Die plan wat Mbeki het om voedselproduksie en –verspreiding in Suid-Afrika te beheer, is tipies sosialisties en is geskoei op die model wat onder Nyerere in Tanzanië toegepas is.
Deur die prys van voedsel te beheer, word plaaslike boere en produsente se mark vernietig want hulle moet onder die produksieprys hul goedere verkoop. In die plek daarvan sal ingevoerde voedsel teen ʼn gesubsidieerde prys verkoop word, net soos in Tanzanië en ander Afrikalande gebeur het. Dié voedsel word gewoonlik deur Westerse hulpfondse gefinansier. In die geval van Suid-Afrika sal die blanke en korporatiewe belastingbetaler vir die gelag moet betaal.
Die voedselplan gaan hand aan hand met grondhervorming. Albei is daarop gemik om die blanke en spesifiek Afrikanerboere van hul plase af te dwing en die grond in die hande van ANC-handlangers en sogenaamde “gemeenskappe” te plaas. Sodanige “gemeenskappe” staan natuurlik gewoonlik onder die beheer van ʼn plaaslike partysjef van die ANC.
Soos ons in Zimbabwe gesien het waar Mugabe voedsel as ʼn instrument vir politieke intimidasie gebruik het, maak dit politieke sin om voedsel te beheer. Indien die massakieser nie vir die ANC stem nie, kan sy gesubsidieerde kos dalk skielik opdroog.
Of Mbeki sy voedselplan as ʼn teenvoeter vir die Zuma-faksie sien wat tans besig is om sy greep op die party en provinsiale administrasies te verstewig, is ʼn ander vraag.
Aan die positiewe kant is daar die “gebrek aan kapasiteit” van die SA staat, oftewel die terminale luiheid en onbekwaamheid van sy amptenare. Die privaatsektor sal waarskynlik aanhou om voedsel te produseer en te versprei totdat die staat drasties ingryp. Soos ons in Zimbabwe gesien het, moet ʼn mens egter nie die vermoë van ʼn sogenaamde bevrydingsbeweging om alle rede oorboord te gooi, onderskat nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|







