Jy is hier: Feuilleton Kortverhale Op die bus

Op die bus

E-pos Afdruk PDF

Daardie Dinsdagoggend diep in die tweede kwartaal van 1985 sal ek nie maklik vergeet nie.

Dié oggend was ek soos gebruiklik een van die eerste passasiers wat op die bus geklim het wat sy roete tussen die plotte deurgevind het om mense wat in die stad werk, by die werk te kry.

By die stop na ek opgeklim het, klim ‘n hoërskoolseun ook op. Vandag klim twee pikkies in hul laerskooluniforms saam op, wat vreemd is omdat die laerskoolkinders gewoonlik skool toe loop, en die skool ook nie op die busroete is nie.

Ek luister dus toe die oudste seun met die busbestuurder praat.

“Môre oom, die laerskool het mos gisteraand afgebrand, en nou moet hulle ook voorlopig stad toe gaan.” Uit ‘n afsonderlike banksakkie diep hy die busgeld vir die pikkies op.

Heel duidelik het die beheerraad deurnag gewerk om die krisis ten beste die hoof te bied, en soos gewoonlik tot in die fynste detail gesorg dat selfs die kleintjies se busgeld gereed is.

Die meeste mense hier op die plotte is brandarm, en om te aanvaar elke huisgesin sal oornag die nodige geldjies, selfs vir busgeld, bymekaar kan maak is baie gevra.

Dit word ‘n diep ontroerende ervaring.

By die volgende busstop is daar moeilikheid. Die drietjies wat moet opklim, twee boeties en ‘n sussie, is kaalvoet in hul laerskooluniforms. Hier op die plotte gaan die kleingoed kaalvoet skool toe.

Die groter seun het hul busgeld, maar in die stad is skoolskoene verpligtend. Hy skop vas.

“Ons hettie soolskoene nie,” hoor ek die stemmetjie van buite kom.

Ek staan op, en beduie hulle moet inklim. As dit nodig is, sal ek self met die skoolhoof praat. Soos dit is gaan die kleingoed genoeg getraumatiseer word oor die skoene-ding. Kinders is wreed.

Vir die groter seun sê ek: “Skoolgaan is verpligtend, Jy mag hulle nie toegang tot die skool weier nie.”

Ook ander mense klim op, en die laerskool se afbrand is ‘n groot besprekingspunt. Die hoërskool is juis ‘n jaar of twee tevore gesluit om ‘n paar onderwysposte in die stad te red wat weens kleiner blanke gesinne in die gedrang begin kom het.

Ek kry die pikkies innig jammer. Gisteraand toe hulle kooi toe is, het hulle nog geglo hulle is teen dié tyd vanoggend kaalvoet op pad skool toe. Hul eie skool.

‘n Paar uur later, terwyl hulle geslaap het, was die skool in ligte laaie.

By die volgende bushalte is daar weer moeilikheid. Die drie sussies het nie skoolklere aan nie.

“Ma het gesê ons kan nie in ons skoolklere na ‘n ander skool gaan nie,” hoor ek die stemmetjie van buite.

Die groter knaap met die busgeld kyk nou reguit na my. “Wat moet hy nou doen?” staan oor sy hele gesig geskryf. Ek beduie die kleintjies moet inklim.

My hart krimp ineen toe die drie langs mekaar op ‘n sitplek vir twee gaan neerplak. Net vel en been, en water was nie onlangs naby die drie velletjies nie. Daar is waarskynlik nie lopende water in die huis nie, en warm water, of selfs enigiets wat warm is, waarskynlik nog minder.

Ek is nie die enigste wat die erbarmlikheid waarneem nie. Ek het nog gewonder of ek iets moet doen, toe het ‘n gryskoptannie met haar handsak opgestaan en op haar hurke voor hulle gaan sit. Sy diep “dry wipes” uit haar handsak op, en ek hoor haar vir die drietjies fluister: “Siestog, dit was seker nog donker toe julle opgestaan het en hier en daar misgewas het.”

So diskreet as wat sy maar kan wees, en sy begin skynbaar die “kolletjies” skoon vee.

Ek sien die oudste selfbewus bloedrooi tot agter haar ore bloos, maar sy sit doodstil.

By die laaste busstop is daar weer moeilikheid. Ses pikkies staan en wag om opgelaai te word. Die kind met die  banksakkie is nou in die knyp: “Volgens my lysie moes hier net drie kinder opklim, en ek het net vir hulle busgeld.”

Oom Salie staan dadelik op: “Kom mense, kom ons dok iets op vir die kinders se busgeld – ook vir die terugkom vanmiddag, en as dit kan, ook sommer ietsie vir hulle om iets te ete te koop ook. Ek sien ‘n klomp het juis hul toebroodjies in die deurmekaarspul by die huis vergeet.”

Ons almal weet dat “vergeet” nie die regte woord is nie.

Ons maak ons harte en beursies oop. Vandag gaan ‘n hele klomp van die grootmense self niks by die werk te ete hê nie, maar een dag bietjie honger kan darem nie opweeg teen die poele grootogies wat ons so aankyk nie.

“Oom,” vra ‘n pikkie langs my benoud. “Gaan ek pak kry omdat ek nie skoolskoene het nie?”

Ek kyk in die benoude ogies, en net daar besluit ek klim saam met hulle by die laerskool af, en ek sal toesien dat die pikkies nie verder getraumatiseer word nie – al moet ek die skoolhoof ook aan die keel beetkry.

En al beteken dit dat ek dan nog ‘n goeie drie kilometer na my werkplek sal moet stap, en bitter laat gaan wees.

Dis my mense hierdie, en as ek dit kan verhelp ....


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: