Skoppensboer is ontsettend dankbaar. Die Afrikaner is gered. Kyk Sakkie, dis nie aldag dat 'n plan so mooi uitwerk nie. Hoe nou? Wat, vra jy?
Nee, die ding staan so: Die Afrikaners is gered. Toetentaal. Heeltemal. 100%. En julle sal nie raai deur wie nie. Skoppensboer het ook byna in sy koffie verstik toe hy van die man met 'n plan verneem. Nie eens Siener het so vêr gesien nie.
Dis Frikkie homself. Ja, ek belowe! Njannies! Troes Bob! Die einste opperdopperpankop van verraaiersfaam, oorgawe, wigte-teenwigte, demokrasie en daar-sal-'n-tweede-referendum-wees. Daai Frikkie.
Hy hét sy adjudante wat hom getrou bystaan in sy dapper reddingspoging. Maar daaroor later. Ek weet lesers brand om van die geheime meesterplan uit Potjiesdorp te verneem.
Dit lyk so: Ten eerste het die knape hulle slagspreuk by die HNP gaan leen, naamlik dat die hele Suid-Afrika aan hulle behoort. Die swartes gaan by ons eie universiteit van die Noorde inskakel om dit te laat realiseer. In Afrikaans, hoor. OK, bygesê, dit sal nuwe Afrikaans wees, sonder die moeilike ou grammatika en taalreëls. Maar darem.
Die gedagte is 'n tweede US, 'n Stellenbosch in Tshwane. Skoppensboer dink dit gaan presies weer soos die Taliban van die suide werk: Baie vryheid van spraak, baie vryheid van assosiasie en geen dwang hoegenaamd nie. Oopkop, met wye konsultasie, heeltemal in die geheim sonder sprake van 'n demokratiese proses. Baie broederlik.
Vir die twyfelaars, en gelukkig is daar net 700, is daar Orania. As jy wit en Verwoerd wil wees, dan is dit jou heimat. Daar gaan so min aan, nie eers die swartes stel belang daarin nie. Maar vir Frikkie se manne is Orania 'n belangrike argument om te beset. Let wel, net die argument, nie die plek nie.
Daarmee kan hulle hul ewige verbintenis tot Die Volkstaat heeltemal kosteloos verklaar. Dis die Afrikaner se eie Witoewer, amper soos die Wesoewer in Palestina, sonder die bomme. Skadeloos en baie bruikbaar.
Ek meen, waar gaan die vakansiegangers tussen Transvaal en die Kaap oornag as hulle nie tolgeld wil uitgee op die bankrot pensioenfondse nie? En dis so lekker stil daar. Regtig doodstil.
Nee, Gariepie, niemand gaan karring met vrae oor hoe honderdeduisende verstedelikte Afrikaners nie daarheen sal trek nie en ons redders gaan dit ook nie aanmoedig nie. Hulle beheer mos spraakvryheid in die gedrukte media, of het julle vergeet?
Dis waar Frikkie se helpers help. Daar is Schollie by die media en Flippie wat werkers bystaan om die trauma van regstellende aksie beter te verwerk, teen vergoeding natuurlik. Ek meen, nie almal het 'n paar miljoen gekry vir die oorgawe wat tot bloedvergieting en voortslepende geweld gelei het nie. Baie Afrikaners is nog bang hulle verloor hulle werk. Fear is good business, sê die wat weet.
Gelukkig gaan Malema ook saam sleg voel oor wit ellende. Hy het belowe toe hy sy nuusmakerprys by die media, Schollie se base, gaan haal het. Dis darem 'n troos.
Schollie gaan seker maak dat sy Taliban-preke inslag vind. Hy staan reg met sy "regse" verfkwas om algar met sy slym by te dam wat nie wil inval by die meesterplan nie. Schollie is hoeka so ywerig soos 'n bostrol, die ombudsman moes al vir 'n vale keer dat hy nie heeltemal oorboord gaan nie.
Moenie probeer kla oor moorde en misdaad en menseregtevergrype wat Joseph Kony na 'n non laat lyk nie. Werk saam aan jou ondergang en doen dit blymoedig. Die Potjiesdorpers sal sorg dat jy jou laaste woorde in Afrikaans, jou huistaal, prewel en hulle oorweeg tolkdienste vir die wat nog sukkel om "die you white bitch" te verstaan.
En Flippie? Dís nou 'n kleurryke mens. Vreeslik slim. Ontsettend eintlik. Hy het per geleentheid vir Skoppensboer self vertel hy moes 'n glasoog kry nadat hy 'n siende een verloor het deur Frikkie se toedoen. Die kêrel is erg ingestel op vergifnis, want deesdae is hy en Frikkie die beste van dik vriende.
Dis nou as Flippie nie aan 'n ander gehoor vertel dat hy sy oog in 'n motorongeluk verloor het nie. Sy geheue lol soms, lyk dit, al is hy so begaafd.
'n Kennis van Skoppensboer vertel dat hy Flippie se kennis op 'n keer wou toets. Hy vertel toe vir ons intellektuele reus van 'n boek wat hy gelees het en hy suig net daar 'n klomp beesekskrement uit sy duim. En weliswaar gaan herhaal Flippie die vier fiktiewe hoofstukke net so voor 'n ander gehoor, sonder om te blik of bloos. Slim, want sy baas sal hom nooit vang nie. Dié rook mos, blykbaar ander ook, vir 'n lewe.
Nee, ek weet daar is nou van julle maaifoedies wat gaan sê daardie rubrieke van Flippie in Rapport is so dom soos grond en elke keer dieselfde 200 woorde in 'n ander volgorde met geen verwysingsraamwerk nie nes Frikkie se befaamde boek. A, nee a! Dis gewone jaloesie mense. Wie van julle kan 'n boek wat nie eens bestaan nie se vier hoofstukke onthou en herhaal asof hy dit self geraadpleeg het?
Ons eenoogleier se vergewensgesindheid is pragtig! Om te dink 'n man trap jou oog uit by Codesa en jy aanbid hom agterna. Dis mos regtig vreeslik mooi. Wie sal dit durf waag om te sê 'in die land van die blindes'?
Die buiteland gaan oorweldig wees met daardie hope kennis van ons span. En dan is daar sowaar die beswaardes wat dink 'n gesofistikeerde gehoor sal regdeur sulke ongekunstelde vrypostigheid sien tot in Potjiesdorp se longdrop.
Behalwe vir Flippie en Schollie, is Jannie ook doenig met sy teksverse ter aanmoediging van Frikkie se Stigting se persverklarings in nuwe Afrikaans. Dis nou as hy nie in 'n beswyming raak oor die dominatrieks met die mansstem wat kort-kort haar bobene vir die swartes flits nie. Dis spanwerk uit die boonste rakke.
Om te dink die Stellenbossers het altyd heerlik gelag vir die dommerds daar in Potjiesdorp met hulle skynheilige maniertjies en bedenklike standaard. Dis 'n hoërskool, het diesulkes gespot. Daar kom nooit enige navorsing uit nie, was die hoonlag.
Vir al julle beterweters, net dit: Julle het nie 'n geheime meesterplan nie!