Jy is hier: Herman Toerien

Herman Toerien

Wie weet niks?

E-pos Afdruk PDF
'n Kennis stuur vanoggend vir my die ou grappie aan van die jafel wat in Italië vakansie hou.

Kom ons verander die grappie bietjie in die hedendaagse idioom, en sê hy Skype vir sy verloofde: “Ek hou heerlik vakansie, en Florence is wonderlik.”

Sy verloofde se antwoord is blitsvinnig terug: “Ek is bly. Willem is ook wonderlik.”

Net gister, in ‘n in promptu-koppestamp oor die stand van taal, praat ‘n groep van ons oor die verskriklike swak vlakke van algemene kennis van die jonger generasie, wat ook op die gebruik van Afrikaans neerslag vind. Soos die spelling...

“Toe ons kinders was kon ons omtrent al Afrika en ander dele van die wêreld se hoofstede noem, en wie hul premiers of presidente is. Vandag...”

Ek verswyg dat ek self darem lelik voeling verloor het. So in die haastigheid is ek nou ook nie so vars oor die koning van Lesotho en die premier nie. Maar die hare is darem al goed grys...

Darem weet ek wie die eerste minister van Nederland is, al is dit nog net vir ‘n rukkie. En nee, dis nie Joop den Uijl nie. Die is lankal nie meer nie.

En nee, Evita is nie die president van Argentinië nie, ook nie Maradonna nie, maar ek moet bieg, wie dit nou is het my ook ontgaan.

“Maar,” sê die een gespreksgenoot, dit is ook nie regtig meer nodig om so alles in die kop te saam te dra nie. ‘n Mens Google net. Sy het haar verstom oor hoe ‘n nefie, sommer so met die bestuur in Kaapstad, nog gelyk ge-Blackberry en ge-GPS het. As sy nie iets weet nie (en hy uiteraard ook nie) klik-klik die laaitie net op sy selfoon, en daar het hy die antwoord.

Oudste, wat binnekort ‘n her in Landbou-ekonomie skryf, sou seker wat wou gee om so ‘n handige leerbystand tydens die eksamen te hê. Maar ongelukkig vereis die universiteit nog dat daai kennis uit die kop moet kom.

Maar, kla ‘n dosent, toe hy moeilikheid van die universiteit se Sanhedrin kry oor hoe swak sy studente vaar, besluit hy tot hier en nie verder nie. Hy gee vooraf die vrae. En sal ‘n student so waaragtig nie die vermetelheid hê om hom te bel en te vra op watter bladsye die antwoorde is nie?

“Maar die uitslae was in elk geval niks beter nie. Volgende keer skryf hulle maar oopboek-eksamens.” Ek wil byvoeg dat hy weer ‘n oproep gaan kry van ‘n student wat gaan vra of boeke dan kan Google. As hy nie kan “copy” en “paste” nie, hoe gaan hy dan ooit die antwoorde kan neerpen?

Maar ek bedink my.

Juis toe kom oudste van die universiteit af. Hy stap selfoon in die hand by die deur in. Klaar aan die Mixit. Hy het Mixit-meisies op omtrent elke dorp in die land, so voel dit, en voel ons sakke dit as hy in persoon wil gaan kuier.

“Ek hoop nie jy Mixit terwyl jy bestuur nie,” korswil sy ma. “Ja ma, soms. Maar ek hou my oë op die selfoon dat ek nie spelfoute maak nie.”

“Mooi seun,” komplimenteer ek hom. “Ons kla nou net oor die mense se swak spelling.”

En dan sê die jong klomp nog die ou mense weet niks!

Laas Opdateer op Vrydag, 23 Julie 2010 11:37

Die kwessie van die morele hoë grond

E-pos Afdruk PDF
Vandag, 66 jaar gelede, was veronderstel om die hoogtepunt te wees van Operasie Walkure, die sluipmoordpoging op Adolf Hitler. Op die dag, in 1944, het Claus Philipp Schenk Graaf von Stauffenberg, en sy mede-offisiere probeer om Hitler met 'n bom in 'n aktetas die ewigheid in te stuur. Dit was die hoogtepunt van 'n omvattende staatsgreeppoging, sodat met die geallieerde magte oor vrede onderhandel kon word. Hoewel vier mense dood is in die ontploffing, het 'n swaar eikehouttafel Hitler se lewe gered en hy het slegs geringe wonde opgedoen.

Die samesweerders het die volgende dag voor 'n vuurpeloton gesterf.

In 'n mediaverklaring herdenk die Duitse regerende party, die CDU, dié dag die weerstandsbeweging se optrede, en beskryf dit as 'n oorwinning vir die gewete oor blinde gehoorsaamheid.

Die dag word ook as inspirasie vir die totstandkoming van die Bundeswehr gedenk. Die CDU beskryf dit as 'n instrument vir die handhawing van demokrasie en vryheid.

Die ou gesegde lui immers dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf.

Onlangs het 'n stukkie herhalende geskiedenis van Afrika hom afgespeel: Mense is aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel omdat hulle iemand wat self met 'n staatsgreep aan bewind gekom het, se bewind wou omverwerp.

Pas het Suid-Afrika en die wêreld internasionale Mandeladag herdenk. Oud-pres. Nelson Mandela is as ikoon voorgehou. Lofuitinge met sy 90ste verjaarsdag het ingestroom.

Onder die aanklagte waarvoor hy destyds tereg gestaan het voor hy lewenslank tronk toe gestuur is – en uiteindelik 27 jaar uitgedien het - was hoogverraad. Heel duidelik regverdig die wêreld die euforie as 'n oorwinning van die gewete oor blinde lojaliteit.

Minder moeilik om te regverdig, en dus selde aan die groot klok gehang, was dat Mandela ook 'n kommunis was, en dat sy vriend en regsverteenwoordiger, Bram Fischer, se aanhang van kommunisme met die bewind van Stalin in die USSR saamgeval het is verweef was. Vandag is dit moeilik om te bepaal wie die ergste despoot was en wie die meeste mense se dood deur teregstellings veroorsaak het – Hitler of Stalin. Die eerste aanklagte op Mandela se klagstaat was dan ook in terme van wetgewing wat kommunisme probeer onderdruk het.

Trouens, die klagstaat het nie werklik die beeld van 'n vredemaker en demokraat uitgestraal nie.

Mandela kon ook vroeër vrygelaat gewees het as hy geweld afgesweer het.

Dit is ook bekend dat die een man se vryheidsvegter die ander se terroris is. Dié onderskeid word ook nie altyd volgens die bepalings van die volkereg getrek nie, maw waar 'n volk of nasie se vryheidstryd as geregverdig beskou word nie.

En as 'n opmerking tussenin – dit is ook onnodig dat vryheidsvegters soos bykans sonder uitsondering gebeur – van terreur gebruik hoef te maak.

'n Persoon of groep kan sy vryheidstryd (teen verdrukking) as 'n oorwinning van gewete oor blinde lojaliteit beskou, terwyl die instelling aan ontvangkant meen genoeg vryhede bestaan om blinde lojaliteit op te eis.

In die praktyk is dikwels veel meer in die spel betrokke as die volkeregtelike situasie, en daarom sal situasies hom voordoen soos dat die Palestyne se volkstaatsaspirasies anders beoordeel word as dié van die Volkstaatingestelde Afrikaner.

Die ou politiek-wetenskaplike gesegde lui: In die interstaatlike verkeer het lande nie vriende nie, net belange. Die werklikheid is egter dat solidariteitsvriendskappe wél baie punte tel. Vra maar vir pres. Mugabe, vra maar vir pres. Omar van Soedan. Dit is vriendskappe wat regstreeks teen belange indruis.

Herrie se kerrie: Planne teen kragkrisis

E-pos Afdruk PDF

Die kragkrisis wat Bethlehem en omstreke gery het, laat Herrie dink aan die vraag wat iemand uit die Molopo uit eendag by ‘n provinsiale landboukongres gevra het: “Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?” En hy antwoord self: “Teerpaaie.”

So het Herrie se oupa nog ‘n halfeeu gelede gewonder wat sal gebeur as brandstof opraak? Waarmee en hoe ploeg die boere dan?

En einste Oupa Nic Meyer se pa was nog vreeslik willebooslik kwaad vir oupa toe hy sy eerste trekker gekoop het. “Nou gaan jy jou bankrot boer,” had oupagrootjie te sê gehad.

Vandag is dit haas ondenkbaar. Van die trekkers, soos luukse gemakshuisies op moewiese viertrekwiele, sleep ploeë waar die hektare per minuut geploeg gemeet word. Herrie het juis al gewonder waar gaan so ‘n trekker, ploeg en al, draai die nag wat die drywer agter die stuur aan die slaap raak? Kyk, as ‘n drywer op ‘n oop trekkertjie in die bitter koue so lekker droomland toe kon verkas en deur doringdraad en in dongas kon inploeg, dan is dit vir Herrie ondenkbaar dat iemand in daai lugversorgde kajuit met musiek van keuse nie ook lus kan raak vir ‘n uiltjie knip nie.

Eintlik is dit vreeslik ironies dat Bethlehem en omgewing so ‘n swaard oor ‘n kragkrisis oor die kop moes kry. Die eerste van ‘n klompie hidro-aanlegte in die Asrivier wat krag net aan Bethlehem voorsien, is immers al in bedryf. Boonop is daar ander groter aanlegte soos onder die berge voor die water in die Asrivier loop, en by die Sterkfonteindam. Die krag is daar; die geld is op omdat dit elders heen “gekanaliseer” is. Omtrent soos die ou oom sê as hy die jong nursie by die ouetehuis aai: “Die gees is gewillig maar die vlees is te poegaai gedaan.”

Wat Herrie laat dink: Dié kragsentrales bied darem meer as een rede hoekom die Asrivier sy regte Engelse naam, Axel River in plaas van Ash River, terug moet kry. In daai hidro-sentrales draai die ene asse. G’n teken van êsj nie.

Maar as die ru-olie sou opraak?

Vir die trekkers is daar darem die goeie nuus dat die slim mense al ontdek het sonneblomolie en skoongemaakte olie waarin vis en tjips gebraai is deug ook. Die Oos-Vrystaat het ook oorgenoeg karkoere en makatane om makataan oktaan mee te kan stook.

Maar wat die pad-rygoed gaan maak ...? Herrie kan nog half en half dink aan dosyne gesinne wat saam ry, elkeen op sy eie fiets. Maar ‘n baiesukkel wat die werk van ‘n minibustaksie moet doen? Volgens oorlewering was die rekordgetal passasiers in die ou soort bussies 24 volwassenes, drie kinders, twee babas en vier lewendige gesteelde skape plus bagasie en die gesteelde huisraad van die Venters (en ‘n paar geslagte hoenders). Met ‘n bussie praat ‘n mens nou al van ‘n Guinness rekord. Op ‘n baiesukkel beslis.

Maar wat Herrie weet. Daar is nie nog so ‘n lekker kuier soos vroegoggend voor ‘n Agastoof as dit buite skemer en spierwit geryp is nie. Met koffie en beskuit. Sulke lang dipbeskuide.

Maar is nie plek by die stoof vir die mense wat die geldjies waarmee Eskom betaal moes gewees het, “geherkanaliseer” het nie. Laat hulle potblou bibber.

Mandeladag: Kritiese oog van Breyten Breytenbach

E-pos Afdruk PDF

Seker die mees frustrerende ervaring vir ‘n politieke navorser is om te onthou dat ‘n mens iewers iets gelees het, en dan verseg of mens daardie artikel of berig weer deur die elektroniese soekgereedskap opgespoor kan kry. ‘n Mens word as’t ware ontGoogled gelaat.

Twee artikels wat ek nooit weer oor Media 24 se soekenjin kon kry nie, het toevallig beide gehandel oor misdade, soos moord, waaraan polisielede skuldig bevind is. Beide was skokkend. Die een oor die polisie in die Vrystaat was in Volksblad, en die een oor die polisie in die Wes-Kaap in Die Burger.

Maar dit net ter agtergrond.

Vandag is internasionale Mandeladgag, volgens die Mandelastigting om die oud-president se goedheid te herdenk en as voorbeeld aan die wêreld voor te hou. Maar nie almal is dit eens hiermee nie, en was daar byvoorbeeld van Breyten Breytenbach heelwat kritiek op Mandela.

So seker soos ek leef onthou ek dat ek eendag gelees het dat Breyten Breytenbach in die parlement se openbare galery gesit en  na ‘n toespraak van pres. Nelson Mandela geluister het. Met die uitstap, binne hoorafstand van ‘n joernalis, maak hy die opmerking: “...en almal weet hy lieg deur sy tande.”

En so is dit in ink verewig. Of is dit? Geoordeel aan die elektroniese soektogte wat dadels oplewer moes ek my dit verbeel het.

Maar die soektog lewer tóg iets op, waaruit ‘n mens duidelik onder die indruk kom dat Breytenbach minstens bereid was om onkrities oor Mandela te wees.

In 2001 skryf ‘n briefskrywer uit Parys in Die Burger oor ‘n bespreking van ‘n opvoering van Breyten se “Die Toneelstuk.” Die briefskrywer meld in hierdie brief van ‘n “openbare brief” van Breytenbach waarin hy onderneem om die Mandela-regering met ‘n kritiese oog dop te hou.

Dié brief of sy inhoud kry ek egter ook nie raakgesoek nie.

In 2008 stuur Media 24 se destydse verteenwoordiger in die VSA egter ‘n berig oor ‘n ope brief van Breytenbach waar hy wel met die spreekwoordelike pantoffel onder Mandela en die regeringsopset hier inspring. (Brief hieronder).

Die rede hoekom ek spesifiek na Breytenbach se kritiek op Mandela verwys, is omdat dit op die oog af so onwaarskynlik is. Breytenbach het immers self internasionaal die aandag getrek toe hy in die 70gerjare die land vermom en onder ‘n vals naam ingekom het, om die ANC in onwettige dade by te staan. Hy is ook tronk toe gestuur.

Onder sy skrywersvriende soos Jan Rabie was daar ontsteltenis. In sy boek, ‘n Boek vir Onrus, verwoord Rabie sy verbystering, en die ontsteltenis van Breytenbach se ouers. Breytenbach was naïef, was Rabie se gevolgtrekking.

Iemand wat tronkstraf, en teoreties selfs die doodstraf uit naïewiteit sou trotseer om daarna in die wêreldmening stroomop te wees om die ikoon so te roskam?

Miskien is daar antwoorde in ‘n gedig, belydenis, wat die Vrye Afrikaan in 2006 gepubliseer het.

Hoewel ek al self hier en daar ‘n gediggie gepubliseer gekry het, is die digkuns die één genre waarvoor ek my self nooit sal uitgee nie. Nie dat ek moeite het om te rym nie, maar ander se gedigte is vir my Grieks, of dalk eerder Sankrit. Ek verstaan daar net mooi niks van nie. Juis daarom is my afleidings oor Breytenbach se gedig hieronder waarskynlik nie geldig nie. Maar vir my, op die oppervlak, lyk dit na ‘n man wat redelik ontnugter is omdat hy baie opgeoffer het, in Parys in ‘n dakkamer met rotte en motte moes woon, terwyl hy hom oor die onregte tuis uitgelaat het, maar uiteindelik het hy nie erkenning gekry nie (was dit net selfbevlekkende romantisisme).

Twee jaar later is die titel van Breytenbach se ope brief aan Mandela: “Mandela’s smile: Notes on South Africa’s failed revolution.”

Hier skop ek as die politieke navorser weer in – ‘n beroep wat nie die luukse van euforie of subjektiwiteit behoort te ken nie. Omdat die media so fokus op die gerapporteerde deugde van Mandela, net ‘n kort teensy:

Uit die Christen-demokratise geledere sal daar stellig kritiek kom oor die Mandelastigting se stelling oor Mandela se goedheid omdat die Bybel leer dat die mens feilbaar, en selfs sleg is.

In die werklike wêreld, buite-om die euforie, is Mandela nie “vir bokker*l” tronk toe soos ‘n inbeller op ‘n radioprogram dit gestel het nie. Trouens, tydens die verhoor was daar onder sy ondersteuners ernstige kommer dat hy die doodstraf opgelê kon word. Hy was op sy dag ‘n ingeskrewe lid van die SAKP, en destyds (en steeds) was die kommuniste geen model-demokrate nie.

Hy het ook langer in die tronk gebly omdat hy self verkies het om nie in die aanloop tot die nuwe bedeling geweld af te sweer nie. Die kerkstraatbomontploffing, landmyne op plaaspaaie waar minstens een baba aan flarde geruk is, die aanval op Magoo’s is maar enkele getuienisse van hoe noodsaaklik die afsweer van geweld as simboliese gebaar was.

Die onderwysstelsel misluk nog en steek sleg af by dié van Zimbabwe nadat Mandela die stelsel ge-Bengu het.

Wanneer die moedelose publiek oor onbekwame ministers by Mandela gaan kla het, het sy kantoor daardie klagtes sonder enige ander aksie gewoon na die einste ministeries terugverwys.

Die grondslag vir die “failed revolution” is so deeglik in Mandela se bewindsjare veranker.

Meer op die staatkundige terrein – die omarming van muishondlande net terloops – was die raamwerk waarbinne die Kemptonparkse onderhandelings plaasgevind het. NP-onderhandelaars het agterna telkemale verweer dat hulle nie eens kon probeer om volkeregtelik minderheidsregte, soortgelyk as dit wat in België, Spanje, Indië en elders geld, te beding nie “omdat die ANC nooit sou instem nie.”

Indien dié opvatting foutief deur die betrokke onderhandelaars oorgedra is, was daar ook nie ‘n stroom protes uit die Mandela-kamp nie.

Trouens, met die goedkeuring van die finale grondwet, was die ANC onverbiddelik dat ‘n bepaling in die oorgangsgrondwet moet wegval, naamlik dat die regte wat ‘n amptelike taal by die inwerkingstelling geniet het, nie verminder mag word nie.

Al verstaan ek van die digkuns niks, al volg ek nie aldag Breytenbach se politieke logika nie, kry hy in my boekie so agt uit tien as digter wat as die nasie se gewete optree, ongeag wie aan die stuur van sake staan. Hy sou tien uit tien gekry het as hy bereid sou wees om die proses volkome deur te trek – en as volksdigter ook sy pen in die bloed van plaasmoorde te doop.

belydenis

Breyten Breytenbach

ek het nog nooit ’n vliegtuig geloods

al vlieg ek gereeld die wêreld vol,

ek het wel vir die skuifstonde van ’n wolk

in die buik van ’n skip oor die ewenaar gedobber

maar was nooit die matroos

wat teen takelwerk uitklouter

om die son aan te sien vir ’n vasteland nie

 

Sophia Loren het eens ’n bak dampende pasta

vir my gekook

met olie soos deursigtige semen besprinkel

en haar borste was bleek soos swanger ooie sonder wol

maar ek het nie met haar gevry nie

 

ek het nooit voor die volk gestaan

om die koers deur die woestyn aan te dui

met ’n staf wat bewe van woede en wraak nie

al het ek ook waarskuwings onder my tong gestotter

totdat my kiesvleise flenters was van bitter woorde kou

 

ek het nooit ’n huis-op-die-see met tien slaapkamers

en ’n swembad vir naakte gaste besit nie

maar wel ’n dakkamer in Parys met muise en motte

en die neersif van jare se fyn swart besoedeling

 

ek het hoog en laag probeer preek

teen armoede en onreg

maar op die ou einde was ook dit

slegs selfbevlekkende romantisme

en niemand wou aanvaar ek is ’n Afrikaan nie

 

die olifant vir wie ek in die sirkus gewuif het

het my tien jaar later nie meer herken nie

 

alhoewel ’n man die vrou se buik in kan gaan

om daar te snoetel en snotter soos ’n vark in ’n trog

sal hy nooit die vrou se verstand kan penetreer nie

en buitenste duisternis sal hom verblind

 

ek het God nooit geken

die hemelse vaandels nie sien wapper op die wind

nog enige van sy of haar klone

al het ek op my tone op die tafel mog kyk

na die dolosse en die repe vlees van kadawers

 

my verstand het versand in begrippe van orde

en niks het uiteindelik sin gemaak

en daar was geen verskil tussen bo en onder nie

en die blêrende skaap buite het vir f***l gevrek

 

ek was ’n soepel singende stryder

om die horison binne te haal:

in die spieël staan en buikpronk ’n lelike mens nou

 

ek het gedog ek sou die jeugdiges se hart

met sang en vervoering om kon praat

maar my enkele lesers is ou wrakke

wat met week en stywe oog

die losgetorringde voering van my betoog

my toga van klagte

tussen vers en kapittel kwytraak

 

ek het probeer

ek het hard probeer

om ’n groot gedig te skryf

en soms darem dit opgebring

wat in die plek daarvan kon staan

 

o liewe roubetonende biegleser:

die reisiger van my aard en kondisie

het baie maniere om k*k aan te jaag

maar die grootste str*ntspul van alles

is om op pad huis toe te sterwe

 

Breyten kasty SA as land van wanhoop in ope brief aan Mandela
Charles Smith   
Washington
Die Afrikaanse digter en skrywer Breyten Breytenbach val oudpres. Nelson Mandela kwaai aan in ’n Amerikaanse tydskrif oor die geweld, magsvergrype en korrupsie wat Suid-Afrika verwoes.
In ’n ope brief in die Amerikaanse tydskrif Harper’s Magazine skryf hy aan Mandela dat hy hom “die aaklige ding moet meedeel: As ’n jong Suid-Afrikaner by my wil weet of hy of sy die land moet verlaat of nie, sal my bitter raad wees dat hulle moet weggaan.”
In die artikel onder die opskrif “Mandela’s smile: Notes on South Africa’s failed revolution” noem Breytenbach ontstellende voorvalle van geweld wat daagliks plaasvind en hom ook al geraak het.
Sy oudste broer se seun is buite ’n restaurant gesteek en die meslem het sy long deurboor. Die polisie het nooit opgedaag nie. Hy is gered omdat sy metgesel haar vriend in Australië met haar selfoon gebel het en hy ’n verpleegster wat hy in Johannesburg ken, kon bel.
Die vrou was op haar eerste besoek aan Suid-Afrika, maar het die volgende dag vertrek en “gesweer om nooit weer terug te keer nie”.
’n Ouma van ’n nabye vriend – so oud soos Mandela – het haar aanvallers gesmeek om nie verkrag te word nie en die nefie van ’n mede-skrywer is in sy eie huis vermoor.
Hy verwys na speletjies soos “hit me, hit me” en “rape me, rape me” wat in Suid-Afrikaanse skole gespeel word wat volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wys op “die omvang en vlak waartoe die verdierliking van die jeug strek en hoe endemies seksuele geweld in Suid-Afrika geword het”.
Jong mans se ergste vrees in Suid-Afrika is om vir ’n verkeersoortreding opgesluit te word in ’n polisiesel en in die nag verkrag te word deur MIV-positiewe aangehoudenes; oë word uit lyke gepluk vir moetie en dooies word opgegrawe vir hul kiste.
Die hartseerste geval is ses jong, bruin plaaskinders van tussen 9 en 15 jaar wat kaalvoet en “maer soos bidsprinkane” aan mekaar vasklou waar hulle in die hof verskyn omdat hulle ’n 11-jarige meisie oor ’n bottel goedkoop wyn met klippe doodgegooi het.
Of, in ’n ander berig, omdat sy dalk vigs het.
Breytenbach wil van Mandela, wat hy soos sy eie pa beskou, weet: “Het u, het ons, ernstig gepoog om ’n demokratiese bestel in Suid-Afrika teweeg te bring met sy wigte en teenwigte en rekenpligtigheid? Of was dit om iemand terug te kry vir die koloniale sondes?
“Hoe lank kan ons voortgaan op die skisofreniese mespunt tussen die diskoers van gelykheid en geregtigheid en die praktyk van plundering en arbitrêre mag? Hoe lank nog kan die dubbelpratery volgehou word vir die volk en vir die buitewêreld? Hoekom het die menselewe geen waarde nie? Is dit tradisioneel?”
Breytenbach vra Mandela of hy weet dat “nasionale bevryding” deur vernedering en misbruik (soos in Algerië, Angola, Guinee-Bissau) die droom verwoes van ’n moderne Afrika wat stam uit die Afrika-wortels en -realiteite.

2001 – Resensie: Die Toneelstuk: Belofte om die Mandela-regering met ‘n kritiese oog dop te hou.

Laas Opdateer op Sondag, 18 Julie 2010 17:41

Herrie se kerrie: Kasterolie vir kroekende stiefregters

E-pos Afdruk PDF

Hoe gaan die pragtige liedjie nou weer?

“Don’t cry for me Maradonna.”

Of so iets.

Die sokker begin nou einde se kant toe staan, en so ook hopelik die vuvuzela-blasery hoër op oorkant die straat.

Herrie is net nie so seker of dit so ‘n wonderlike vooruitsig is om van Fifa se koloniale regering die afgelope paar weke ontslae te wees nie. Veral as dit sou beteken dat mense met ‘n W vir wiskunde, en ‘n H vir Houtwerk weer die land kom wysmaak hoe die land regeer moet word nie. En wie vir wie moet skiet nie.

Die afgelope paar weke was misdaad immers minder in die nuus ... behalwe natuurlik toe Paris Hilton glo saam met ‘n vriendin met zolle betrap is.

Soveel bekendes was hier, dis eintlik snaaks Madonna het nie ook hier ‘n Vigswesie of twee kom aanneem, en dat Oprah nie nog ‘n skool kom open het nie.

Wat Herrie egter altyd sal bybly is dat sport ‘n element van sportmanskap moet bevat, anders kom die son nie weer op nie – of so voel dit.

Van die stiefregters wat in die toernooi opgetree het, herinner Herrie aan die Biskoppe en SACS se “skeidsregters” as ons kleintyd af van Stellenbosch af teen daai Kaapse spogskole gaan speel het. Vir daai skeidsregters was daar net een reël – ‘n strafskop as ‘n Afrikaanssprekende aan die bal durf vat. Dit was frustrasie op frustrasie, en daar was geen kyk-weer om die verneukspul te bewys nie.

(Nou moet Herrie darem erken, ‘n strafskop wat die uwe op die lyf geloop het was darem anders. Herrie, as flank, en SACS se heelagter het saam ‘n bal gejaag wat een van Herrie se spanmaats deurgeskop het. Was Herrie eerste daar, is dit ‘n drie. Maar daai Engelsman hou tree vir tree by. En dis toe dat Herrie se knie maar bietjie “swik” en met die reguitmaak kom Herrie se skouer onder die arme Engelsman se skouer op. Kyk, daai klomp sokkerspelers het nie een so lekker gevlieg soos dié Engelsman nie, maar hy het nog nie eens afgekom nie, toe word daai fluitjie geblaas dat ‘n vuvuzela na ‘n bekfluitjie sou klink.

Maar Herrie is bly om te sien die sokkermense neem lesse by die rugbymense. Al is dit nou ook ouerige reëls. Soos “hacking” (om die opponent se bene onder hom uit te skop). By rugby is dit al jare ‘n doodsonde, met Boer Coetzer wat seker al dertig jaar gelede, toe rugby nog nie die rooi kaart uitgevind het nie, afgejaag is omdat hy ‘n opponent gepootjie het.

Nou word op die sokkerveld “hacking” gedoen of dit uit die mode raak, maar, smaak dit Herrie, die skeidsregters is half teë daarop.

Nog iets wat sokker met rugby gemeen het, is onkantspel. Maar, moet Herrie bieg, daai sokker-onkant is vir Herrie Grieks en Hebreeus, want van die doele is geskop deur spelers wat in rugbyterme in ‘n oupa van ‘n onkantposisie was.

Van die sokkerspelers se toneeltalent het dit laat lyk of hulle onder ‘n ander ou rugbyreël, “stragging,” deurgeloop het. Dis nou om die opponent te wurg tot hy die bal los.

Maar, moet Herrie die sokkermense ter ere nagee, hulle vat ‘n loesing, al het die ref hoé gekroek, beter as baie rugbyspelers.

Laas Opdateer op Maandag, 05 Julie 2010 08:00

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL