| Artikel Indeks |
|---|
| Wat de 'heck'? - Die Boeremagsaak se sesde verjaarsdag |
| Page 2 |
| Page 3 |
| Page 4 |
| Alle bladsye |
"Is jy ook my pa se sussie?" vra die sewejarige klein snip oor my skouer.
"Nee, ek is sy skoonsussie, ek is met sy boetie getroud."
"My pa se boetie?" (Sy het hom nog nooit gesien nie.)
"Jou oom wat tronk toe is twee weke voor jy gebore is," vervolg Ouma hier langs my.
Die graadeentjie frons, maar dan onthou sy skielik - ons het haar al vertel.
"Nou wat de 'heck' het hy gemaak," frons sy. "Hoekom is hy in die tronk?"
"Dit kan jy weer vra!... Wat de 'heck'? Hul noem dit die 'Boeremag'."
Ek verwens myself - ek moes voor my skoonsussie uitgespring het om die hek oop te maak - dan kon iemand anders solank begin verduidelik het... Ek het saamgery Bosveld toe net om te ontsnap van die "Boeremag"-dinge en my kop skoon te maak. En hier sit ek. Vas gehek! Ons ry verder. "Wat de 'heck' het hy gemaak?" herhaal my swaer die vraag en probeer my oog in die truspieëltjie vang. Ek maak of ek dit nie sien nie. Almal lag en ek lag maar saam. Ja, die "Boeremag" het soos 'n hek homself staan kom maak in die paadjie van my lewe...
My skoonsus gee ons jongste niggie 'n drukkie skuins na agter as sy ná die tweede hek weer inklim: "Toemaar, nie een van ons ander se name sal in die geskiedenisboeke staan nie, maar jou oom wat in die tronk is, syne sal..."
Ek wonder of enige een van ons régtig kan onthou waar dit alles begin het? By drie mans wat op Gerdau op die verhoog gestaan het, met `n politieke ideaal. Hulle het die mense gewaarsku dat as hier gevaar sou kom, enige toestand soos die voorspelde "nag van die lang messe" - ook volgens die Vula-dokument en ander inligting wat na hulle aangedra is - ons onsself sou moes kon verdedig. Maar, later was daar baie dinge...
"Hoe gaan dit met die manne daar?" vra ons my skoonma se broer, waar ons in sy Bosveld-stoep se koelte sit.
"Onder omstandighede goed, Oom weet mos - wat nie dood maak nie maak sterk!"
Herman Scheepers, wat oorlede is nadat hy 'n virus op sy brein gekry het in 2007, het altyd vir my gesê as ek hom vra hoe dit gaan: "Party dae op en ander af, maar in die deursnee nog goed." Dit lyk maar nog steeds so, Oom. Alhoewel ek dink as mens dit op 'n grafiek sou natrek, daardie gemiddeld heelwat laer is, as wat dit altyd was. Die laaste twee jaar was rof! Mens kan dit op die mans se gesigte sien - die saak het sy pond vleis gevat! Almal het oud geword. Grys! Tot Herman en Rudi, daardie twee outjies wat mos weggeloop het uit die hof, begin al silwer om die slape word. Party dae kan ek sommer sien dat dit met sommiges so gemoedslangs sleg gaan, maar as ek weer in die hof kom, sien ek dat hul ook weer moed geskep het en glimlag hul ewe breed. Hehehe, daar's een nuwe vroumens wat daar kuier en dit lyk so al vir my of Cupido daar ronddans besoektye..."
"Wat-se-pit praat jy nou?"
"Daai engeltjie wat mens so met die pyle skiet dat jy verlief moet raak, Oom."
"O" en ons oujongkêrel-oom grom iets oor heidense gebruike.
Ons oom staan op om die hoenderkos uit te haal - hy maak verskoning - hy is maar aldag besig.
"Daar's seker nie in die tronk so baie werk soos hierso op die plaas nie," spot my swaer. "Ons stuur hom hier na oom toe as hy uitkom, dat hy weer kan leer werk."
"Nou waarmee hou hul hulselwers besig?" wil die oom weet.
"Hy het 'n rekenaar en 'n radio en hy kan ook flieks kyk. Ons het vir hom so 'n DVD-masjientjie gekoop." Ek verduidelik so effens, want ons oompie se enigste gevorderde tegnologie op die plaas is 'n selfoon, en ook maar net omdat dit noodsaaklik is. "Musiek is seker die belangrikste ding om hom positief te hou, hy kyk graag na André Rieu se musiekvideo's. 'n Vriend het nou onlangs vir hom 'n stel oor die dierelewe van Animal Planet gegee, wat hy oor en oor gekyk het. Dis net eers 'n hele riekmarrôl om die toestemmingsbriewe te kry, maar dan mag mens die goed vir hulle vat. Baie van die ouens het televisiestelle. As hulle radio luister, moet oorfone opsit sodat die klank nie die ander pla nie. Hy het ook 'n elektroniese klavier, so ene wat met krag werk, sonder die klankkas agter, waarop hy oefen, dit hou hom goed besig. Hy lees ook baie, al die goed waarin hy belangstel. Filosofie en sielkunde... Hy lees mos nie storieboeke nie, hy aard te veel na sy oom..." terg ek.
"Nee jong, ek lees net die Bybel en dié gaan ook maar swaar." Ek glimlag saam met die res. In my verbeelding sien ek hoe daardie hard gewerkte hande sukkel om die fyn blaaie van 'n Bybel geblaai te kry.
"Ja, oom. Hy skrywe ook… van die ander ook. Ek wil net Maandag vir my, by Bienedell, Mike du Toit se derde boek bestel. Dit gaan oor Die Strewe en Stryd van ons Volk van 1902 tot 1994. Het oom die resensie in die nuutste Afrikaner daarvan gelees?"
| < Vorige | Volgende > |
|---|
| Verwante artikels: |
|---|
|






