Hein Willemse is duidelik iemand wat bewondering in sekere kringe afdwing; ’n sensitiewe persoon met integriteit want is alle anti-Afrikaners en anti-Afrikaanse mense nie sensitief en oorlopend met integriteit nie?
Maar, sensitief en geduldig of nie, jy kan darem nie sê Hein Willemse is nie skerpsinnig nie. Hy weet wat of wie die vuilgoed in die verhaal is. Al daardie edele mense met integriteit in die swartwoongebiede is onderdruk deur... nee, nie Die Onderdrukker nie... maar die taal van die onderdrukker...
Ek kan op hierdie trant voortgaan maar ek is bang meneer Willemse kom nie ten volle agter hoe snedig ek is nie. Sy siening in sy rubriek oor Afrikaans en die Soweto-opstande verdien niks anders nie. Hy praat van die “skandvlek van Afrikaans.” En wat presies is hierdie onuitspreeklike skande wat Afrikaans oor al die (blanke) sprekers daarvan gebring het? Dit is as ’n vak in skole in Soweto aangebied. Hieroor is meneer Willemse en die res van die anti-Afrikaanses baie verontwaardig. Maar verontwaardiging het net waarde in die bestendige toepassing daarvan. Hoekom is Engels, die taal van ’n globale onderdrukker, nie ook saam met Afrikaans in die skandeblok nie? Die rassistiese Mbeki-regime dwing dit na alles op ons almal af. Hoekom word Frans, die taal van twee droewige koloniale moondhede, nie met dieselfde nyd aangeval nie? Of Duits of Japannees of Russies nie? Want hierdie tale is onkwesbaar en die anti-Afrikaanses is venynig soos koringkrieke: As hulle ’n seerplek sien, sak hulle op die gewonde toe en Afrikaans is tans uiters kwesbaar.
’n Taal is moreel neutraal. Ja, die onderhouers van apartheid het hoofsaaklik Afrikaans gepraat maar om die taal ’n sondebok te maak is net so sinvol as om die organe wat die klanke daarvan produseer, te beskuldig. Kan ons verwag dat Mnr. Willemse binnekort ook – ter wille van konsekwentheid – ook gaan uitvaar teen tonge en stembande?
| < Vorige | Volgende > |
|---|






