Net soos in die Ongetemdheid (die "Frontier") is wetstoepassing by ons ook yl teenwoordig. En ons word net so geteister deur menssoortige aasdiere wat gedy in die kompos van wetteloosheid.
Die groot verskil is natuurlik dat die Amerikaanse Ongetemdheidsburgers aanvaar het dat die staat nie by hulle misdaadkrisis gaan ingryp nie. Hoewel die beeld van die skrefiesoogcowboy, met die langlooppistole laag teen sy been vasgegespe, natuurlik gruwelik verromantiseer is, wás die gewone burger goed bewapen en - belangriker - die skietgoed was altyd byderhand. En - ook anders as in die Hollywood-weergawe - was die gemiddelde dorpenaar nie maar net 'n hardwerkende dog verbeeldinglose, ontruggrate lam ter slagting nie. Wanneer hulle deur rampokkers bedreig is, en niemand anders kon help nie... het hulle nie 'n telegram vir die A-Team gestuur nie - nee! - hulle het self die probleem laat weggaan.
Hulle het, byvoorbeeld, die gewelddadige James Younger-bende laat weggaan. Nadat die moorddadige Jesse James sonder noemenswaardige sukses deur die Amerikaanse regering, 'n kohort wetstoepassers en selfs die befaamde Pinkertonspeuragentskap van bakboord na stuurboord gejaag is, het die bende hulleself te pletter geloop teen die gemeenskap van die dorpie Northfield in Minnesota. Hulle het een bank te veel probeer roof. Die inwoners het hulleself vir die spul vererg, diverse pistole, Winchesters en haelgewere uitgeryg en die bende sat geskiet.
As jy getrou jou Louis L'Amour gelees het, sal jy weet dat 'n ordentlike, wetsgehoorsame man met 'n pistool 'n indrukwekkende mag van geregtigheid is. In ons land is dit al deeglik gedemonstreer. Toe die APLA-moordenaars die St. James-kerkdiens onderbreek het, AK en granaat in die hand, het 'n enkele moedige en wyse jongman, Charl van Wyk, vuur beantwoord met sy handwapen. Die rowers se veglus is deur hulle vlugdrang verplaas en hulle het hakke gekap om weg te kom.
Daar is niks wat 'n geweldenaar se moed so uit sy lyf pluk soos 'n ontstelde landsburger met donkerbek in die hand nie. Israel is 'n tyd lank gestriem deur aanvalle van terroriste wat verwoed tussen hulpelose skares ongewapende mense ingevuur het. Dié terroristestyl het skielik einde gekry - toe die Israeliregering gewone burgers nie net gemagtig het om wapens by hulle te dra nie, maar hulle inderdaad aangemoedig het om dit te doen. 'n Terroris se korttermyntoekoms is maar aan die grys kant as verwoede burgers uit alle oorde begin terug losbrand. Moslemterroriste het nie vir aanvalle waartydens slagoffers terugveg ingeskryf nie, so nou wend hulle hulle maar tot bomaanvalle.
Indië, daarenteen, het in 'n politieke slappolsoomblik burgerlikes net omtrent verbied om vuurwapens te besit of nog erger - o die afgryslikheid - by hulle te dra. In die pas afgelope Moembaai-slagting het die terroriste doodluiters rondgestap en magasyn na magasyn in die samedrommende burgers leeggeskiet. As Charl van Wyk daar was met sy getroue handwapen, sou die koerantopskrifte anders gelyk het.
'n Fotograaf, Sebastian D'Souza, het 'n opspraakwekkende foto van een van die terroriste geneem wat ronddrentel op die uitkyk vir net nog slagoffers. "Ek wens ek het 'n geweer in plaas van 'n kamera gehad!" skryf D'Souza agterna. As hy 'n geweer gehad het, kon hy 'n erekerfie in die kolf gemaak het want daar sou een terrie goed foersies gewees het. Die terroris was so houtgerus dat hy nie eers 'n magasyn in sy Kalasjnikof gehad het nie! (Die Indiese polisie het nie dié geleentheid aangegryp nie maar het in patetiese hopies agter skuilings gelê en probeer maak of hulle nie daar is nie, selfs nádat D'Souza by hulle gepleit het om tog net te begin skiet.)
Ons het nie (op die oomblik) ('n georganiseerde) terreurprobleem in Suid-Afrika nie. Maar ons het 'n geweldsmisdaadprobleem wat meer lewens op afgrysliker wyse stroop as die normale terrorismevlaag. Ons polisie is te min, te swak betaal, te beteuterd opgelei en te korrup om ons te beskerm. (Nie ál die polisielede is korrup nie maar die helfte wat eerbaar is, moet te veel tyd afstaan om die ander dop te hou en kan sodoende nie hulle volle aandag aan misdaadbekamping wy nie.)
So, dis die Wilde Weste hier - met een deurslaggewende verskil: Die gewone burger in die Ongetemdheid het sy Colt .45 "Vredemaker" aan hom gedra waar almal dit kan sien. En in die saalskede was daar 'n Winchester .45-70 wat kragtig genoeg is om enige misdadiger in sy spore om te dop.
Daar kan nou gevra word of ek bepleit dat elke wetsgehoorsame burger tot die tande toe gewapen Pick 'n Pay toe sal gaan? Hmm. Wel. Dis 'n goeie begin, is dit nie? Maar dis bietjie min, bietjie onduidelik vir my. Ek wil hê die regering moet erns maak met misdaad, en hier is hoe:
Rus elke wetsgehoorsame burger met 'n R4-stormgeweer toe en dwing hulle wetgewend om nooit op straat sonder dit te verskyn nie. As 'n persoon nie vir 'n wapen kwalifiseer nie, moet hy te alle tye 'n amptelike vryskelding by hom dra. En dan wys jy vir my die rower wat doodluiters in die Kolonnade sal instap om dit te roof terwyl daar driehonderd keelvol manne en vroue hulle inkopies met R4 oor die skouer of in die winkeltrollie doen.
Voorts moet die regering 'n nuwe "skiet-eers-en-vra-dan"-wet deurvoer. Daarvolgens moet enige huiseienaar die reg - nee, die plig! - hê om enige ongenooide besoeker of oortreder in die gesig te skiet. Ek was op die grens en glo my, enige iemand wat 'n R4-koeël gesluk het, se moorddadige entoesiasme word net daar en dan gedemp.
By Praag spook ons jare lank al om 'n vreedsame, werkbare politieke uitweg vir die Afrikaner se toekoms te bewerkstellig. Ons sou graag die vrede en veiligheid van elke mens in hierdie land - wit, swart of tussenin - wou waarborg. Dít kan ons nie. Maar as ons Afrikaners saamstaan sal ons nie te lank van nou af veilig en voorspoedig in 'n land woon waar gewapende, wetsgehoorsame burgers die polisie en die weermag met woord, daad en 5,56mm-rondtes bystaan om misdaad uitgeroei te hou.
Nie soos in hierdie land, hierdie bloedbesmette Nuwe Suid-Afrika nie. Hier erken die regering hulle is nie opgewasse om misdaad hoegenaamd te bestry nie, al is hierdie belydenis net opsigtelik in 'n televisieadvertensie wat maan dat die stryd teen misdaad "by jou begin".
Nee, dit begin nie by my nie. Dit begin by die regering en sy veiligheidsmagte wat 'n heilige, Bybelse plig het om die "swaard teen die boosdoener te dra".
Maar goed. Dít gaan nie gebeur nie. Ek het 'n groot 9mm-pistool. Ek weet hoe om hom te gebruik. Ek het ook 'n span lawaaierige honde. En as 'n misdadiger my huis betree, gaan my honde alarm maak. Ek gaan my pistool opneem.
En dan gaan ek voortgaan om my deel te doen.
| < Vorige | Volgende > |
|---|








