‘n Volk staan verdeeld

Deel op
Die enkele grootste struikelblok in die selfbeskikkingsproses van ons volk op die oomblik is onsself. Die onreg wat teen ons gepleeg word op omtrent elke vlak van die samelewing is ‘n reaksie met geen teenreaksie, iets wat vreemd is uit ‘n wetenskaplike oogpunt. Met ander woorde, ons laat dit toe.

Die ironie is dat die groter deel van ons mense besef dat ons as kultuurgroep uitwissing in die gesig staar, maar dat ons nog geen noemenswaardige aksie geloods het in die laaste 15 jaar om dit te stop nie. Erkenning moet gegee word aan al die splintergroepe, faksies en organisasies wat dit wel hulle taak maak om hierdie aanslag te probeer stop, maar dit is ongelukkig net nie genoeg nie. Dit is nodig, nee noodsaaklik, vir die Afrikanerkultuur se voortbestaan dat daar ‘n gemeenskaplike en kollektiewe poging aangewend word deur die groter deel van die volk.

Nou kom ons by die brandpunt- Hoekom kan ons dit nie regkry om saam te staan nie?

Myns insiens word hierdie kwessie te maklik afgemaak as ‘n hardkoppigheid onder ons mense, iets wat ons net kan “oorkom”. Enige iemand wat betrokke is by aksies wat staatmaak op die betrokkenheid van die Afrikaner sal vinnig vir jou kan vertel dat die mense eenvoudig net moedswillig is. Kan dit wees dat ‘n volk duisende moorde, verkragtings en rooftogte op sy eie mense sal duld bloot oor iets so kinderagtig as moedswilligheid? Is dit moontlik dat ons sal bystaan en toekyk hoe ons taal, ons Godsdiens, ons finansies, ons jeug en alles wat ons besit tot niet gaan bloot omdat ons “hardkoppig” is?

As ons gaan kyk na mense se individuele frustrasies met wat op die oomblik aangaan is dit moeilik om te glo dat die probleem so eenvoudig is. Die individu om die braaivleis vuur eggo dieselfde geluide as die organisasie of beweging, dog sluit hy nie aan nie. Die vroue in die Bybelstudie groepie deel dieselfde kommer as wat talle Afrikaner leiers probeer aanspreek, dog stel hulle nie belang om betrokke te raak nie. Die vraag bly- Hoekom nie?

Een van die eksterne faktore is ongetwyfeld die rol wat die media speel. Om een of ander rede val ons oor ons voete om te beaam: “Die Afrikaner kan nie saamstaan nie”. Selfs stoere Afrikaners erken dit gedwee dat ons nie kan saamstaan nie. Dit is egter loutere bog. Verduidelik vir my hoe bou jy ‘n Republiek soos pre-1994 Suid Afrika, tot die krag wat dit was, onder talle aanslae, sonder om op een of ander manier te kan saamstaan?

Die media se tweede groot suksesverhaal is hoe hulle dit regkry om die Afrikaner uit te maak as ‘n agteraf, onnosel, eng, verregse, rassisties ekstremis. Dit, terwyl die groter deel van Naspers se bestuur, tegnies, aan dieselfde Volk behoort en Naspers self deur die einste Volk opgebou is. As dit nie die toppunt van Volksverraad is nie, weet ek nie! Die probleem is egter dat die gemiddelde Afrikaner op straat nog steeds glo Naspers is aan ons kant. Die name Volksblad en Die Burger is terme wat mos met die hart praat en daarom glo hulle nog steeds wat hierdie koerante kwytraak.

Gee die duiwel sy eer- Naspers kry dit reg om die gewone man op straat te oortuig dat alles maar reg is terwyl daar duisende van sy volksgenote op die wreedste maniere denkbaar vermoor word. Dit, liewe leser, is die mag van propaganda. Dit is hoe mens propaganda bestuur. Dit is ongelukkig ook ten koste van ons. Solank as wat die media ‘n klok van “Regs”, “Rassisties” en “Ekstremisties” om die nekke van die Afrikaner gaan hang wat veg vir die oorlewing van ons volk, gaan daar mense wees wat skepties gaan staan teenoor ons doelwitte.

Naspers en die ANC is egter nie die sondebok wanneer dit kom by die versplintering van ons mens nie. Inteendeel, hulle aanslag op ons as kultuurgroep behoort ons eerder nader aanmekaar te bring. Die fout lê by ons en dit is nie wat ons mense wil hoor nie. Ons het verval in ‘n gemaksone om alles wat verkeerd is voor die deur van die vyand te lê. Dit vererger egter net die probleem. Om die stryery onder ons eie mense op te los moet ons eers erken dat die fout by ons te vinde is, anders sal daar geen vordering gemaak word nie.

Vraag bly staan- waar kom die probleem vandaan?

Om waarlik ‘n sop te kan waardeer moet jy weet wat alles daarin is. Ons volk is bloedjonk in vergelyking met ander kulture, ‘n mengelmoes van kultuur, taal en geloof wat in ‘n baie kort tydjie onder groot druk gevorm is. Om dus net aan te neem dat hierdie volk oor ‘n homogene karakter beskik, grens aan wensdenkery. Nou is daar baie mense wat kan reken ek weerspreek myself omdat ek gesê het die Afrikaner kan saamstaan. Ons moet egter gaan kyk na die omstandighede. In die era van Apartheid, het ons ‘n baie beskermde lewe gelei. Die regering van ouds het ons beskerm op talle terreine. Tel by dit die feit dat ons in ‘n tyd was van “bou” en jy kry ideale omstandighede vir ‘n mate van verdraagsaamheid.

Vandag is al ons beskerming van ons ontneem, ons kan nie eers op die polisie reken nie, alles wat ons gebou het word van ons weggeneem en ons veg letterlik daagliks om oorlewing. Hierdie omstandighede dryf die individu na ‘n tipe individuele oorlewings-instink. Gaan kyk maar na die gemiddelde Afrikaner familie- Hulle bou diefwering om hulle eie huis, probeer hulle eie goed beskerm, probeer hulle eie finansiële toekoms beskerm ens. Dit is amper ‘n paniekerige poging om primêr te fokus op sy eie dringende belange. Hierdie tipe van omstandighede wys ongelukkig die krake in ‘n baie jong onvolwasse volk.

As ons in ag neem dat die Afrikaner bestaan uit talle verskillende kulture, tale en geloofs-sieninge is dit net logies dat daar verskille gaan kop uitsteek. Dit is egter nie die verskille in kulture wat pla nie, maar eerder die verskille in ons voorouers se motivering om na hierdie land te kom wat die probleem is. Sommiges het uit Geloofs-oortuiging hiernatoe gekom soos die Protestante, maar ook die Sendelinge. Dan is daar die mense wat as gevolg van finansiële oorwegings hiernatoe gekom het, miskien met die idee van ‘n nuwe begin of dalk agter die goud aan. Baie mense het uit protes teen hulle regering besluit om hiernatoe te verhuis, ander bloot agter die avontuur aan. Dan is daar nog die klomp wat na een of ander oorlog hier agter gebly het. Elkeen met sy eie motivering.

Dit is hierdie verskillende motiverings wat vandag weereens kop uitsteek in die debatte onder ons eie mense. Hulle stry oor geloof-interpretasies wat wissel van die meer liberale ‘sendeling’ standpunte, deur die gereformeerde ortodokse sienings tot by nuwe vorms van protestants. Dan is daar die verskillende politieke sieninge wat baie keer terug getrek kan word tot regeringvorms of politieke modelle van ouds. Die idee van selfbeskikking op ‘n politieke wyse staan ook teenoor die meer finansiële klem wat deur ander op die selfbeskikking geplaas word. Dan is daar die wat nog steeds op soek is na ‘n oorlog en ander wat eenvoudig avontuurlustig is.

‘n Mens wonder of hierdie terugkeer na spesifieke idees nie dalk iets te doen het met die individu se onderbewustelike herkenning van gevaar nie? Ek is geen sielkundige nie, maar dit wil voorkom of baie van ons, selfs onnodig baie, klem lê op, eenvoudige verskille tussen ons. Dit is amper of ons ‘n weersin ontwikkel het om saam te staan.

Wat ook in ag geneem moet word is dat ons volk se gemiddelde intelligensie redelik hoog is. Ons beskik nie oor die “massas”, miljoene oningeligte, mense wat opgesweep kan word nie. Die individu het sy eie opinie, en indien die leier of die organisasie nie hierdie opinie weerspieël nie, moet hy dit eers oordink (en heel moontlik daarmee stry). Die Afrikaner se intellek is op die oomblik ‘n meulsteen om ons nek. Ek is oortuig met ‘n laer gemiddelde IK sou die Afrikaner al lankal in gewapende opset gekom het teen die huidige aanslae, maar ons dink nog eers daaroor.

Wat my die meeste pla is dat mense nie besef dat elke verskil tussen ons, eksponensieel bydrae tot ons versplintering nie. Die eerste verskil deel die volk in twee, bv. “Afrikaner vs Boer”. Die tweede verskil deel die volk in vier, bv.

“Afrikaner-Volkstater, Boer-Volkstater, Afrikaner nie-Volkstater, Boer nie-Volkstater”

Die derde verskil deel die volk in agt, daarna in sestien ens. Met elke verskil kom daar nog ‘n ton splintergroepe by en dit, liewe leser, maak ons dood.

Indien mens al hierdie gronde in ag neem is dit naïef om eenvoudig ons onderverdeling af te maak as sinnelose hardkoppigheid. Waar ons die klem lê, wat ons as prioriteit sien en dit waaroor ons verdag staan is alles deel van ons menswees. Dit bly egter ‘n wesenlike probleem omdat dit ons tans verhinder om saam betrokke te raak in betekenisvolle inisiatiewe.

Wat is dan die oplossing?

Daar is verskillende roetes wat ons kan volg. Ons kan in die eerste plek besluit om niks te doen nie en te hoop dinge word vanself beter. Ek sal dit egter nie voorstel nie. Ons kan ‘n baie groot tafel kry en almal rondom die tafel sit met die hoop dat ons dinge kan uitpraat, nog iets wat ek nie aanbeveel nie. Ons kan wag totdat ons letterlik saam in ‘n blik gedruk word, rug teen die muur en dan uit nood ‘saamstaan’ of ons moet ‘n model op die tafel kry wat die verskille tussen ons erken, toelaat en nog steeds ‘n gemeenskaplike doelwit van selfbeskikking kan najaag. ‘n Model waar ons net een ding verwag van die persoon langs ons en dit is die besef dat die volk moet voortbestaan, nie ‘n wasgoedlys van vooropgestelde ingewikkelde argumente en ideologieë nie. Kom ons los daardie gesprekke vir die dag as ons weer oor ons self regeer.

насосы отзывыtopcargo развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.