Mandela lewe nog

Deel op
Oudpres. Nelson Mandela se eertydse vrou, Winnie Madikizela-Mandela, was Donderdag in trane nadat sy hom by die Milpark-hospitaal gaan besoek het.

Mandela word sedert Woensdagmiddag by dié hospitaal behandel.

Sy het haar oë afgevee en haar neus geblaas toe sy omstreeks 13:30 die hospitaal verlaat het.

Graca Machel is ook opgemerk toe sy omstreeks 15:00 Donderdag by die hospitaal opgedaag het. Kort voor Graca se aankoms het die emosionele Winnie Madikizela-Mandela die perseel verlaat, het Sapa berig.

Madikizela-Mandela was saam met Mandela se oudste kleinseun, hoofman Mandla Mandela, en ander familielede.

“Die ou man is baie siek, maar sy lewe is nie in gevaar nie,” het die AFP-nuusagentskap ‘n anonieme bron aangehaal.

Volgens Reuters is Mandela steeds in die Milpark-hospitaal nadat een van sy longe platgeval het. Hy is glo nie in ‘n waakeenheid nie.

“Hy is ingeneem vir ‘n roetine ondersoek en dokters het besluit om hom in die hospitaal te hou vir observasie. Hy is nog nie gesond nie, maar sal moontlik Vrydag ontslaan word.”

Mediese beamptes wou dié inligting nie bevestig nie.

Waarnemende president, Kgalema Motlanthe, het aan die SABC gesê dat Mandela “nog lewe en dat hy nie gesterf het nie.”

Hy het alle Suid-Afrikaners, asook die wêreld, verseker dat Mandela goed versorg word.

Politieke leiers, familielede en ANC-glanspersoonlikhede het Donderdag te danke aan die media-aandag die hospitaal oorval wat deur ‘n militêre kordon afgesper is. IVP-leier Buthelezi het na dié toestroming as ‘n “sirkus” verwys.

Die ANC het ook Donderdag Suid-Afrikaners tot kalmte gemaan.

“Laat ons asseblief nie onnodig paniekknoppies druk nie,” het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, aan die eNews-kanaal gesê.

“Daar is niks kritiek waarvoor hy hospitaal toe is nie.”

“As daar enige verwikkelinge is, sal die Nelson Mandela-stigting en Mandela se familie ons almal in kennis stel,” het Jackson gesê.

справка освобождениетопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.