Een van die gevolge van die volksbewegings was die ontvolking van uitgestrekte dele van Suider-Afrika. Aan die een kant was daar meer onbewoonde grond vir die wit emigrante beskikbaar, maar aan die ander kant kon die nuwe Zoeloe- en Matebele-despote makliker weerstand bied teen hul koms. 'n Tweede gevolg van die verhuisings was dat lede van verbrokkelde stamme die Kaapse grensdistrikte ingestroom en die lewe verder ontwrig het.
Onder die talle stamme wat die meeste gely het onder die opkoms van die Zoeloeryk op die Hoëveld het die migrasie as die Difaqane bekend geraak. Dit was nie alleen 'n massaverhuising nie, maar ook 'n revolusie, sê C.F.J. Muller.
In enkele jare is die binneland oor tienduisende vierkante kilometer onherkenbaar verander. 'n Onberekenbare aantal stamme, klein en groot, is uitgemoor. Tienduisende vlugtelinge wat nie buitengewone skuilplekke kon uitsoek of buitengewone afstande, soos dié na die Kaapkolonie kon aflê nie, moes onder die blote hemel rondswerf. Verwilderde, desperate mense het soms uit nood, later uit voorkeur, begin om saam met roofdiere mense te jag. Van hulle het versot geraak op mensvleis.
Maar veral die groter roofdiere soos leeus en luiperds het gefloreer deur die jag op relatief onbeskermde vlugtelinge. In Wes-Transvaal het verkenningsekspedisies swart mense aangetref wat in groot bome en op pale vaste skuilplekke opgerig het.
Oor hoeveel mense dood is, is daar verskil van mening. Een historikus meen dat sowat 300 000 deur ander opgeëet is. Die historikus G.M. Theal skat die totale lewensverlies op nader aan twee as een miljoen. Die getalle in roofdiere en wild het toegeneem en vir wit en swart jagters het dit 'n paradys geword. In ieder geval het die getalsterkte van die swartes afgeneem.
| < Vorige | Volgende > |
|---|








