Die plan is op 'n verrassende wyse ernstig gekritiseer deur die Departement Stadsbeplanning, Ontwikkeling en Streeksdienste deur na die plan te verwys as "sosiale ingenieurswese" en deur sy bedenkinge oor aspekte van die plan uit te spreek.
In 'n verslag getiteld "Proposed provisional restructuring zones in Tshwane for social housing development" beveel die ANC aan dat laekoste sosiale behuisingskomplekse dwarsoor die stad opgerig moet word met die doel om "sosiale herstrukturering - deur die vermenging van rasse en klasse te bevorder". Hierdie verslag sal more (Donderdag 29 Mei 2008) voor die raad dien.
Die gebiede wat geteiken word sluit in Menlyn, Lynnwood Glen, Centurion, Pretoria-Noord, Mountain View en die Moot-area (wat Capitalpark, Les Marais, Parktown Estate, Mayville, Wonderboom-Suid, Gezina, Villieria, Rietfontein en Rietondale insluit).
Volgens mnr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, kan die stad dit nie bekostig om 'n verdere skok aan besighede en huiseienaars, in gebiede wat 'n baie belangrike deel van die raad se inkomstebasis uitmaak, te stuur nie. Deur groot laekoste woonstelblokke in areas soos Menlyn, Centurion, die Moot en elders te bou, sal sakevertroue skaad en eiendomswaardes laat tuimel.
"Die ANC skep meer behuisingsplanne as huise en die DA ondersteun elkeen van die planne blindelings. Sedert die Maart 2006-verkiesing het ons talle ambisieuse nuwe planne vir behuising gesien, maar geen huise word fisies gebou nie", het Beyers gesê.
In die verslag spreek die Departement Stadsbeplanning, Ontwikkeling en Streeksdienste sy bedenkinge uit oor die plan om laekoste-behuising in areas soos Centurion en Menlyn op te rig. Die Departement sê ook dat die nuwe plan op "sosiale ingenieurswese" neerkom en dat dit nie "nie geforseer behoort te word nie". In verdere kommentaar waarsku die Departement dat die stadsraad "nie aan die mark moet dikteer nie" en ook dat die stadsraad se opinie dat daar plek is vir sosiale behuising in privaatsektor-gedrewe areas "nie die korrekte uitgangspunt is nie".
Die VF Plus het gesê dat die ANC beloof het om huise vir mense in armer gebiede, amptelik bekend as die 'Zone of Choice', te bou. Hierdie huise is nie gebou nie en hierdie gemeenskappe voel al hoe meer verraai en vergete.
Die VF Plus het sy oproep herhaal dat die stadsraad eerder met aggressiewe behuisings- en ekonomiese inisiatiewe in arm gebiede moet begin om die probleme op te los.
"Daar is geen twyfel dat die gebreekte ANC-beloftes tot die publieke woede in arm gebiede bygedra het nie. Die ANC het nog eens begin om huise te bou en ekonomiese ontwikkeling te doen in die 'Zone of Choice' nie. Hulle maak net weer 'n nuttelose plan op papier.”
| < Vorige | Volgende > |
|---|







