Vrede of foefie op die Koreaanse skiereiland

Deel op

Noord-Korea se versoek vir skynbare onvoorwaardelike vredesgesprekke met Suid-Korea het diplomate aan die kopkrap.

Suid-Korea en Japan het beide die versoek verwerp. Suid-Korea, by monde van sy Minister vir die Vereniging van Korea, meen dis ‘n ou foefie, en dat dringende buitelandse kapitaal- en voedeselhulp agter die aanbod skuil. Dit is ook bekend dat die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-il, se gesondheid veel te wense oorlaat.

 

Japan se regerende Demokratiese Party het onlangs sy ”sagte benadering” teenoor Noord-Korea ook verhard,juis weens kommer oor stabiliteit op die skiereiland.

Spanning tussen Noord- en Suid-Korea het die afgelope paar jaar skerp toegeneem na ‘n Suid-Koreaanse eiland in November onder die bomme gesteek en twee mariniers en twee burgerlikes dood is, agt maande na ‘n Suid-Koreaanse oorlogskip met die lewensverlies van 46 matrose gekelder is. Noord-Korea is
vir die voorval geblameer, maar ontken betrokkenheid.

Suid-Korea en Japan is nie teen vredesonderhandelinge gekant nie, maar stel voorwaardes. Een van die kernaspekte is dat Noord-Korea van sy kernbewapingsplanne moet afsien, en verder verantwoordelikheid vir die twee aanvalle moet aanvaar. Noord-Korea probeer skynbaar die druk afhaal van dié eise deur onvoorwaardelike gesprekvoering voor te stel, en juis hieroor is leiers en waarnemers ewe versigtig. So lyk Japan en Suid-Korea soos die onwillige partye.

Speel Noord-Korea net vir tyd om ‘n stabiele oorgang na nuwe leierskap te verseker, probeer dit die morele druk op Suid-Korea en Japan terugplaas deur die onvoorwaardelike aanbod te maak, wel wetende dat Suid-Korea dit nie sal aanvaar nie, en Japan beslis nie oor die kernwapen-kwessie sal kopgee nie?

Al die lande by die ses-party-onderhandelings, wat in 2008 gestaak is toe Noord-Korea geweier het om daarna terug te keer, is skepties oor Noord-Korea se motiewe. Noord-Korea het ‘n baie ou reputasie om moeilikheid te maak, baie arrogant te wees, en dan weer van vrede te praat. China het nogtans entoesiasties op die Noord-Koreaanse versoek gereageer, terwyl dieVSA skynbaar ook sal verkies dat dit voortgaan.

Terwyl selfs waarnemers van die Koreaanse situasie wonder oor wat die Noord-Koreaanse motiewe is, Suid-Korea en Japan openlik skepties is, is dit heel moontlik dat die redes binne Noord-Korea self te vinde is. Soms werk dit om die bevolking opgesweep te kry deur met ander lande kapokhaantjie te wees, wel wetend dat China sy bas sal red.

Maar China begin tekens toon dat hy nou sy stiefkind op eie bene wil laat staan. En honger mense begin ook agterkom om vir Amerika, Japan en Suid-Korea warm plek toe te stuur, maak nog nie die maag vol nie. En met al Noord-Korea se geraas en geblaas is dié voorheen industriële deel van Korea arm en verhonger, en Suid-Korea, voorheen die agrariese deel, een van die wêreld se ekonomiese wonders.

 

free 5 poundОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.