Jy is hier: Feuilleton Algemeen

Algemeen

Waar kom die Asrivier vandaan?

E-pos Afdruk PDF
"Ek sê julle, die Asrivier is na my oupagrootjie vernoem!" Oom Hakie is driftig omdat niemand sy weergawe ernstig wil opneem nie.

Nou moet ek darem net gou sê: die opskrif van die storie is misleidend. Almal weet waar die Asrivier vandaan kom. Sy water kom van die Katzedam in Lesotho van waar dit in tonnels en deur 'n kragsentrale na die Vrystaat gevoer word van waar dit dan in die Asrivier uitloop, wat weer in die Liebenbergsvleirivier loop, en dié weer in die Wilge tot in die Vaalrivier.

Sodat Gauteng se Groot Dors geles kan word.

Maar dis dié pasellawater wat gemaak het dat daar 'n twis oor die naam van die rivier losgebars het. Toe die water begin loop, gaan sit die nuwe Suid-Afrika se Engelsbebl*ksemde Departement van Watter Affêre 'n bordjie op die brug op: "Ash River."

En toe is die Blikore se ore rooi van kwaatgeit, want daai "As" het niks met "as" soos in verbrande hout te make nie.

Nee, dit is "As" soos "Axle" in Engels.

Maar die Departement van Watter Affêre is nou so steeks soos die FS op die Vrystaat se nommerplate. Al het Pansat al meer as tien jaar gelede bevind die Vrystaters kan maar VS op hul nommerplate sit, want in die Vrystaat is Engels mos nie 'n derde of vierde of selfs vyfde taal nie, dis eintlik maar 'n vreemde taal.

"Kyk net hoe stoepid het die spul die 'as' gaan vertaal," het oom Armaans gesê waar hy moet sy boetse aan kniediep in die Liebenbersvleidam – ekskuus – Sol Plaatjiedam in die water staan en sy visstok met dobbertjie vernuftig bewerk om 'n ding met grate op die ys te kry.

Iets wat vroulief later moet skoonmaak en gaarmaak, want oom Armaans is vieserig vir 'n dooie vis.

En dis min of meer hoe die gestry oor die herkoms van die rivier vandaan kom.

Oom Armaans, oom Sewes en oom Frans se weergawes stem min of meer ooreen. Met die Groot Trek is hier 'n trek hier verby op pad na die Drakensberge, en in dié rivier het 'n wa se as gebreek.

Die "debat" het intussen na die opvoustoele onder 'n groot sambreel verskuif. Die ou manne het so driftig met hul visstokke begin beduie dat een se hoek oom Frans se hoed van sy kop af gehaak het. Dit was te amper.

Hier in die laat-laatmiddagkoelte en met aansienlike voorrade likiede bates het die debat hewiger geword, en is al hoe meer weergawes opgedis. Die visstokke is met mikke gemaak staan, maar teen die tyd wat 'n vis oom Sewes se stok met mik en al dieptes toe gesleep het, was die debat al so hewig dat die stok maar sy gang moes gaan.

"Kyk," beduie oom Armaans, "my ma was 'n nooi Pretorius, en daai rivier het sy naam gekry toe Andries Pretorius met groot spoed hier verby gesuiker het om die Voortrekkers in Natalia te gaan uithelp. En net daar anderkant die brug was 'n drif, en dis daar waar hy met so 'n spoed deur is dat die as gebreek het. Ek verstaan die slag was so erg, miesies Pretorius het met haar blaker kaplaks in die water beland."

Soos die noodlot wil hê, is oom Sewes se van Potgieter, en was dit einste Andries Hendrik Potgieter wie se wa hier in die rivier tot by die as in die modder weggesak het, en die water deur die wa geloop het.

"Hulle was al amper onderkant die Oliviershoekspas, toe vang hulle nog visse uit die wa en prop dit in die pot. Hulle was naand so teë geëet aan vis dat hulle die oorskiet vir Sekonjela vir vee kon ruil."

Oom Hakie het Retief-voorgeslagte, maar hy speel nie dié troef nie, so seker is hy oor sy voorsaat.

Dit het reeds sterk skemer geword, en die manne kan nie meer mooi sien hoe oom Sewes se dobbertjie sulke zig-zag-patrone op die dam se oppervlak trek nie. Oom Frans, oom Sewes en oom Armaans het oom Hakie se weergawe al tot vervelens toe gehoor, en hulle weet hoe driftig hy oor sy weergawe voel. So elke nou en dan as dinge hier by die viswater te stil raak, dan sal een weer die storie oprakel en dan saamspan om te keer dat oom Hakie sy weergawe vertel kry voor hy nie eers goed ergerlik is nie. Omdat dit nou reeds so sterk skemer is, sien oom Hakie ook nie sy visvangmaats sit met breë glimlagte op hul bakkiese nie.

"My oupagrootjie, Karel de Lange..."

"Dis nou dieselle De Lange wat hom so as luiperdvanger uitgegee het? Daai een wat met 'n sak en 'n hond op die toneel opgedaag het met die gedagte die hond moet die luiperd in 'n boom jaag, en dan trek hy die luiperd aan die stert van die tak en in die sak in?"

Dis oom Sewes wat nou so uit die donkerte koggel.

Oom Hakie vermoed nie onraad nie.

"Nee, van daai Karel weet ek niks..."

"Ja man, tot die dag toe hy wel die luiperd aan die stert beetgekry het..." vervat oom Armaans.

"Nee man, van daai Karel seg ek julle mos weet ek niks."

"Ja, toe het die luiperd hom mos in die sak geprop..." las oom Frans by.

Nou is oom Hakie agterdogtig, en hy tuur deur die donkerte na sy maters. Die donkerte bring minder muskiete, en wie het nou ook lig nodig om die bottel se nek gesoen te kry?

"Hoe smaak dit my julle maak nou grappies met my?"

"Nee!" protesteer die koor uit die donkerte. "Vertel jou storie."

Dit begin laat word, en tuis wag die kossies seker al op die tafel.

"Kyk, daai se tye het die water nog nie deur die berg gekom nie, en was dit eintlik net 'n stroompie met kuile," vervat oom Hakie.

"Toe vang hy vis op 'n klipplaat maar met al die gewoel is die klipplaat naderhand nat en glibberig. En toe kry hy daai groot byt!"

"Aan sy toon?" wil oom Armaans hier uit die donkerte weet.

"Nee man, aan sy hoek! En dis toe dat hy vasslaan dat hy so 'n groot vis haak dat sy voete onder hom uitglip, en hy sy as afval! En so het dit die Asrivier geword."

"Dit," sê oom Armaans, "die Asrivier se regte eintlike Engelse naam is Arse River," en hy begin sy goedjies inpak.

Herrie se kerrie: Saamkuier voor die Aga

E-pos Afdruk PDF
'n Kaggel waar 'n vuurtjie lekker knetter en kraak is so sinoniem met 'n Vrystaatse boereplaas.

Op sommige plase is nog regte ou Aga-stowe, wat nog sulke kenmerkende reuke deur die opstalle laat trek, afhangende van waarmee die vuur gestook word. Die vuur van droë mieliestronke, antrasiet en die hout van doringbome het elk sy eie reuk. Vroeg-oggende ruik dit nog lekkerder wanneer die reuk van krummelpap, spek en eiers, en 'n pangebraaide worsie op daai einste Aga gaargemaak word. En dan prut daar nog 'n lekker kan moerkoffie op die stoof ook – regte, egter Boeretroos.

G'n wonder nie die Aga was die saamtrekplek in die winter nie. Vir mens en dier. Soms staan die stoof ver genoeg van die muur sodat die honde lekker daaragter kan nesskop. Maar dis nie net honde en katte wat so by die Aga of kaggelvuur kom saamtrek nie. Op plase is daar soms die interessantste troetel- en hans diere wat saam met die huismense 'n warmtetjie koester. Van meerkatte tot muskeljaatkatte, hier en daar 'n rooikat ook, tot skilpaaie.

Oom Nico-hulle had weer 'n half-mak haas wat sy enigste winter tuis agter die Aga deurgebring het. Die vinnigste om hom te laat oë wys was om te begin biltong kerf. Dié deurmekaar haas was absoluut dol oor biltong, en enige stukke, selfs die taai senings, wat op die vloer beland het, is blitsvinnig opgeknibbel. Toe dit somer word het die natuur haas se kind geroep.

Ma-Johanna-hulle had weer 'n mak ouvolk, maar kuiermense moes vooraf gewaarsku word oor dié vieslike bakkies wat dalk kon kom oë wys. Anders was daar chaos en 'n klomp kombuismeubels daarmee heen.

Saans, veral as daar oorslaap-kuiermense was, is heerlik stories vertel. Dikwels het die kinders dan daar voor die kaggel krismisbed gemaak.

'n Verwarmer kan die ding net nie so lekker doen nie, soos die slag daar langs die rivier in Kroonstad waar Herrie die aand voor inkruip gesit en werk het, een kant styf teen die muurverwarmer. Na 'n ruk moes Herrie omdraai sodat die wegkant weer ontdooi kan word. Soos 'n malvalekker wat oor die kole gesmelt word.

Mak of nie, die koms van die mens het dinge onherroeplik vir die diere verander. So was ouma Engela by geleentheid dik van die lag toe sy by die stoor kom en sien hoe 'n kleinerige waaierstert met 'n gebuite aartappel die aftog probeer blaas.

Die Vrystaatse winter is so erg, tot die bekende gesegde: "Die oggendstond het goud in die mond," moes spesiaal vir die Vrystaat aangepas word: "Die oggendstond het ryp op die grond."

Nou begin die winter einde se kant toe staan....

Mag die goeie Vader gee dat die reuke wat ons eersdaags in die lug gaan adem, dié gaan wees van reën op die veld, en die reuk van nat grond wat deur ploeë omgedolwe word.

Die Soustrein

E-pos Afdruk PDF
"Wie de ongeluk dryf dié ding?"

So wil groot kokkedoor Zoempie weet wat pas van sy baie duur whiskey op sy baie duur pak klere se broek gemors het. Nogal strategies ook, sodat dit verdag baie lyk of hy 'n glipsie gehad het.

"Dis 'n êppie pas uit die treindryfkollege. Sy het die beste punte behaal," verduidelik die Minister van "Vervoer."

"Maar het sy genoeg ondervinding om die soustrein te dryf," wil Zoempie steeds verontwaardig weet terwyl hy verwoed met die servet vee om die verleentheid op te droog.

"Ondervinding? Wat is dit?" wil die Minister van "Arbeid" verbaas weet.

Intussen wieg die vyfster op wiele weer rustig, terwyl dit sy reis na Utopia voortsit. Dit vleg deur verlate, rommelbestrooide stasies, ermbarmlike plakkerskampe, kinders wat langs die spoor bakhand staan....

Dis regtig 'n unieke trein. Die vensters is dig getint – nie net sodat die mense van buite nie kan insien nie, maar die passasiers binne ook nie kan uitkyk nie. Die vorige groot kokkedoor het die weerskante toe tintwerk laat doen sodat daar nie armoede is nie.

Vir deursigtigheid is daar oral kameras, sodat die groot kokkedore se doen en late vasgelê kan word en die publiek dit op hul TV's kan kyk. Ter wille van deursigtigheid.

Terwyl Zoempie so verwoed strategies vryf, sien hy 'n kamera is ook op hom gefokus, of liewer, daar waar dit so prominent is.

"Plak toe daai kamera!" beveel hy. 'n Paar lakeie spring vervaard om te gaan plak. Gewoonlik praat Zoempie net, maar af en toe bedoel hy ook wat hy sê. Dis nou sulke tyd.

Heelparty van die kameras is al toegeplak. Trouens, die manne en vroue om die lang stinkhouttafel is juis besig om 'n resolusie op te stel wat die ander kameras ook sal laat toeplak.

"Siejy so winde laat!" raas die Minister van "Verdediging."

"Maar dit is dan 'n stinkhouttafel!" verweer die Minister van "Omgewingsake" verward.

"Net te veel dinge kom op die lappe wat 'n stok in die soustreinwiele se speke kan steek," kla Zoempie.

"Het die trein se wiele dan speke?" wil die Minister van "Onderwys" verbaas weet, en begin verwoed die naaste venster optrek om uit te kan kyk.

"My eie rekord is so blink soos my kop," sê Zoempie, maar ek is bekommerd oor van julle ander. Ek kan nie aanhou gate toestop nie."

"Is daar dan nog gaatjies wat vol geld gestop kan word?" vra die Minister van Uitgawes op Luukshede.

"Kyk, ek het my goed genoeg laat cover maar ek is bekommerd van julle gaan in die k*k beland," vervat Zoempie.

'n Vreeslike vrees pak die lotjie om die stinkhouttafel beet. Hulle is benoud en die Minister van "Verdediging" raas nou erg: "Nee sies, stinkhout beteken nie julle moet almal van benoudheid po*p nie!"

"Generaal, generaal, sal jy ons kan red?" kerm die lot. Die Minister van Propaganda skuif sy tenderdokumente eenkant en antwoord: "Vir wat kerm julle, sit aan die TV en kyk, dis klaar gedoen."

"Maar gaan die vyand nie uitvind nie?"

Zoempie brom: "Die opponente ry almal in die dog box. Ons weerhou eenvoudig die inligting van die plekke waar hulle insae kry."

Die Minister van "Verdediging" giggel. "Ek doen dit al lankal."

"Aaa, vars lug," sug die Minister van "Verdediging" verlig toe die Minister van "Onderwys" wat steeds die venster probeer opskuif het, met haar elmboë oplaas twee gate in die ruit druk.

"Volgende punt op die agenda" sê Zoempie. "Herontplooiing."

"Wie gaan herontplooi word," vra die Minister van "Grondhervorming" benoud.

"Nie julle nie, man, kaders wat uitgevang is. Skelm kaders, onbevoegde kaders... 'n Ongemaklike lot van hulle word nou deur allerlei prosesse uit hul geveerde nessies gehaal."

"Ek hersirkuleer hulle al lankal," sê die Minister van Plaaslike "Regering." "Word hulle hier uitgevang, skuif ek hulle gewoon na 'n ander plek. Ek het al 'n hele taakspan wat bestaan uit uitgevangdes om my hiermee by te staan."

"My probleem is dat sommige van julle al van die kaders die plank van die soustrein af laat loop het. Nie alleen is hulle maatjies van die ander maatjies nie, maar hulle stel die vreeslikste eise in, en naderhand sal ons die glase nie meer so vol kan gooi nie."

"Dan sal mens ook nie meer so mors as die êppie die trein so bietjie rof dryf nie," brom die Minister van "Vervoer."

"Wat hoor ek?" wil Zoempie weet.

"Nee, sommer niks krabbel die Minister terug.

"Ek stel voor ons hersien die Ministeriële herontplooingskomitee sodat die linkerhand soms weet wat die linkerhand doen," stel die Minister van "Arbeid" voor.

Almal knik koppe. Daar is nou al soveel sulke komitees. Soos die een teen korrupsie, maar daar mag nie hardop hiervan gepraat word nie.

"Volgende op die agenda: Dienslewering."

"Ek dink nie die item hoef bespreek te word nie. Dienslewering is puik. Ek hoef net my vingers te klap en die kelner maak weer my glas vol," sê die Minister van Sports en Leeglê.

Almal stem saam.

Die agenda begin einde se kant toe staan.

"Wanneer kom ons by Utopia aan?" wil Zoempie weet.

Die Minister van "Vervoer" kyk hom verbysterd aan: "Aankom? Ons ry dan daarop. Hier is 'n luukse wa vir vrou 2 en3, en 'n semi-luukse vir vrou 1. Met personeel."

Zoempie glimlag breed, en vergeet van die nat kol op sy broek.

"Die vergadering is verdaag," sê hy.

Ou kerke

E-pos Afdruk PDF
Die berig in Vrystaat oor mense wat so disrespekvol vuur maak teen die Anglikaanse Kerk in Bethlehem, 'n sandsteengebou van meer as 'n honderd jaar oud en wat 'n nasionale gedenkwaardigheid is, laat Herrie se gedagtes na ou kerke sommer ver teruggevoer word.

Jare gelede was Herrie bevoorreg om deel van 'n kulturele uitruilspan te wees wat Nederland besoek het. 'n Uitvoering van 'n simfoniekonsert in 'n eertydse Gotiese Katedraal en nou 'n museum / deeltyds periodiek Gereformeerde kerk (na die Beeldenstorm), was 'n besliste hoogtepunt.

Daar sit ons op ons gestoeltes op 'n vloer wat grootliks bestaan uit die grafstene van lank reeds afgestorwenes. Toe die katedraal gebou is, was daar natuurlik nog nie luidsprekers nie, en die akoestiek moes net wonderlik ontwerp word sodat die priester deur die hele gebou gehoor kom word. Nou gaan sit nou 'n orkes – as Herrie reg onthou die Konsergebou-orkes - in daardie gebou en dit voel kompleet of 'n mens in die middel van die orkes sit.

En dan was dit nog 'n mooi stuk musiek ook – Herrie kan om de dood nie onthou wat nie maar dit kon die derde deel van Bach se Brandenburg Concerto gewees het – maar die hoendervleis het gehardloop, en by tye het dit kompleet gevoel 'n mens word uit die stoel gelig en sweef – baai as't ware in die musiek.

'n Dag later is ons terug, en word onder meer in 'n oneindige stel trappies tot by in die dak van die gebou geneem. Ideale vlermuiswêreld, maar daarvan was daar niks te sien nie. Silwerskoon. "Ideale moederskamer," brom Herrie gedagtig aan Suid-Afrikaanse "baby boomer"-gemeentes se gereelde gespook om plek hiervoor te kry, en amper gooi die dames Herrie daar van bo af op daai grafsteenvloer.

Maar ook Suid-Afrikaanse kerke moes vroeër sonder luidsprekers klaarkom.

Ma-Johanna het as jong onderwyseres op Tweespruit by die destydse huishoudkundeskool skoolgehou. Dié predikant het eerder as knaldemper as luidspreker nodig gehad.

Een Sondag, so met die uitstap uit die kerk, sê die een oom: "Nee, dié dominee preek darem te hard." Vroulief stamp aan hom, en hy let Mev. Dominee kom reg agter hom uit die kerk uit..."Hy sal mos sy stem seermaak," vervat die oom.

Van die ou kerke het die mooiste kandelaarligte.

By geleentheid erf dominee 'n ou haelgeweer, maar dis erg verinnewoes. Hy gee dit vir 'n diaken wat bekend is dat hy knap met sy hande is, om te kyk of hy dit nie weer soos 'n haelgeweer kan laat lyk nie.

Een Sondag, net voor die diens, stop die diaken die blinkgemaakte skietding in dominee se hande. Dominee kan net vlugtig loer, en prop dit opgewonde onder sy toga in, en bestyg die kansel.

Hier kan hy nie gou genoeg die gemeente aan 'n lied help nie, en sak agter die preekstoel weg om die blink skietding mooi te bekyk. Hy trek selfs die sneller.

"Kaboem!" en die een kandelaarlig bars in nog kleiner stukkies en begin op die gemeente neersif, wat desperaat almal gelyk by die deur probeer uit.

Die dominee steier verdwaas regop, en uit verbouereerdheid knak hy die geweer asof om te kyk of dit werklik gelaai kon wees.

Dis mooi net toe Pietie, wat saam met sy pa vir die deur skrum, omkyk.

"Stoot pa!" gil die mannetjie buite homself. "Die d*&% laai al weer!"

Die Stem roep!

E-pos Afdruk PDF
“Die Afrikaner-hart is seer en moeg, maar trou nog!” – Jan F.E. Celliers

Hierdie woorde was amper ‘n eeu gelede geuiter deur ‘n kampvegter vir die Afrikanervolk en ons taal. Gesien in  die konteks van die huidige omstandighede waarin moderne Afrikaners vandag verkeer, dien Celliers se woorde as ‘n inspirasie vir my as jong Afrikaner: die wete dat ons voorvaders soortgelyke uitdagings die hoof gebied het en daarin geslaag het om ons pragtige kultuur, taal en tradisies behoue te laat bly.

Daar bestaan egter ook sg. Afrikaanses vandag soos o.a. Jan-Jan Joubert, Marthinus van Schalkwyk, Leon Wessels, Max du Preez, Carl Niehaus en Antjie Krog wat nie kan aanspraak maak op ‘n Afrikaner-hart nie. Hul aksies het reeds bepaal hoe hulle deur die nageslag onthou sal word. Trouens, indien hulle enigsins onthou gaan word dan sal dit wees in skrille kontras met hoe ons vandag Celliers, Steyn, Langenhoven, Opperman, Hertzog, Malan en van Wyk Louw eerbiedig. Die lyn is getrek en daar is ‘n groeiende Afrikaner- kultuurpolitieke weerstand teen die verraad en galbrakery van die Jan-Jan Jouberts. Hul dae is sowaar getel.

Die Afrikaner-hater en die gif wat hy versprei is nietemin ‘n kenmerkende eienskap van die Nuwe Suid-Afrika. Dit laat my gedagtes dwaal oor wat presies die Nuwe Suid-Afrika dan in werklikheid is. Wees verseker, die land waarin ons vandag woon is hoegenaamd nie dieselfde land waarvoor ons voorvaders geveg het nie. Daardie beloofde land is lankal van ons ontneem, beroof deur die kommunis en sy Afrikaner-haterbondgenote.

Nie net is die Afrikaner se Republiek vernietig nie en die volk óók verraai en vermoor nie maar hierdie sameswering teen ons woed vandag sterker as ooit tevore voort. Die aanvalle op ons, gereeld in ons eie taal, op ons eie mense en op ons kultuur, taal en bestaansreg was nog nooit so groot soos wat dit tans in die Nuwe Suid-Afrika is nie.

Die fantasie van ‘n nie-rassige samelewing waar almal reënboogkinders is word met mening in die jong Afrikaner se keel afgewurg terwyl, in die praktyk, ‘n rassistiese ideologie van swart bemagtiging eintlik met die term “nie-rassigheid” bedoel word. Dis mos maklik vir die jong Afrikaner om aan te pas want ons is jong boompies wat gebuig kan word, gebuig móét word.

Die liberale multikulturele boodskap van TV-programme, nuus, koerante asook die hernoeming van strate, stadia, lughawens en dorpe kan ons mos aanvaar! Ons word vertel dat alles wat met die Afrikaner voor 1994 gebeur het liewers nie onthou moet word nie en by implikasie uit die geskiedenis moet verdwyn sodat ons waarlik deel van ‘n multikulturele reënboognasie kan wees. ‘n Swartreënboognasie, ja. As jy nie weet wie jou voorvaders was nie en wat jou geskiedenis regtig behels nie dan het jy mos niks om voor op te staan of om te probeer beskerm nie.

Verder, wat van die ouer bome – diegene wat geleef het in die dae toe die Afrikaner nog ‘n Republiek gehad het? Al gewonder hoe hierdie mense moet voel noudat hulle hulself in ‘n swartreënboognasie bevind waar alles waarvoor hulle gewerk en gestry het besig is om tot niet te gaan?

Hulle is die mense wat nog suiwer Afrikaans gepraat het toe hulle jonk was en geleer was om trots op hul Afrikaner-identiteit te wees. Hul wortels was geplant in ‘n land waar orde geseëvier het en Afrikaanse volksliedjies met hartelus om kampvure gesing was maar vandag vang hul takke net die winde van verandering, vernietiging en verbastering. Die Suid-Afrika van gister en die Suid-Afrika van vandag is uiteraard meer as net twee verskillende lande; dit is twee uiteenlopende identiteite. Die resultaat is derduisende gebroke harte.

Nou sit ons almal, jonk en oud, in ‘n land wat deur ons voorvaders gebou was, waarvoor hulle gebloei het en op die ou einde eenvoudig deur die massas onherroeplik oorrompel is. Die kommunis en die Afrikaner-hater het sy oorwinning behaal. Waarin moet opregte Afrikaners dan vandag glo? Waarvoor moet ons dan opstaan? Nie vir Suid-Afrika, d.i. die oue of die nuwe nie, nee – ons moet opstaan vir ons Afrikanerskap, vir ons volk se bestaansreg en ons onbetwiste reg om vry te wees om ons taal, kultuur en tradisies uit te leef in ‘n eie Afrikanerrepubliek wat op grond van Christelike waardes en oortuigings opgerig word, deur die Afrikaner vir die Afrikaner. Dit is iets om in te glo!

Ek sal so ver gaan om te sê dat die Nuwe Suid-Afrika van die massas en die Afrikaner-haters ‘n samelewing is wat daagliks met ‘n virus ingespuit word. ‘n Epidemie wat sorg dat Afrikaners hulself Afrikaanses begin noem, op hul knieë gedwing word en sodoende die sataniese omstandighede om hulle aanvaar ter wille van nasiebou. Kyk maar self en sien hoeveel mense se lewens vandag in skerwe is, verveelde ongelowiges en werkloses wat geen ambisie het om stabiliteit en orde te herstel nie. Hulle deel geen liefde vir hul volk nie en hulle het geen wilskrag om die Afrikaner se bestaansreg te verdedig nie.

Laat hulle dan aangaan en verder verdrink in die gif wat die Jan-Jan Jouberts hulle voer. Niemand is so blind soos dié wat nie wil sien nie! As Afrikaner-vryheid, ons taal en kultuur vir iemand te veel, of te ekstreem is om voor op te staan dan is ek bevrees dat so ‘n persoon nie verdien om vry te wees nie. Egter is dit ‘n tweesnydende swaard want dan kan so ‘n persoon ook nie sy swartreënboognasie se helde soos Mandela eerbiedig nie want ten minste het hy opgestaan vir sy mense se vryheid. Was dit ekstreem van Mandela om teen die NP-regime se rassediskriminasie op te staan? Hoekom is dit dan ekstreem van Afrikaners om teen die ANC-regime se apartheid op te staan?

Die Christen-Afrikaner wat weier om verder hierdie gif te sluk moet nou sy huis in orde kry en sy taal suiwer begin praat, sy geloof koester, sy kultuur en identiteit meedoënloos beskerm deur dit op alle terreine uit te lewe. Neem die houding van ons voorvaders in: ons is nie vir onderhorigheid gebore nie!

Gedurende tye soos hierdie is daar altyd twee plekke waar Afrikaners inspirasie sal kry om weer op te staan vir vryheid en vir geregtigheid, d.i. in God se Woord en ons eie Afrikanervolkslied, Die Stem.

Matt. 5:13-14 (1953 vertaling): “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie.”

“Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou. Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vad’re vir ons kinders erwe bly: knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry [...] Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer – met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.” – Die Stem (Roep!)
Laas Opdateer op Donderdag, 08 Julie 2010 13:42

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL