Vitrioel, die potensiële sneller

Die woord “vitriol” duik nou in berigte uit die VSA en Nederland op oor die skietery waarin verskeie mense in Arizona die lewe gelaat het, en Kongreslid, Gabrielle Giffords, kritiek gewond het.

Wat beteken vitriol? Die woordeboek gee die betekenis as dit waarmee probeer is om troepies selibaat te hou, naamlik blou vitrioel. Maar dit gee ook ander betekenisse: snydend, skerp, bitsig en venynig.

Dit is iets wat Suid-Afrikaners maar te goed ken, veral hulle wat graag op die internet boer en blogkommentare lees.

Gekoester agter skuilname deel hulle die lakens uit. Hulle is nie net venynig nie, maar omdat hul eie identiteit beskerm word, word ook lustig met die waarheid gemors.

Min onderwerpe leen hom nie tot ‘n stortvloed van vitrioel nie – godsdiens, die politiek, die wetenskap, kultuur, taalgebruik…

Onder die mees bekende, onlangse of deurlopende vitrioel wat losgelaat is, handel oor die boek oor die Trojaanse perd wat glo in die NG Kerk sou losloop, die evolusiedebat, Pienk Frikkie se Kemptonparkse kapitulasie (of verraad), die volkstaatgedagte, aardverwarming met afvalliges glo die aarde koel eintlik af, mense wat die taal nie suiwer besig nie, en vele meer.

Met vitrioel kom mense wat hulself Christene noem skerp teenoor mekaar te staan, en bespoeg mekaar met die mees onchristelike vitrioel denkbaar.

Is vitrioel gevaarlik? Klaarblyklik. ‘n Goed-aangepaste Amerikaner sal immers weet die voorstellings op haar webwerf van Sarah Palin van spesifieke opponente wat deur ‘n visier bekyk word, en die woorde daarby oor gewere wat herlaai moet word, is geen aanhitsing tot moord nie.

Maar almal is nie goed aangepas nie. Die VSA is juis bekend vir die hordes kultusse, dikwels met ‘n religieuse grondslag, wat al posgevat het. Wie sal die Moonies vergeet? Van hierdie groepe het hulle al tot sabotasie gewend, soos ‘n dorp tydens ‘n verkiesing siek te maak, daar was al skietgevegte met veiligheidsmagte, en mense het die lewe gelaat.

Ook die taalgebruik op van die radikale webwerwe is soms van so ‘n aard dat
dit as vitrioel beskou kan word.

Is vitrioel en haatspraak dieselfde? Miskien in sommige gevalle, maar as een Afrikaner ‘n ander met vitrioel bydam, kwalifiseer dit nie sonder meer as haatspraak in die klassieke sin van die woord nie. Haatspraak impliseer normaalweg dat die vitrioel teenoor iemand van ‘n ander ras, kultuur of godsdiens gemik moet wees, en dat ‘n mens polarisasie tussen groepe wat van mekaar verskil na moontlike konflikvlakke aanblaas.Op Litnet definieer ‘n korespondent met die skuilnaam “Varkspek” (wat hy regtig aan homself gegee het, haatspraak soos volg:

“In lig van die belangrikheid van spraakvryheid en dat dit nie ligtelik beperk mag word nie, is haatspraak so gedefinieer om net die ergste van die ergste uitdrukkings in te sluit – die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak. Nie alle uitdrukkings van haat val binne die definisie nie, Haatspraak is net sekere vorme van haat (ras, etnies, geslag en godsdiens) + aanhitsing tot geweld.”

Dis nie net van een kant van die politieke spektrum wat dit inspan nie. Regter, minstens, het gevoel die liedjie, “Maak dood die Boere” wat Julius Malema so graag gesing het, is haatspraak en dit verbied. Die ANC appelleer hierteen.

Die owerheid het in wese ‘n dilemma – deur die vitrioel op die internet sy vrye loop te laat loop, is dit so maklik soos van die bed afval om enige bedreiging vanuit hierdie oord te monitor, en betyds toe te slaan. Die ander kant van die munt is dat die gebruikers van die vitrioel waarskynlik nie in gedagte het dat dit iemand anders tot geweld kan inspireer, en hom in die slag laat bly nie. Sommige van die grootste opstokers sit ook knus in die buiteland, en as hul vitrioel iemand hier in die sop laat beland, is hy self buite die kruisvuur.

Meestal is die vitrioel wat op die volksgenote / geloofsgenote / rasgenote gerig word darem nie aanhitsing tot geweld nie. In beginsel staan die los- en vasheid waarmee sommige selfverklaarde Christene ander Christene en nie-Christene tot die hel veroordeel oor hulle ander Bybelse beskouings het egter nie ver daarvandaan nie.

Weens die vermeende Amerikaanse skieter se beweerde beïnvloeding vanuit die
fundamentalistiese geledere (waarmee die Tea Party-beweging geassosieer word) is daar min twyfel dat die owerhede ‘n skerp ogie op die bekende fundamentaliste hier sal werp. Waar mense oor tyd emosioneel opgesweep is, kos dit dikwels net ‘n sneller (onbedoelde woordspeling) om ‘n kettingreaksie tot gevolg te hê. Na-apers is moontlik.

интернет магазин товаров для новорожденныхФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.