‘n Ateïstiese boek in Afrikaans

Dis ‘n yslike mite dat daar godsdiensvryheid in Suid-Afrika is. Dit is dalk waar dat daar ietwat meer ruimte is vir andersdenkendes – grotendeels “ongelowiges” – om hulle sieninge selfs in die openbaar te stel, en selfs op hierdie forum sterk standpunte oor godsdiens in te neem, maar sekere dinge van die ou bedeling vier steeds hoogty.

Hier verwys ek in besonder na boeke wat daardie andersdenkende ongelowige standpunte stel en uitdra vir hopelik ‘n wyer leserskringe. Daar is steeds ‘n hele aantal boekwinkels soos CUM wat ‘n groot verskeidenheid boeke oor hoofsaaklik die christelike godsdiens aanbied en selfs boekwinkels soos CNA en Exclusive Books (of wat hulle nuwe naam ook is) het gewoonlik ‘n rak of twee vol godsdienstige werke, en hulle sal selfs ‘n eksemplaar of twee dra van Hawking of Dawkins of Hitchens se boeke, maar jy soek jou moeg en sat vir enige iets in daardie trant in Afrikaans.

Hoekom is dit so? Daar is blykbaar ‘n paar titels in Afrikaans wat die ongelowige standpunte weergee of die “heidense” evolusieleer bevorder, maar hulle word nie voorop gestel in die winkels indien hulle wel aangehou word nie.

Hoe waar hierdie mening is, het ek ‘n week of wat gelede met ‘n bietjie van ‘n skok uitgevind.

Ek is genooi om ‘n byeenkoms van ‘n klein groepie mense wat so bietjie andersdenkend is as die meeste ander, by ‘n woonhuis hier in Pretoria by te woon. Net toe ek in die ruim voortuin inry en my motor parkeer, kom daar ‘n kêrel op ‘n groot motorfiets – ek dink dit was ‘n Harley-Davidson – aangery.

Ons het so half saam-saam ingestap en toe stel ons gasheer ons aan mekaar voor. “Armando, is die skrywer van ‘n boek wat jy dalk in belang kan stel. Die titel is: ‘Ateïsme, die Saak teen God'” vertel ons gasheer.

Natuurlik stel ek belang. Ek soek na Afrikaanse boeke in hierdie en verwante rigtings. Dit blyk toe dat ons gasheer ‘n paar eksemplare van die boek byderhand het en teen ‘n spesiale afslagprys koop ek dit net daar..

Later die dag begin ek lees – en onmiddellik is ek beïndruk. Armando Pellencin het ‘n moeilik uitspreekbare van, maar sy Afrikaans is nie net keurig en leesbaar nie, maar die boek self is ‘n groot verrassing met die kundigheid daarvan, die deeglikheid van sy navorsing, die treffende insigte en ontledings en die eerlike gebruik van aanhalings van verskeie skrywers wat alle behalwe die ateïsme aanhang. Hy haal mense soos Aquinas, Luther en andere woordeliks aan – soms in Engels as hy meen dat iets van hulle betekenis verlore kan gaan in vertaling. Dit staan natuurlik in skerp teenstelling met die wyse waarop kreasioniste “ongelowiges” soos Dawkins en kie dikwels “wanaanhaal”.

Armando se boek is nie ‘n vinnige oppervlakige lees nie. Dit is ook nie ‘n militante uitvaar en gevloek op godsdiens nie, soos sommiges dalk sou dink nie. Dit het ‘n baie sterk akademiese inslag met gewigtige ontledings van begrippe soos ateïsme, agnostisme, panteïsme, teïsme en geloof en daarteenoor die rede, “opdragte en openbarings”, verskillende godsbegrippe, die “sondes van die Christendom”, die etiek van Jesus, ensovoorts.En deurgaans word dit gesteun met aanhalings en bronverwysings uit ‘n stuk of 50 verskillende werke.

Voorwaar ‘n deeglike stuk werk wat selfs vir my wat myself as redelik wydbelese – natuurlik feitlik net in Engels — oor hierdie saak beskou, nuwe inligting en insigte gebring het! En selfs gelowiges skan dit dalk nuttig vind – maar dan sal hulle beslis van die meer intellektuele, ondersoekende soort moet wees.

Maar hier is nou die slegte nuus. Die boek is nie beskikbaar in boekwinkels nie want selfs instansies soos die CNA en Exclusive Books wil dit blykbaar nie op hulle rakke hou nie. Hoekom die voorafbepaalde sensuur weet ek nie, maar ek kan net vermoed dat daar druk van verskeie rigtings kom oor boeke van hierdie aard – en dan nog in Afrikaans.

En Armando moes die boek self uitgee en publiseer want daar ook kon nie ‘n uitgewer gevind word wat bereid is om sy naam voor in die imprimatur te plaas nie. Hy het dit gedoen deur middel van Publiself Uitgewers wat ‘n mens net laat betaal vir hulle koste en dan die bemarking en verkope – en enige inkomste – vir jou laat.

Hierdie gebrek aan kundige boekopstellers en redigeerdes is helaas soms sigbaar in bv. ‘n voetnota wat sommer oor drie bladsye strek en enkele setfoute, maar dit doen nie afbreuk aan die gehalte van die inhoud nie.

Armando se taal is besonder keurig al is dit soms ietwat anders soos dat hy die woord “almoënd” verkies bo alvermoë. Maar dit staan tog so in HAT.

Beslis ‘n aanwins vir enigeen wat graag in hierdie rigting lees en soveel te meer so omdat dit in Afrikaans is. Ons soek meer van hierdie soort boeke in ons eie taal. Ek het gehoor dat daar ‘n boek was met ‘n titel van iets soos “Evolusie is ‘n Feit”, maar net soos met Armando se werk, kry ek dit nie gelys op Kalahari.Net of Loot.co.za nie. Ja, ek weet van die twee “grotes” – die Groot Gedagte en die Groot Avontuur, maar die GG nogal goeie feite gee oor die heelal en die oerknal en GA oor evolusie, eindig eersg. met ‘n hoofstuk wat lof en hulde bring aan een of ander godheid met die naam God en die GA is so deurspek met die skrywer se eie, dikwels lagwekkende “teorietjies” dat die titel eintlik die Groot Ego moes gewees het.

Ek het dit self al oorweeg om ‘n bondige, maklike lees bare werk oor evolusie te skryf en ek het al op verskeie plekke gepleit dat ware kundiges aan ons universiteite dit doen, maar met ‘n paar navrae by kennise wat by uitgewers betrokke is, is ek baie gou ingelig dat ek my tyd en my geld mors. Hulle stel nie belang nie.

Daar is geleentheid en geld vir godsdienstige “pulp and trash”, maar helaas nie vir die a-godsdienstige stywe pap nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.