Joegaai! ‘n Plaasmoord

Die een se dood is die ander se brood, nè, en so het Naspers se spens vroeg in Desember onverwags vol geraak. ‘n Plaasmoord, ‘n goeie een, so asof bestel. Nou goed, eintlik was daar twéé, nee, eintlik vier, regtig, want vier mense is dood in twee voorvalle, maar die een voorval, ‘n vrou op haar bed vasgebind en met ‘n voorhamer doodgeklop, is nou nie juis várs brood nie, is dit? Te min beweging, te min drama. Maar die een op Lindley!

Asof op bestelling, ‘n goeie een, ja, met al die beste elemente: Boer wat niksvermoedend uitstap, soos hy al ‘n duisend keer gedoen het, by die agterdeur uit, en toe die suis en die doef van die panga deur die lug en in sy skedel in. Toe die dramatiese doodsworsteling wat eers eindig nadat die aanvallers ‘n tuinvurk kruis en dwars deur sy bobors ingetrap het. Daarna, daai skielike indruising, vinnige swart stemme, stroom van beweging wat die hulpelose plaasvroutjie terugstu in ‘n hoek van hulpeloosheid in. En nou, hier’s wat van dié plaasmoord ‘n wenner maak: Die kleintjie word toe mos deur ‘n swart tiener buite toe gedra, aan die hare voor sy oë gehou en toe skiet hy haar deur die kop. Net so, gedaan en klaar.

Toe gaan hy – jy kan hierdie goed nie uitdink nie! – toe dra hy die pap lykie al die pad terug in die huis in en wys dit vir haar ma voordat dié gedwing word om die kluis oop te sluit waarna hulle haar so Schindler’s-List styl teregstel.

Nou kyk, hiér ‘n storie, die beste soort. Dis nie sommer net ‘n gewone, tuintipe plaasmoord nie. Dank Vader – of dan, meer gepas vir die postmoderne Naspersiër – dank die gode vir die klein dogtertjie. Dis sý wat vir hierdie storie bene gee. En dit in Desember! Die einde van die jaar is tradisioneel ‘n droë seisoen vir koerante. Parlemente is in reses, die sport is grotendeels klaar gespeel, die pryse uitgedeel, die beste moorde reeds gepleeg. Dis asof die hele wêreld afrat, of soos ‘n wipwaentjie teen die laaste opdraande van die jaar opkruip voordat die lewe weer spoed vat in Januarie.

So, die koerante maal maar die gewone gruis hierdie tyd van die jaar. Dis nabetragtings en top-tien-lyste van die beste, die slegste, die gekkigste dinge van die jaar. Daar is fliekresensies van vakansieflieks maar niemand lees dit nie. Kerswenke, half-pittige idees oor nuwejaarsvoornemens, vooruitskoue, gevierdes se vakansieplanne… Vullers met ander woorde. Daar is altyd koerantruimte om vol te maak, maar in Desember is dit asof die hele koerant net vullers is. En dan, gode den dank, ‘n lekker, fasetryke plaasmoord.

Die beste moordstories is dié wat in foto’s vertel kan word. Terwyl die boere- en wyer blanke gemeenskap steier en sidder van skok, word daar in redaksiekantore binne trefafstand van Lindley voorberei en gedinkskrum. Vir hulle is daar nie die tyd, die luukse of die inklinasie om hartseer of afkeurend te wees nie. Skok, verbystering, haat… emosies, om presies te wees… dis vir die kleinburgerlike gemeenskap. Die Pers is Nuus! en Nuus! is die roeping van ‘n elite. Hulle staan, nou ja, miskien nie verhewe bo emosie nie, maar dan darem verwyderd, afgesonder, geheilig daarvan. Daar is net een vraag: Hoe kan ‘n voorval en die deelnemers daaraan vir Nuus! tot diens wees? Die fotograwe word aangesê om toe te sien dat hulle kameras se batterye gelaai is.

Vir die fotograwe is dit eenvoudig. ‘n Voorval – moord op Lindley! – moet getap word en die betrokkenes gemanipuleer word vir die heel beste blerrie foto wat jy aan kan dink. So sit hulle in die redaksiekantore, terwyl hulle die sakrament van kitskos eet teen die agtergrond van beroemde kiekies uit die Verlede, en teoretiseer oor die Rol van die Gemeenskap in die Groot Foto…

Kyk, daar is nie een van hulle wat nie wens hulle was daar, kanonloop-Canon in die korrelposisie, toe die eerste noodlottige houe buite die plaashuis geval het nie. En, soos altyd, vra hulle onderling die vraag: As jy daar was, sou jy probeer het om klein Willemientjie te red?

Regte antwoord: Nee! Die fotograaf, soos enige Nuus!mens, is daar om ‘n rekord van gebeure saam te stel, nie om self daaraan deel te neem nie. Ons skryf en fotografeer die Nuus!, sê hulle, ons maak dit nie. Dis ‘n Heilige Dictum van die Heilige Nuus!mense. Jy sal tog nie van ‘n wildlewefilmmaker verwag om die bokkie te waarsku dat die leeu op haar afsluip nie. Nee, jy sal die jagtog en die doodslag met grootste noukeurigheid verfilm tot die laaste stuiptrekking en verskrikte blêr van die ooitjie. Die gemeenskap is soos organismes vasgeklem tussen die glasplaatjies onder die lens van ons mikroskoop. Die Heilige Nuus!mense, dienaars van die Heilige Nuus!, is daar om aan te teken, te ontleed, te interpreteer, maar nooit ooit om met die slagoffer te identifiseer nie.

Die Nuus!redakteure verskyn en fotograwe word saam met verslaggewers gesalf om na die toneel te haas, om die sap uit die storie te suig en die beste blerrie foto’s moontlik te neem. Onderweg word daar gefantaseer. Sê nou maar net jy kón op die toneel gewees het terwyl die moorde afgespeel het? Wat sou die beste moontlike foto gewees het? Attie Potgieter in sy doodsworsteling, wriemelend onder die viertandprik van die tuinvurk? Of die boeremoedertjie op haar knieë, weerloos voor die aanvaller, smekend om genade wat sy nie verwag nie?

Met die allerhaas van ‘n wegsleeptrok op pad na ‘n BMW in ‘n ongeluk daag hulle by die plaas op, net toe die polisiedeskundiges die laaste bietjie opruim. Langlens-Canon voor die oog, soos die gestolde slurp van ‘n olifant, of soos die stormgeweer van ‘n spesmaglid in ‘n doolhof, paraat vir die foto, dáárdie skoot, sou dit opduik. ‘n Groot Foto verskyn soms net vir ‘n oomblik en as jy laat is op die sneller, verloor jy hom vir altyd.

Die fotograafgode is in ligte luim vandag, want sowaar, kán dit wees, wat sien jy hier voor jou, kan dit die liggaampie van die plaasdogtertjie wees? En dit is, steriel in ondeursigtige sintetiese materiaal toegedraai, in die arms van ‘n beampte wat haar op ‘n draagbaar plaas. Maar ai, die fotograafgode, die ou terggeeste, so naby en tog so ver, want ons kan van haar niks sien nie, nie ‘n bebloede wangetjie of ‘n gekneusde armpie of selfs ‘n slepie rooi hare nie. Niks. Sy’s net ‘n opgevoude bondeltjie in ‘n plastieksak.

Nou ja, ‘n Nuus!mens is jy ook nie as jy nie bietjie rondom ‘n probleem – uit die kassie uit, jy weet – kan dink nie. Neem dikloop-Canon op; skiet die plaashuis. Niks dramaties daar nie. Niks goties of selfs stroewe sandsteen nie. Eerder een van daai reguit op-en-af huise met die vlak spits en lae plafonne teen die Vrystaatse winterkoue. Wel, die Nuus!mense, die fotograwe is hier om beeldmateriaal te kry en sonder beeldmateriaal gaan hulle nie weg nie.

Die volgende week staan hulle snoep die foto’s, wat hulle geneem of by die vermoordes se familielede afgebedel het, toe. Die foto van die liggaampie-in-wit-plastiek is amper dramaties, amper veelseggend, maar dis oorbelig en gestroop van die werklike drama. So, om die stories wat uitgeryg word in die dagblaaie te ondersteun, is daar hier ‘n foto’tjie van die drie saam – boer Attie groot en rysig in ‘n stoel, ma Wilna regop langs hom en Willemientjie ondeund en spelerig in haar arms – daar ‘n portret van Willemientjie, rooikoppie… Willemientjie, Willemientjie, is dit nie ‘n wonderlike naam in die omstandighede nie? Bedoel nou net, die kontrás, die spelerigheid teenoor die brutale einde.

Nou ja die Nuus!mense en die fotoskuts het hulle bes gedoen, onder die omstandighede, nou is dit vir die begrafnis.

Naspers se Nuus!mense en Fotoskuts ry in die Joegaai!bus Lindley toe. Die Joegaai!bus is ‘n Toyota Quantum-bussie, uitgedos as mobiele advertensie vir Rapport. Die bussie is die kleur van ‘n hartstogtelike rooi lipstiffie en die advertensie daarop is ‘n rits strokiesprentpanele wat afgekyk is by Andy Warhol, die popkunstenaar. Van voor na agter is vyf blokke met verskillende gesigte primitief met swaar lyne en psigedeliese kleure geskilder, so al op Warhol se beroemde blokkeportret van Marilyn Monroe af waarin dieselfde afdruk van haar gesig in 9 panele verskyn, net elke keer in ‘n ander kleur. Die Joegaai!bus se gesigte is dié van die koel mense, wat met alles en vir alles en vir almal is. Die middelste paneel is van ‘n jong lat wat guitig gil. Die heel voorste gesiggie is van ‘n peuterdogtertjie. Dit kon Willemientjie gewees het, maar dit is nie, want Willemientjie is mos deur die kop geskiet.

Agter, bo die laaste prent, is dit nog steeds die ene popkuns, maar dié keer afgetrek op Roy Lichtenstein, die stuitige maaifoerie wat Kandinsky en De Kooning se klokke gelui het deur die gek te skeer met hulle blertse- en smeerselkuns. Hy het dit gedoen deur eenvoudige, proletariese strokiesprent panele op te pomp tot omvangryke skilderye, sulke halftintprente met die kenmerkende presies verspreide kolletjies om skakerings teen effekleur aan te toon. Om die poets te beklemtoon was die skilderye volledig met uitgelate byskrifte soos: “Pow!” en “Wham!”

Die Joegaai!bus se Lichtenstein-na-apery is ‘n lat hier in sy twintigs wat agter sy hand verby fluister.

“Psst… bring jou Nuus!” sê hy in een van daai spraakborrels eie aan die strokies. Met sy ander hand hou hy ‘n plaatjie omhoog – eintlik lyk dit met eerste oogopslag soos ‘n tandepastebuisie, maar dit ís ‘n plaatjie – en daarop is die naam “Rapport” in die welbekende logo. Goed, so, as die leser die hele affêre reg ryg, is die boodskap: “Psst, RAPPORT bring jou Nuus!.”

Natuurlik is dit alles net ‘n ironiese ondeundheid. Rapport fluister nooit. Rapport gil, dra banieropskrifte in vetdruk, kies hamerslagkoppe vir stories, mik altyd vir die omstrede. (Let wel, vir Rapport soos vir enige Naspers-produk beteken “omstrede” enige iets wat die Afrikaner ontstel.) Hulle sou trouer aan hulle aard gewees het met klanknabootsings in hoofletters, soos die geluide tydens die Potgieter-aanval: Die Swiessj-DOEF! van die pangakap, die WLANK! van die deur wat oopgeskop word, die gha-DWAAH! van die pistoolskoot… Dis mos meer Rapport as “psst…”

En tog, in al die geoogknikkery is daar tog iets onbedoeld veelseggend. Dieselfde ontwerp word oor die agterruit herhaal, maar die uitleg van die beskikbare vlak verskil, so die ontwerper moes noodgedwonge elemente rondskuif. In plaas daarvan dat ons inligter sy bordjie regs bo die stippellyn hou om die woord “Rapport” daar in te vul, hou hy dit nou links bo, voordat die woorde begin. Dit lees nou: “Rapport psst… het Nuus!.” En daarin sien ons die ongeërgdheid van die hedendaagse Rapport-redaksie. “Ons,” sê die advertensie, “sal vir jou Nuus! aanbied soos ons wil, waar ons wil, hoe ons wil, en as ons redaksie en sub-redaksie nou nie te noukeurig is nie, wat daarvan? Jy sal lees wat ons jou gee, want ons is ál wat daar is.”

Om dít te onderstreep, te bevestig, kry Naspers se Nuus!mense en Fotoskuts koers na Lindley in die skelrooi, joolwa-agtige Joegaai!bus, wat amptelik nie die Joegaai!bus is nie, maar “Nuusbus 1,” so in ‘n eggo van Redding Internasionaal. “Thunderbird Een, Thunderbird Een… kom in!”

Die Naspersiërs gaan in hulle Nuus!joolwa begrafnis toe. Sou ‘n meer sombere, of dan ten minste minder opvallende voertuig nie meer gepas gewees het nie, die melancholie van die geleentheid in ag geneem? A, ja, maar sien, dis hoe die organisme tussen die mikroskoopglasplaatjies daaroor sou dink. Maar nie as jy ‘n Naspersiër is nie. Dan sal jy verstaan hoe waardevol die stelling is wat die Joegaai!bus maak: Ons is nie hier om te rou nie, nie hier om mee te voel nie, ons is hier om die Nuus! te kom haal. Ons is nie Afrikaner, Afrikaans, volk, nasie, Afrikaan of Suid-Afrikaner nie. Ons is Naspers en ons ry waarin ons blerriewel wil, so gaan aan met julle kleinburgerlike geworstel met verdriet en verlies en ons sal die belangrike doen en dien. Ons sal die Nuus! opteken.

Dis nie dat hulle ongeërg is oor die begrafnis nie. Hulle is, maak geen fout nie, opgewonde daaroor, en ook op hulle hoede. Begrafnisse is ‘n Nuus!mens se kos, maar dit kan vol pootjiestrikke vir ‘n Fotoskut wees. Die probleem is dat die publiek nie opgelei is om die Nasionale Pers by ‘n begrafnis te ontvang nie. Kerkmense veral ly onder die waan dat ‘n begrafnis A) oor die oorledenes gaan en, B) daar is om die naasbestaandes te troos. Hulle het, glo dit nou maar, weinig begrip vir die allerbelang van die Nuus! en die Fotoskut se rol daarin. As Willemientjie aan kinkhoes gesterf het, of selfs in ‘n ongeluk onder haar pa se bakkiewiele, dán het die begrafnis aan die familie behoort. Maar nou dat sy in die koppie geskiet is, is die begrafnis en alles wat daarin is die nasie s’n, dit wil sê die Nuus! s’n, want die Nuus! is die nasie. Die nasie, na alles volgens Nuus!mensopvatting, is daar om die Nuus! te maak. Die Nuus! bestaan nie vir die nasie nie, die nasie bestaan vir die Nuus!. So word die Nasie die verskaffer én die verbruiker van Nuus!.

Maar hoe moet ‘n Naspersfotoskut nou sinvol sy of haar werk doen as hulle so kortaf gehiet en gebied word? Luister bietjie hierna, skaars met hulle aankoms word hulle bewegings beperk deur die onsinnigste riglyne. Hulle mag nie kameraflitse in die kerk gebruik nie en, bitterste van alles, hulle is binne die kerkgebou tot die galery beperk. Nou hoe moet uit sulke omstandighede ‘n ordentlike foto geproduseer word?!

Weet jy wat jy van bo van ‘n kerkgalery af sien? Koppe. Dis wat jy sien. Koppe van bo af. Jy kan nie eers die gesigte van die rouklaers van skuins van bo af sien nie want die galery strek net van die flanke en agterom. Neem nou ‘n veelseggende foto van ‘n agterkop van bo gesien! So, hier is nou die situasie: Die families, die hoofbedroefdes op wie se gesigte die emosie ingeëts is, daardie gevoelens wat ‘n duisend koerante vir elke hartseer plooi sou verkoop, is nou onsigbaar vir die kamera. Ja, die pa van Wilna en oupa van Willemientjie, toe hy die skyfiereeks van die gesinnetjie op die projekterdoek voor in die kerk sien, se skouers het geskud soos ‘n luikrugmotortjie oor ‘n sinkplaatpad. Hy het gehuil.

Maar hoe is jy veronderstel om dit af te neem van bo af? Die Canon is ‘n stilkamera, nie daar om ‘n video te maak nie. So, die vinnigste Fotoskuts in die Weste moet nou maar skik om die rangskikking voor die kansel af te neem, en dis wat in die dae na die begrafnis in die koerante sal verskyn. Dis ‘n tableau van die gesin se portret en blomme voor die preekstoel. Dit word gesteun deur drie, dik, wit kerse in drie lengtes. Dit kon só mooi gewerk het. Die kerse – lank vir Attie en korter vir Wilna en heel kort vir Willemientjie – is so deurdronge met betekenis en verwysings na verganklikheid, en kyk, die stugge kanselkleed in swart fluweel verklaar in goue borduurletters: God is Liefde. En dink net wat ‘n ontleder van al dié heerlike simboliek, ironie en verwysings kon maak! Dit kon só ‘n goeie foto gewees het, maar weens mense se kortsinnigheid, mense wat kleinburgerlike verdriet bó die aanspraak van Nuus! stel, kom die kiekie nie tot sy reg nie. As die fotograaf nou voor dit kon afsak en na bo toe skiet, sou daardie kerse en daardie portret so oorweldig gewees het deur die swart lap van die kanselkleed wat soos ‘n onweerswolk oor dit alles gefrons het. Maar nou moes die foto van bó af geneem word. Almal kan dit sien, en dit het alles bederf.

Niemand moet sê ‘n Naspersfotoskut werk nie vir die einde van die maand se soldy nie, en hulle moet dwarsdeur ‘n diens, waarin die predikant klem lê op die liefde van God en die hoop van die hiernamaals, sit. Toe… aksie! Gryp die Canon! Trippel die trappe af! Kom in hinderlaagposisie!

Die treurendes strompel die kerk uit. Hulle is in hulle beste, somberste aangetrek. Nie die Naspersiërs nie. Hulle is in Joegaai!busuniforms, net sodat mense moet weet hulle is hier vir Nuus! en nie om te rou nie. Los fladdertop oor skibroek, jannas, T-hemde, dié soort ding, gemaklike skoene; altyd gemaklike skoene, met plat sole om makliker mee te skarrel vir die Groot Foto.

Die begrafnisgangers pers in ‘n halfmaanerewag voor die kerk se buitedeur saam, teruggetrokke en stil in afwagting op die familie om te verskyn. Naspersiërs druk vorentoe, tussen die mense deur, dikloop-Canon teen die oog, gierig vir die regte skoot. Ag, as hulle maar net ‘n gesig met rooi hartseerkolle op die wange en vertrek deur smartplooie in die visier kan kry. Daai oë skarlaken geskroei deur die sout van die trane. Ag, fotogode, kan ons maar net ‘n bietjie glinsterende snot op ‘n bewende bolip kry! Maar… nee…

So, skarrelskarrelskarrel, Canon in die hoogvoor, na die Joegaai!bus en val in by die stoet na die begraafplaas. En hoe onsensitief, hoe onnadenkend, kan die begrafnisgangers nie wees nie! Moenie dink hulle sal eerbiedig ‘n gaping ooplaat sodat die Nuus! gedien kan word deur ‘n behoorlike graffoto nie.

Na die teraardebestelling is hulle aan boord Nuusbus 1, die Joegaai!bus, op pad terug na Nuus! Sentraal. Op die vloeikristalskermpies van hulle kameras wys hulle vir mekaar die foto’s. Die beste, stem hulle saam, was ‘n blitsskoot so tussen die saamgeperste lywe deur, net toe die laaste kis sak. Dis Willemientjie s’n en haar ouma, vertrek deur smart, hou ‘n stywe arm uit daarheen, vingerpunte op die wit hout, amper soos Michelangelo se Godsfiguur wat sy hand met die lewensvonk uithou na die ontmagte Adam, so asof Ouma deur die mag van haar ontkenning haar kleinkind sal terugroep van uit die graf uit. Dis nie ‘n volmaakte treffer nie, erken die Naspersiërs stroef, maar dit sal moet doen.

En so, liewe leser, gaan in vrede met die gedagte: Sou jy vermoor word, en jou moord is paslik anders of meer brutaal as die gewone of opspraakwekkend vir welke rede ook al, wie weet, miskien sal die Joegaai!bus op jóú begrafnis wees en word jy Nuus!…

Swiessj-DOEF! WLANK! Gha-DWAAH!

Oorspronklik gepubliseer op: Jan 13, 2011 @ 06:40

Олександр Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Jip, – goeie geldmaakgeleentheid vir sekuriteitsfirmas ook in die plaasaanvalle en misdaadland, en vir prokureers en banke wat die boedels plunder! Darem ook kans vir buurtwagte en GPF om altyd reaktief uit te draf en dit hou darem die Whats App netwerke besig. Pro-aktiewe beveiliging en hersiening van die hele GPF Sektor konsep of beter buurtwagstuktueering en opleiding … nee wat! Saamwerk oor die hele beveiligingssektor in SA – watwou? Darem ook iets vir pronkende Afrikaner-leiers met voete van klei om oor te praat, of vir Burgerregte organisasies wat skierlik hulle lyf weermagkundig ekspert kom hou om lede te werf maar steeds die dood agter te laat. Al kermende die burgers van ons vir jou Nuwe SA, prewelende en handwringend in die kerkbanke van die Hervorming.

    • Ou Transvaal

      Fyn raakgevat JC ..

  • leonlemmer

    Vandag in Die Burger se hoofartikel (en blykbaar ook in Beeld en Volksblad) word die tronkstraf verwelkom wat die twee blankes in die doodskissaak opgele is. Hulle was glo kru rassisties. Geen gewag word gemaak van die “slagoffer” se oortreding nie. Ook nie of hierdie uitspraak mense vorentoe gaan ontmoedig om misdadigers vas te vat nie. Dit is heel moontlik dat hierdie Naspers/Media24-koerante ongemaklik voel oor die mate van ondersteuning wat hulle aan gister se protesoptrede verleen het en veral oor hoe suksesvol dit mense saamgesnoer nie. Wat Naspers/Media24 wil vermy, is enige afbreuk aan hulle polities oorverligte beeld. Vandaar vandag se terugkrabbeling en goedpraat van ‘n skandalige vonnis.

    • sussie se vissie

      Boonop moedswillig(?) foutiewelik in n gevangenis opgeeindig bedoel vir hardebaard kriminele.
      Skynbaar het hul oorplasing-instruksies aangedui hul’s onderskeidelik tot 23 &27 jaar onderskeidelik gevonnis!

  • Antonie Geyser

    die oorverligte mense moet weet dat hulle ook aangeval gaan word, ook ingespit gaan word tydens n gehuilery- hulle moet weet die kleur van hul vel maak hul skuldig, dat hulle ‘tereggestel’ kan word deur barbare wat ‘freedom’ (om die land af te breek) en ‘gelykheid’ gekry het van die ‘liberals’ en andere. Die slitstuipe van die stigting, die mulders, afrisolli en andere na die doodskissage is hard en duidelik. terloops: Hoekom is daar nie opgetree teen die protesteerders buite die hof wat ‘kru rassisties’ was nie?

    • leonlemmer

      By hofsake behoort protes glad nie toegelaat te word nie. Dit intimideer die regter en kom neer op niks anders nie as pogings tot regsverydeling. Dit is vir my onbegryplik dat geen beswaar uit regsgeledere opklink nie. Waar is al die regsgeleerdes wat so graag kritiek tydens die blanke bewind gelewer het?

  • sussie se vissie

    Genoeg dat n mens se muhrmeter die hoogte in skiet.
    Heel gerieflik het die pandoer-moordenaar van Dr Werner Emslie na n plaasaanval, uit aanhouding ‘ontsnap’.