Jy is hier: Leef Kos en wyn

Kos en wyn

Garnaal-en-avokadoslaai

E-pos Afdruk PDF

Kook 400g penne pasta en voeg 400g ontvriesde rou garnale net voordat die pasta gaarkook, by. Dreineer en spoel in koue water. Skep in 'n bord. Sny 'n ryp avokadopeer in blokkies en halveer 20 kersietamaties. Meng versigtig by sodat die avokadopeer nie fyndruk nie. Kerf 2 grasuie oor die slaai met 'n handvol roket- en basiliekruidblare.

Maak 'n slaaisous van 'n eetlepel of drie olyfolie, 'n knoffeltoontjie en suurlemoensap en bedrup.

Voel of daardie bottel sauvignon blanc al koud is en smul!

 

Laas Opdateer op Donderdag, 19 November 2009 23:48

Watergateslaai

E-pos Afdruk PDF

'n Leser het hierdie resep vir Watergateslaai aangestuur. Nooit geweet daar is kos uit politieke inspirasie geskep nie. Dis eintlik 'n poeding, soet en nie vir die gesondheidsbewustes nie!

As die politiek hier ter plaatse resepte gaan oplewer, kan 'n mens net raai wat dit gaan wees. 'n Gereg uit die oudste swart republiek, Haïti, dalk?

Watergateslaai, anders as die intrige waarna die dis vernoem is, is gelukkig nie ingewikkeld nie. Styfgeklitste, versoete room, 400ml, of gegeurde grenadillajoghurt, 'n blikkie fyn pynappels en 'n pak malvalekkers. Meng, en hou in die yskas tot die malvalekkers uitpof.

Vir 'n meer feestelike slaai voeg 'n paar kersies by, klapper en gekapte pistachioneute daarby.

Aanvanklik was die malvalekker nie die glukosebom wat dit vandag is nie. In die 1800’s het dokters die sap van die heemswortelplant se wortels geneem en die sap onttrek. Hulle het dan die sap gekook saam met eierwitte en suiker. Die konkoksie is geklits totdat dit ‘n skuimerig meringue gevorm het. Die mengsel het dan verhard.

Hierdie mengsels is vir kinders gegee om te eet as hulle kele seer was. Maar dit was nie al gebruik nie. Dit het ook gehelp om hoesbuie te onderdruk, die immuunstelsel te versterk en om wonde te genees.

Dit is nie net in die 1800’s wat die sap van die heemswortel gebruik is nie. Die eerste gebruik en die maak daarvan dateer terug na antieke Egipte toe. Daar het hulle heuninglekkergoed verdik met die sap van die plant.

In die laat 1800’s het die mense egter begin om gelatien te gebruik in plaas van die heemswortel se sap. Toe hulle dit begin doen het was dit ook die einde van die helende eienskappe van die lekkerny gewees. In 1948 het Alex Doumak uitgevind dat mens die gelatienmengsel in pype kan sit en dan in stukke kan sny. Dit het die produksie natuurlik versnel.

'n Heemswortelnagereg klink baie gesonder!

 

Laas Opdateer op Maandag, 16 November 2009 09:45

Mmm, blomkool!

E-pos Afdruk PDF

'n Louwarmslaai wat by kamertemperatuur net so lekker smaak. Plaas 'n kleinerige blomkool in fleurette gebreek in 'n oondpannetjie en bedrup met olyfolie. Bak vir 10 tot 15 minute tot sag.

Roer dan 1 of 2 vars rooirissies gekap - of 'n knypie rooipeper as jy nie van brandkos hou nie - 'n toontjie gekapte knoffel, 'n handvol swart olywe en 150g fetakaas by. Kraak 'n warm rolletjie oop daarby. 'n Stukkie wors sal ook nie skade doen nie.

Geniet!

 

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL