Jy is hier: Menings

Menings

Die omskop van ‘n holgevrete Afrikaans

E-pos Afdruk PDF

Afrikaans se grootste bedreiging kom van binne, meen prof. Hans du Plessis, direkteur van die ATKV se skryfskool in Potchefstroom.

Du Plessis ontken nie die bedreiging vanuit die geledere van die regering en ANC nie, maar meen dit is veel makliker om ‘n boomstomp om te skop wat van binne holgevreet is.

Hy gebruik die voorbeeld om in die ooste van Pretoria ‘n kleuterskool vir jou Afrikaanse kind te vind. Oral word verduidelik dit is veeltalig of dubbeltalig Engels, want oor ‘n paar jaar sal die kind nie meer in Afrikaans kan skoolgaan of werk nie.

Terwyl Afrikaanse musiek en literatuur blom – al laat die taalgebruik taalpuriste se bloed yskoud word, word die Indrafkafee op die platteland die Fast Food Cafe en die Altefraai-salon die Angie’s Beauty Parlour .

Du Plessis wys op die voorliefde wat Afrikaners so met elke eeuwending vir Engels ontwikkel, en meen dit geld nou weer.

Die spook, as’t ware, van Langenhoven se Wênderbaails loop weer.

Die internet word behoorlik oorstroom deur Afrikaans, maar daar skerm webmeesters wat omgee vir die vale: Gebruik tog ‘n goeie Afrikaanse speltoetser. Want dit wat opgedis word mag die mooiste klanke voortbring, maar die spelling doen die taal oneer aan. Kennis oor wat los, en wat vas geskryf moet word, het skynbaar heeltemal verdwyn.

Na maande se beplanning het ‘n Afrikaanse woongebied in Bloemfontein se inwoners hul GPF-borde gekry. Een van die ontvangers is ‘n dosent in Afrikaans, met die gevolg dat die borde eers teruggetrek moes word om die ergste spelfoute reg te maak. Die woorde wat vas moet wees, en wat los geskryf is, is egter net so gelaat omdat die herstelkoste te groot sal wees.

Dit mag wees dat ‘n gekibbel oor hoe die taal gebruik word terwyl die stryd om amptelike oorlewing en behoud as taal van hoër onderwys nog woed, die selfde soort luukse is as ‘n ter dood veroordeelde wat kibbel oor die kleur skoene wat hy met sy teregstelling gaan dra.

Ma’ check my mooi, my China, dis lekka groovy om dit in A-one Afrikaans te spin, ek sê.

Of moet miesies Wênderbail se vermaning aan die kinders wat in die agterplaas bietjie meer op die lot van Afrikaans toegepas word?: “ Children, come out of de after yard. You will tramp in de hounde strount!”  Of in Afrikaans: Moenie met die skoonste taal op Avbob se stoep speel nie.

Stakers se boodskap aan die ANC-elite

E-pos Afdruk PDF

Die huidige stakinglus van die NSA se werkerskorps is besig om ‘n crescendo te bereik, en reeds is daar vele teorieë oor die oorsprong en werklike rede vir die staking. Hierdie staking dreig om ‘n ander kleur en karakter te hê, as vorige jare s’n.

Augustus en September is tradisioneel stakingstyd, en dus verwag mens dit hierdie tyd van die jaar, maar die intensiteit is besig om ooglopend toe te neem, en dit lyk nie of die vakbonde enigsins hierdie keer ‘n toegeeflike houding teenoor die regering wil of gaan inneem nie.

Dit is baie duidelik dat die Cosatu / Kommuinistiese Party-alliansie vir die ANC duidelik wil wys dat dit nou tyd is om beloftes na te kom in ruil vir hulle ondersteuning aan Zuma met sy staatsgreep. Elke ding het sy prys, en dit is nou betaaltyd. Maar daar is ‘n groter motivering van die werkers se kant af, en dit is ‘n boodskap wat onderliggend al dringender deur die oerwoudtromme uitgedra word.

Op hierdie stadium het die werkers agtergekom dat, in terme van die Orwelliaanse staat wat die ANC geskep het – “some animals are more equal than others”. En hulle wil dit nie meer aanvaar nie. Daardie siek gees van materieëe aanmatiging waarmee die ANC-elite net ryker en vetter word, het ‘n breuk in die fyn balans geword. Veral in die staatdiens, dra baie werkers kennis, en is bewus van die vergrype en korrupsie van die ANC-politici en senior bestuurders en dit blyk dat hulle nou besluit het genoeg is genoeg. Die situasie in die staatdiens het nou onhoudbaar geword, met baie werkers wat stilbly oor bedrog, net om nie afgedank te word nie, en sommiges wat openlik gedreig word.

Die werkers se boodskap in hierdie staking, is direk aan die ANC -fat cats" gerig. Betaal ons beter, want julle kan nie alleen uit hierdie magsvergryp voordeel trek nie.

Dit plaas natuurlik die ANC-elite in ‘n baie netelige posisie, want sou hulle nie uiteindelik toegee nie, kan daar nare stories van hulle vergrype op die lappe kom. ‘n Groot persentasie van die geld wat deur senior staatsamptenare en politici se bedrog gegenereer word, word natuurlik ook na die koffers van die ANC gekanaliseer, en dit sou hulle nie graag in die openbare oog wil hê nie.

En wat ons moet onthou, is die meer as 50% wat die Afrikaner tot die staatskas bydra. Ons finansier al daardie bedrog, en uiteindelik die ANC. Hoe langer ons onder mekaar stry, en die beweging na ‘n soewereine Vryheidstaat uitstel, hoe langer dra ons tot ons eie verdrukking en slawerny by.

Laas Opdateer op Woensdag, 01 September 2010 11:27

Gekoring agter die stuurwiel

E-pos Afdruk PDF

Die Wes-Kaapse departement van vervoer het pas die kwessie van dronkbestuur, en die probleme wat dit teweeg bring, onder die aandag gebring. Sover vanjaar is 2 000 mense in dié provinsie vir dronkbestuur gearresteer, waarvan 96 die afgelope naweek. Altesaam 296 mense het dié jaar reeds op die provinsie se paaie die lewe gelaat, terwyl dronkbestuur en snelheid die twee hoofoorsake hiervoor is. Baie van die sterftes is ook die gevolg van dronk voetgangers, wat nie sonder meer voor die motoriste se deur gelê kan word nie.

Die 2 000 arrestasies vanjaar is effens misleidend, aangesien daar die vorige jaar meer as 12 000 dronkebestuurgevalle in die Wes-Kaap was. Met 242 gevalle per 100 000 van die bevolking, is die Wes-Kaap die provinsie wat meeste wetstoepassing op dié terrein doen. Limpopo met 31 per 100 000 is die provinsie wat die minste doen, terwyl die land se gemiddeld op 115 per 100 000 staan.

Uit aanvullende syfers soos padongelukke en die moordsyfers – wat immers ook dikwels drankverwant is – is dit duidelik dat dronkbestuur nie so ‘n unieke Wes-Kaapse verskynsel is nie, maar wel die vlakke van wetstoepassing.

Die Wes-Kaap se 242 per 100 000 is byvoorbeeld dubbel die Gautengse syfer.

Volgens die nie-regeringsorganisasie, Suid-Afrikaners teen dronkbestuur, word juis so baie dronkbestuur omdat daar so maklik mee weggekom word. Die organisasie gaan egter voort en beskuldig die howe van ‘n te sagte benadering, en dat dronkbestuurders veel laer boetes opgelê word as wat die wet voor voorsiening maak.

Ander faktore dra by tot die padsterftesyfer, soos padtoestande en die padwaardigheid van voertuie. Hoe knapper die ekonomie raak, hoe ouer word die gemiddelde ouderdom van voertuie op die pad.

Verskeie internasionale studies toon hoe groter ‘n land se inkomstegaping groei, hoe meer maatskaplike probleemtoestande ontwikkel, en is ‘n newe-effek dat die tronke voller word. Ook hierin speel drankgebruik ‘n rol.

Van die syfers sluit ook bestuur onder die invloed van dwelmmiddels in. Wat die kategorie dwelmverwante misdrywe betref, staan die Wes-Kaap ook hier kop en skouers bo die res van die land uit, met meer as ‘n 1 000 gevalle per 100 000. Ook hier is die syfer vir Limpopo besonder laag, naamlik 63, maar Mpumalanga met 46 per 100 000 is nog laer. Dit klop nie met die aanwesigheid van grensposte en die algemene gebruik van dagga nie.

En ook dié probleem verwoes lewens.

Laas Opdateer op Woensdag, 01 September 2010 09:10

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL