Toe ‘n briefskrywer op Praag vra dat ‘n Christelike koerant vir die Afrikaner tot stand kom, was ‘n vroeë reaksie dat daar nie ‘n behoefte aan ‘n fundamentalistiese Christelike koerant is nie.
Maar wat is ‘n Christelike koerant? As oud-redakteur van ‘n Christelike koerant (ondergegaan) gaan ek probeer antwoord.
Die kort antwoord: Om te sien dat daar nie van fundamentalisme sprake is nie, gaan besoek gereeld die webwerf met die elektroniese weergawe van Trouw op die internet. Aanverwant, Volksblad wat ‘n dekade of so gelede sy missie gestel het, en ‘n leser teleurgesteld daarop reageer dat dit nie Christelik hierby insluit nie. Volksblad reageer dadelik deur te verduidelik Christelik is vanselfsprekend inbegrepe. Met die jongste beleidstelling was Christelik opnuut uitgesluit, en was dit nie van dié van die DA te onderskei nie.
Op die onseker gronde kan na die Christian Science Monitor gekyk word, nou feitlik uitsluitlik ‘n internetkoerant. Christian Science lê waarskynlik net so ver van die Christen-sentrum as die Mormoonse kerk.
Die langer antwoord: Christen- fundamentalisme is ‘n term wat baie los en vas gebruik word, maar het tradisioneel ‘n spesifieke betekenis, naamlik ‘n beweging wat in die VSA uit onder meer die Baptisme ontstaan het, en Suid-Afrika deur ‘n aantal charismatiese kerke binnegekom het. Een van die opvallende kenmerke is die mate waarin die Bybel letterlik vertolk word.
Een van die terreine waarop dit gereeld duidelik gemanifesteer word, is die jong aarde kreasionisme.
Die jong aarde kreasionisme verskil in twee opsigte van die gewone, konvensionele kreasionisme, naamlik ‘n beheptheid met die bepaling van die ouderdom van die aarde, en tweedens om dit te probeer bewys en dan kwasi-wetenskap (en dikwels suiwer bedrog) inspan om dit te probeer bewys, terwyl die konvensionele kreasioniste die Bybel as geloofsboek, en nie bewysboek nie, aanvaar.
Die vernaamste onderskeid is dat die tradisionele kreasioniste die Bybel in geheel neem en dus die tekste wat dui daarop dat een dag vir God soos ‘n duisend jaar, en ‘n duisend jaar soos een dag is, insluitend dat die duisend as simboliese getal vir oneindig baie / volmaakte verstaan word.
Hoofstroom-kerke het oor die algemeen nie ‘n probleem met die Deïstiese evolusie nie.
Die jong aarde kreasioniste, wat na hulself as “die Christene” of “die kreasioniste” verwys neig om geen standpunt wat dialekties van hulle s’n verskil, as ook Christelik te aanvaar nie, en staan dikwels baie onverdraagsaam teen ander standpunte. Daar is selfs “kreasionisme-evangelisasieaksies” kompleet asof jong aarde kreasionisme soos ‘n godsdiens die produk van evangelisasie kan wees. In werklikheid is daar maar een Evangelie.
Christelike koerante het waarskynlik hul hande meer vol met fundamentaliste as gewone sekulêre koerante, omdat die fundamentaliste hierdie koerante probeer inpalm om die fundamentalistiese boodskap te verkondig. So ‘n “oornamepoging” is lelik – vra my. ‘n Tante wat ons geteister het oor ‘n geborgde wynrubriek. (Haar eie kerk het nie ‘n probleem daarmee gehad nie).
Dit raak nag om iets van wetenskaplike aard te publiseer. Word ‘n nuwe fossiel ontdek en ewe onskuldig geskryf dié dier het 250 miljoen jaar gelede geleef, dan kom die briewe “dat Christene glo / weet die aarde is 6 000 jaar oud.”
En probeer naïef genoeg wees om hulle aan die hand van, soos in my geval, opleiding in geomorfologie te antwoord, dan word die sluise van die hel op jou oopgetrek.
In die Vrystaat sit ‘n mens met talle van hierdie beeldhouwerke van God wat miljoene en selfs duisende miljoene jaar oud is, soos die Vredefort-impakkater, Golden Gate, die goudneerslae en vele meer.
Buite-om die skeppingskwessie bied fundamentalisme nie te veel probleme aan die joernalistiek nie. Ja, daar is die gevalle wat probleem met ‘n wynrubriek het (kyk net hoe steek jy jou kop in ‘n bynes om na die Evangelie te verwys waar Jesus die water in wyn verander het), ‘n verslaggewer of joernalis wat rook, of ‘n grafiese kunstenaar wat ‘n selfde geslag lewensmaat het of wat met haar kêrel saamwoon.
Maar in die praktyk – hoe sal ‘n Christelike koerant van ‘n sekulêre of liberale koerant verskil?
Ten eerste is dit veilig om te sê so ‘n koerant sal nie deel van die geel pers wees nie.
Dit sal nie ‘n “Wat sê die sterre”-rubriek in hê nie.
Die kanse is ook beter dat die lesers nuus sal kry oor die rits referendums en hofuitsprake in die VSA om gay huwelike in bykans elke deelstaat te verbied.
Die lesers sal waarskynlik ook gelees het dat ‘n onlangse peiling getoon het dat die meeste Amerikaners nou vir die eerste keer sedert dit gemeet word, teen aborsies op aanvraag gekant is. Hulle sou waarskynlik ook gelees het dat Barack Obama nie net ten gunste van aborsies is nie, maar ook die sg, en grusame, “partial birth”-aborsies, maar die stryd om aborsies op aanvraag te stuit met 20 jaar teruggesit het. Hulle sou ook waarskynlik gelees het dat mense eers na hulle vir Obama gestem het, van sy standpunt bewus geword het (hy het dit nie geheim gehou nie, maar die euforie het mense “blind” gemaak) en dan ook verstaan hoekom Obama se gewildheid so gou ‘n knou gekry het.
Heel moontlik sou Suid-Afrikaanse lesers hulle nie nou in die een rubriek na die ander vasloop waarin mense soos Tim du Plessis en Max du Preez erken die huidige bestel werk nie, en dan baie hard moet dink om binne die beperkings van liberale denke oplossings te probeer voorhou. Oplossings wat buite my beperkte begripsveld val.
‘n Tipiese Christelike koerant verklaar homself polities onverbonde (en bedoel dit) en beywer hom vir sy eie standpunte. Hy span nie God as sy werktuig in nie, maar is eerder ‘n werktuig van God.
Wanneer ‘n Christelike koerant wél begin kant kies, is dit gewoonlik in die konserwatiewer dampkring, spesifiek waar dit met morele politiek ooreenval. Een van die sigbaarste beleidseksponente hiervan is die fokus wat sulke partye op gesinswaardes plaas.
Die Christenpolitiek maak weer deel hiervan uit. Breedweg val dit uiteen in Christelike volkseie, en Christen-demokrasie. ‘n Derde been, Christelik-nasionaal, het effektief “uitgesterf” weens assosiasie met oorle apartheid.
Elkeen hiervan het weer verskillende manifestasies.
Die hoofgroepering is die Europese Christen-demokrasie wat onder meer die regerende partye in Duitsland, Nederland en Vlaandere (en ook België) oplewer. Hulle is gesetel in wat genoem word “die Christelike tradisie” eerder as “die Christelike geloof.” Hulle neig dus ook om oop te wees vir Moslems, ateïste, agnostici en ander, maar met die kernelement dat dit geskoei is op waardes wat hul neerslag in Europa se Christelike tradisie het. ‘n Belangrike kenmerk van die Duitse CDU se beleid is die verskansing van die regte van groepe (inbegrepe minderheidsregte). Die feit dat Duitse staatskole verplig word om godsdiensonderrig aan te bied (maar dis nie verplig om dit te neem nie) is meer gewortel in ‘n afkeer van die morele verval onder die Nazi’s as in die godsdiens. Trouens, leerlinge kan uit ‘n lysie kies oor watter godsdiens hulle onderrig wil word.
Dit staan waarskynlik op die teenoorgestelde pool van ‘n Suid-Afrikaanse party soos die ACDP wat effektief alles in Engels doen (behalwe naby verkiesings) en sedert die verlies van provinsiale setels met Afrikaanssprekende bekleërs ‘n grootlikse swye oor sake soos plaasaanvalle.
Die kleiner Christen-Demokratiese Party is hier weer nader aan die CDU se oriëntasie ten opsigte van diversiteit en reik alle nuusverklarings tweetalig uit, en veroordeel alle plaasmoorde waarvan kennis geneem word.
Alle Christen-demokratiese partye waarvan ek weet staan godsdiensvryheid voor, en almal voel sterk oor persvryheid – in der mate dat die huidige Vlaamse premier dit tevore as die vierde been van die regering genoem het.
‘n Interessante ander manifestasie is die kwessie van Christelike vakbonde, wat in die buiteland groot is en ‘n sterk teenwig teen sosialistiese vakbonde vorm. Hulle het ‘n baie groter missie in terme van die bevordering van die wel en weë van lede en hul gesinslede as die sosialistiese vakbonde.
Waar hulle in Europa na-aan die Christen-demokratiese partye staan, staan die Suid-Afrikaanse weergawe, Solidariteit, eerder na-aan die Christelike Volkseie as die Christen-demokrasie.
Ek het die vermoede dat die opkoms van Moslem-fundamentalisme te maklik na die Christendom geprojekteer word. Hoewel van die ekstremistiese groepe in Suid-Afrika op die oog af baie ooreenkomste met die Moslem-fundamentalisme het, is dit nie deel van die formele fundamentalistiese beweging nie.
Waarteen ons moet waak is dat die situasie nie ontstaan waar twee pole ontwikkel nie – die wat soos George Claassen openlik ateïsties aan die een kant staan, en ‘n groep wat as volslae fundamentaliste op die ander kant staan nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|

Wat is ‘n Christelike koerant?





