00:00:00 Desmond Tutu het die volgende oor oeboentoe te sê gehad:
“Swartmense het iets genaamd OEBOENTOE. Dit gaan oor die essensie van menswees; dit maak deel uit van Afrika se geskenk aan die wêreld.
Dit omvat gasvryheid, omgee, om die ekstra myl vir ander te kan loop. Ons glo dat ‘n mens ‘n mens deur ‘n ander mens is, dat my menslikheid by joune, onlosmaaklik, betrokke is. As ek jou sou verontmenslik, verontmenslik ek onvermydelik myself. Die enkelingmens is ‘n teenstrydigheid en daarom werk jy vir die gemeenskaplike doel want jou menslikheid word verwesenlik deur te behoort.”
Die word “oeboentoe” kom vanuit die Nguni-tale. Oeboentoe beteken menswees en omvat die deugde van goedgesindheid, mededeelsaamheid, vrygewigheid, gasvryheid, vriendskap en barmhartigheid of simpatie en hierdie eienskappe word dus gebruik om ‘n persoon te beskryf wat “oeboentoe” het.
Die opskrif van ‘n koerant
is baie misleidend want dit lyk asof xenofobie deur oeboentoe vervang is. Indien oeboentoe geheers het, het almal hulle wapens neergegooi en mekaar omhels. Dit het nog nie gebeur nie.Waar is die oeboentoe van die “African” nou? Biskop Tutu moet dit maar begin soek want iewers het iets baie groots verkeerd gegaan. Die regering wat gedink het hulle is die antwoord en die redding teenoor die vroeër, boser regering moet weer gaan dink daaroor aangesien die boodskap wat tans hoorbaar raak, is dat die demokratiese regering nie die pyp gaan rook nie… en ook nie gaan sokker speel nie.
In ‘n vroeëre artikel het ek ‘n afbeelding geplaas wat ek uit ‘n skoolhandboek gehaal het. Ek wil dit graag weer plaas saam met ‘n spotprent uit die Mail & Guardian:
Dit is wonderlik dat al die mense nou ewe skielik die woord “oeboentoe” ontdek het, ‘n fonds geskep het vir die slagoffers van xenofobie, geldelike bydraes gee en dat selfs UNISA se rektor vra dat die personeel elk R100 van hul salaris afstaan aan die vlugtelinge en slagoffers van xenofobie, maar my vraag aan die barmhartige persone en veral aan die blankes wat geld gee, is: Wat van die slagoffers van plaasmoorde wat alleen moet staan nadat hulle in die hospitaal opgeneem is met die wete dat hulle geldelik sukkel? In baie gevalle is mense dood en moet vir begrafnisse betaal word. Ook die sielkundige behandeling agterna bring verdere kostes mee. Wat van ‘n “oeboentoefonds” vir hulle waar ons ander blankes wat dit self nie breed het nie kan bydra?








