Transformasie as vloekwoord

‘n Skrywer beskryf hoe hy by die venster van ‘n boonste verdieping uitkyk. Hy sien hoe die Nazi’s ‘n groep Jode, mans, vroue en kinders, in ‘n fietshokkie injaag en vasmaak. Hierna word hulle gedeeltelik ontklee, en met allerlei slaangoed bygedam.

“That is capitalism,” kom die skrywer tot sy slotsom.

Hierna noem hy nog verskeie grusame voorbeelde, en kom telkemale tot die absurde slotsom: “That is capitalism.”

Duidelik het hy ‘n kleintjie dood aan kapitalisme. Wie hy was, en wat die boek se naam was, kan ek nie onthou nie. Vir my Honneursstudies was die boek duidelik onaanwendbaar.

Hierdie voorbeeld kom vanoggend meer as dertig jaar na ek dit in Kovsies se ou biblioteek gelees het by my op, toe ek besef watter gewaarwording in my oor die woord “transformasie” posgevat het.

My oorlede pa het eenkeer gesê Marx sou oor die implementering van kommunisme in Rusland gesê het: “As dit Marxisme is, is ek geen Marxis nie.”

Marx is lank voor die Russiese revolusie oorlede, en niemand sal werklik weet of hy so sou voel nie.

In Argentinië, na aanleiding van voormalige president Peron, het verskeie Perronistiese groepe tot stand gekom. Hulle het van ver-regs tot ver-links gewissel, en mekaar selfs met wapengeweld geopponeer.

Baie is al geskryf oor hoe dit gebeur het dat afsonderlike ontwikkeling, onder die bynaam van apartheid, in die oë van die wêreld die persepsie van ‘n monster aangeneem het.;

Aanvanklik is in baie kringe beoordeel dat afsonderlike ontwikkeling ‘n liberale filosofie is. Dié persepsie het finaal die onderspit gedelf nadat die VN dit tot misdaad teen die mensdom verklaar het.

In veral my eerste jaar op Kovsies was ek verplig om te leer van die Christelike beleid van apartheid, versus die humanistiese beleid van gelykstelling. Wat die betrokke dosent betref, het die apartheidsbeleid reeds afgestap van sy aanvanklike ideaal van gelykstelling, hoewel afsonderlik.

Ons is wel meegedeel dat ons van die studiemateriaal mag verskil, maar dan moes dit behoorlik gemotiveer word. Omdat die vrae volledig deur die dosent uitgewerk is moes die antwoorde uit die kop geleer word. Studente wat iets wou motiveer het dit tot hul nadeel gedoen.

Dieselfde universiteit het nou God uit sy leuse verwyder, en dit onder meer aan die transformasieproses toegeskryf. En ek kry die gewaarwording: As die woord “apartheid” dieselfde tipe negatiewe persepsies by mense wakkergemaak het as wat die woord “transformasie” by my wek, dan moes hulle apartheid regtig baie negatief ervaar het. Dat die woord transformasie ingespan word om die wegdoen van God uit die leuse te regverdig, help nie om die negatiewe emosie te temper nie.

Dit is ‘n ou, bekende verskynsel om strooipoppe op te stel van dit wat ‘n mens eintlik wil afskiet, en dan met mening op die strooipoppe los te brand.

Dié gewaarwording kry ek verlede jaar in die aanloop tot die NH Kerk se Algemene Kerkvergadering (sinode) waar besin moes word oor die Wêreldgemeenskap van Reformatoriese Kerke (WGRK) se eis dat die NH Kerk apartheid as sonde moet veroordeel alvorens lidmaatskap herstel kan word.

Die eise, op skrif, het in werklikheid verklap dat die WGRK nie ‘n benul het van die inhoudelike van apartheid nie. Dit was duidelik daaruit dat drie aspekte gestel is wat as sonde verklaar moes word. Die eerste twee het die diskriminerende aspekte saamgevat wat as die sg klein apartheid op die wetboek beland het, en lank voor 1994 reeds uit die wetboek verwyder is. Die derde was om apartheid self te veroordeel.

Die tegniese probleem is dat as die eerste twee elemente uit die volledige apatheidsmodel onttrek is, bly net ‘n baie mooi opsomming van die hedendaagse internasionale reg oor. Die NH Kerk het voor die AKV reeds daarop gewys dat dit lank reeds aan die eerste twee vereistes voldoen het.

Sonder om te probeer te kenne gee dat dit deel van die oorwegings was, beteken dit dat die NH Kerk eintlik die internasionale reg moes veroordeel.

Wanneer die strooipoppe onder skoot kom, is dit baie selde so dat die skieters nog enige benul het van wat dit wat hulle so blaker, werklik beteken, of eens beteken het. Soms het die strooipop-persepsie net sterker as die werklike geraak, soms het die oorspronklike self ontspoor tot iets wat dit nie aanvanklik bedoel was om te wees nie.

Sou Stalin se diktatuur en massamoorde byvoorbeeld enigsins Marx se instemming weggedra het, sou hy nog geleef het?

Beteken transformasie nog wat dit bedoel was?

Verskeie kenners het al daarop gewys dat sake wat wel in die grondwet staan, soos die erkenning en uitbouing van elf amptelike tale, erg afgeskeep word, maar dat transformasie, wat nie in die grondwet staan nie, gedryf word asof dit die kern van die grondwet uitmaak.

Selfs regstellende aksie, waaruit transformasie skynbaar afgelei word, is nie pertinent in die grondwet opgeneem nie. Veral in die oorgangsgrondwet is dit betreklik netjies uitgespel: Die basiese beginsel is gelykheid en ‘n verbod op diskriminasie, onder meer op grond van ras. ‘n Beperkende maatreël is wel ingevoeg om die posisie van mense teen wie in die verlede onbillik gediskrimineer is, se posisie te herstel.

‘n Goue, universele beginsel van beperkende maatreëls op grondwetlike regte is dat daardie beperking nooit so uitgelê mag word dat dit die oorspronklike reg aantas of vernietig nie. Nie regstellende aksie of transformasie kan dus uitgelê word as sou dit die beginsels van ‘n verbod op rassediskriminasie en ongelykheid tot niet maak nie.

Selfs die skrywers van “Fundamental Rights in the New Constituition, waaronder Davis, Cachalia en Maduna, is teen die agtergrond van wat die grondwet voorskryf, traag om die woord “affirmative action” te gebruik, en verkies “corrective action” en is duidelik daaroor dat daar ‘n sonsondergangklousule moet wees.

Waar pas “transformasie” werklik in die grondwet in?

Dat alles wat ‘n wit herkoms het, ‘n swart (Afican) karakter moet kry? Sommer in die aanhef van die grondwet word diegene geëer wat daarvan werk gemaak het om die land te bou en te ontwikkel, dat die land aan almal wat daarin woon behoort en in hul verskeidenheid verenig is.

Met juridiese akrobasie kan natuurlik enigiets uit die grondwet “bewys” word. Artikel 31 erken byvoorbeeld gemeenskappe se reg tot die beoefening van hul kulturele, religieuse en taalgemeenskappe. Dieselfde artikel bepaal dat dié regte nie in stryd met die handves van menseregte uitgeoefen mag word nie. Maar as daardie gemeenskappe dan onder die dekmantel van transformasie allerlei diskriminerende en ontnemende praktyke ervaar? Is dit dan nie veronderstel om ongrondwetlik te wees nie?

Het die woord “transformasie” nie ‘n te gemaklike en gerieflike begrip geword om die grondwet ongestraf mee te verkrag nie? Gebruik bloot die woord “transformasie” en daar word blindelings van owerheidsweë aanvaar dat ‘n mens die regte ding doen?

In die proses word dit ‘n vae begrip, iets wat daarop neerkom om alle spore van die verlede te verwyder, met vaag omlynde grense. Dat van hierdie grense loshande anderkant die grondwet self lê, is irrelevant tot iemand dit durf waag om sy rug styf te maak. Hy moet dan sy lyf vet smeer vir byvoeglike naamwoorde om hom mee te beskryf: onder andere rassis, neo-konserwatief, en helaas, gekant teen transformasie.

Word die implikasies altyd werklik deurdink? Het Kovsies se afdeling Strategiese Kommunikasie werklik deurdink wat die implikasies daarvan is om die weglating van God uit die universiteit se log aan transformasie te koppel? Dat (moedswillig) afgelei sal word dat swart studente en dosente gekant is teen die behoud van God in die logo?

Het dit nie tyd geword dat die woord “transformasie” omsigtiger gebruik moet word nie? Emosies is rou na die ABSA-debakel. Dit het aansienlik tot polarisering bygedra. Standpunte hieroor is, soos met oorlede apartheid, hoofsaaklik weerskante die rassegrense ingeneem.

Dit is vanjaar presies twintig jaar sedert die wet op rasseklasifikasie geskrap is. Dat ‘n nuwe rassedebat aan die einde van verlede jaar losgebars het, kan kwalik nog aan apartheid toegeskryf word. Veral uit die bruin gemeenskap kom nou versigtige treetjies om te vra of die onlekkerte in die rassekwesie nie dalk minstens ten dele gevind moet word in die tallose rasgebaseerde wette en maatreëls wat nou op die wetboek is nie.

Dit herinner aan die kroegpapegaai wat ‘n ruk in die kerk geplaas is om te kyk of hy nie van sy ongewenste woordeskat kon afleer nie. Die papegaai bekyk die predikant en laat waai met: “O, ‘n nuwe kroegman!”

Met die instap van die kerkraad laat waai hy egter: “Maar steeds dieselfde customers.”

Hard en duidelik moet nou besin word of die woord “transformasie” nie presies dieselfde betekenis as “klein apartheid” het nie. Dis net ‘n ander kroegman.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.