Na die afgelope 10 dae se xenofobiese aanvalle op buitelanders in die Republiek haal ek aan uit ‘n brief van ene Johan Combrink sowat ‘n maand gelede. Combrink spreek sy kommer uit teenoor die wapendraende skip in die Durbanse hawe asook die grootskaalse instroming van Zimbabwiërs in ons land.
Ek haal aan, “As die blankes, boere en Afrikaners daardie besending wapens die grens laat bereik, sal hulle dus hulle eie doodsvonnis teken, die vonnis wat sê dat hulle verdrink sal word deur die massa swart water wat op pad is. Die huidige syfers wat oor die grens kom, is ongeveer 100 000 per maand, binne ’n week of meer sal dit waarskynlik styg na ’n miljoen of meer per maand en die gevolge sal katastrofies wees.” Of die syfer korrek is sal niemand seker met sekerheid kan se nie want dit is dalk meer. Hoe dit ookal sy, ons land lê so oop vir enigiemand om binne te kom soos my huis wat ek sou ongesluit laat wanneer ek op vakansie gaan. Hoekom ons enigsins nog paspoorte by ons internasionale lughawens vra of by ons grensposte bevraagteken ek ernstig. Of dit nog ons, menende die mense wat hier gebore en getoë is, land is moet ook onder die vergrootglas geneem word. Combrink se bekommernis is totaal gegrond en dit waaroor hy spekuleer nie so belaglik nie. Tog wys die afgelope paar dae net weereens hoe verskriklik onstabiel Afrika as ‘n kontinent is, en ook ons land. Nie eers ‘n maand na sy brief nie, is ons op die randjie van ‘n burgeroorlog. Ons eie landsburgers neem wapens op teen indringers vanaf buite maar staan ook op teen mekaar. So dit is dus nie so onredelik van my om dit burgeroorlog te noem nie want die situasie voldoen aan die beskrywing.
Aiden Thomas van 567 Cape Talk sê vandeesweek in sy oggendprogram dat landsburgers nie die reg het om buitelanders met geweld te wil verwilder nie aangesien die land nie net aan hulle (dis darem seker ons ook) behoort nie. Laat my dink hy is dalk reg en moontlik behoort ons aan Afrika. ‘n Bymekaarkomplek vir Clegg se “scatterlings of Africa”; hulle loop na hartelus oor die RSA se grense en kom maak hulle hier tuis. Maar ek sê mnr. Thomas en die wat sy denkrigting deel, is ernstig verward en sommer net emosioneel domonnosel. Hierdie land behoort aan sy boorlinge en nie die wat in die donker, en nou deesdae helder oordag met openbare vervoer, oor ons landsgrense ons land binnedring nie. Is dit bloot omdat hulle almal swart is dat hierdie tipe van sentiment geuiter word of wat? Dan kan enige bleekvel, of skakering daarvan – soos die Chinese nou, ook maar oorsluip, sou ek reken. Maar dit werk nie heeltemal so nie, die African Renaissance van ons agbare staatspresident lyk anders. Mense word iewers in Afrika wakker en dan sluip hulle af hierna toe.
Die tafel is gedek en ons binnelandse beleid spesifiek ten opsigte van ons eie mense en hoe jy in die land inkom, bly en uitgaan, lyk na ‘n halfgeëte wegneemmaal. Miljoene stroom in om weg te kom van hulle haglike omstandighede in hulle land van oorsprong, dit maklik gemaak deur ons slap grensbeheer. Ons eie burgers wat steeds in bietjie minder haglike omstandighede lewe - want onthou die opheffing wat belowe is was eksklusief vir ‘n handjievol verkoses - word nou nog meer onder druk geplaas om ooit ‘n werk te kry of ‘n huis. Ek glo u het al ook stellig gehoor dat ons maar liewer buitelanders in diens neem want ons eie mense wil nie werk nie. Snert, as jy vir miskien 10 jaar al elke dag op straathoeke sit en werk soek gaan jy dalk nie meer taxigeld he om nog daagliks na ‘n sentrale punt geneem te word waar jou kanse meer as ‘n 100 persent is om nie werk te kry nie. Wat nog te sê die lus en dryfkrag het, dus die gevolgtrekking is dat ons mense lui is. Maar wie het hulle uitverkoop? Onsself en niemand anders nie. Die vorige regering het dieselfde met hulle en ook ons blankes gedoen gedurende die konstruksie van die Sasols en Mosgasprojekte. Tot Turke het werk hier gekry ten koste van soveel opgeleide plaaslike ambagsmanne. Toe was die rede deur die NP dat daar nie genoeg van ons eie mense was nie. As dit so was, hoekom is so baie dan nie in diens geneem nie? Al rede was dat ons by die EU wou kruip en probeer punte kry het.
Dis amusant om te sien hoe die regering en sekeres toutrek oor of dit nou xenofobie is of bloot misdadigheid. Natuurlik is die misdadige element ook altyd teenwoordig maar oorwegend glo ek dit is xenofobie in sy ergste graad. Die mense in die townships is gatvol van hierdie insypeling uit naburige lande en dit is hulle manier om dit te wys. As jy jouself tot op die laaste punt verdedig en probeer beskerm het en jy word in n hoek gedryf dan handel mense instinktiewelik. Dan is doodmaak nie meer onderhandelbaar nie en doen die mens enigiets om homself te beskerm. Blote instink, die kwaaiste hond sal eerder weghardloop as om te baklei – maar keer hom vas in ‘n hoek. Die regering is jare gelede al gewaarsku oor die effek van hulle onverantwoordelike onttrekking van ons weermag vanaf die grensposte asook die ontbinding van die kommando' s. Sedertdien is plaasmoorde al hoe meer in die nuus en swart-op-swart geweld in die landelike streke na aan ons grense is aan die orde van die dag. Tog slaan geen minister ag daarop nie en plaasmoorde word afgemaak, net soos met die geweld nou, as blote kriminaliteit. Die plaasmoorde is xenofobie, wat in die geval op die blanke boorlinge van die land gemik is. Daar is steeds ‘n swart element wat glo die grond wat die blanke boer besit, is van hulle gesteel. Wat ‘n uiters effektiewe manier is plaasmoorde nie om die boere te onteien nie? Xenofobie of kriminaliteit, besluit maar self. Wat wel interessant is, is dat nêrens soveel bohaai opgeskop word oor die plaasmoorde soos met die 44 uitlanders nie. As dit dan wel ook maar blote kriminaliteit is soos deur ons regering geïnsinueer word, hoekom dan so verskriklik oorreageer?
Is daar ‘n oplossing wonder ek? Ek glo stellig so. Sou ons die grensposte en landsgrense weer behoorlik beman in plaas daarvan om ons weermag na die sogenaamde Demokratiese Republiek van die Kongo, of waar ook al elders, te stuur kan ons ‘n prop in die gat druk. Indien ons ‘n stappie verder gaan en bietjie skoonmaak en hierdie uitgewekenes op ‘n rustige busrit terugstuur dan val die misdaadsyfer ook sommer en spreek ons spesifiek die dwelmprobleem wat Nigerie vir ons gestuur het, aan. Met so ‘n operasie kan baie werk voorsien word aan ons landsburgers en hoef die beloftes van “more jobs” nie net meer lippediens te wees nie. Jammer, ek is besig om te droom, dit sal nooit gebeur nie. Hoekom nie, mag u dalk wonder? Net soos ‘n vriend wat my nou die dag vra dat ek ‘n lysie van ‘n skamele tien goed moet maak, goeters wat beter werk sederdien die koms van ons demokrasie. Ek bedoel nou nie dat ons persoonlike belasting blykbaar minder is as ooit van tevore nie, indien wel maak ons petrolprys daarvoor op. Ek kon egter nie tien items vind nie. Ek voel darem nie so sleg nie want my positiewe vriende sukkel ook maar deesdae om by so 'n lysie uit te kom.
| < Vorige | Volgende > |
|---|







