer hoe om hulle begeertes te formuleer en te verdedig. Hulle gaan gebuk onder 'n stigma van minderwaardigheid sonder die selfvertroue wat kom met die gewoonte om te beveel.
Hulle is in die war met die gemeenskaplike instellings wat hulle geërf het. Selfs die instellings van die staat, waaraan hulle nie kan ontkom nie, is vir hulle vreemd. Daar bestaan goeie rede om te verwag dat die staat vir wie hulle gestem het groter alternatiewe toegewings sal maak, maar histories is daar geen rede om te veronderstel dat die staat ongelykheid sal uitwis of selfs versag nie.
Rassehaat en die haat teen minderheidsgroepe is die gevolg van onveiligheid weens die aftakeling van maatskaplike stelsels en die ontevredenheid met die verrotte stelsels van die staat wat met omkopery en bedrog teen die massa diskrimineer. Die regering vrees die massa wat enige oomblik bewus mag word van die onreg wat daar teen hom gepleeg word; daarom wil hy die ontevredenheid weg van homself kaats na 'n minderheidsgroep of 'n ander ras wat die sondebok word vir sy eie gierigheid en onvermoë om die massa se behoeftes te bevredig. Die verrotte Suid-Afrikaanse burokrasie sweep die massas op totdat hulle oorgaan tot 'n bloedbad om hulle griewe los te laat by wyse van aggressie teen minderheidgroepe of ander rasse instede van teen werkgewers en staatsamptenare.
| < Vorige | Volgende > |
|---|








