Regeer tot ….

Pres. Jacob Zuma is voorheen die leviete voorgelees oor hy gesê het die ANC gaan regeer tot die Wederkoms.

Sedertdien het onvanpaste stellings met ‘n godsdienstige implikasie waarskynlik minder geword. Hy het wel by geleentheid kiesers wat weg van die ANC stem met voorvadergeeste gedreig, maar skynbaar sy loskop-sêgoed wat die Christelike godsdiens raak bietjie versigtiger gekies.

Wat egter hinderlik dieselfde bly, is die onvermoë om ‘n onderskeid te tref tussen die ANC en regering. Boonop, aldus die Vryheidsfront Plus, het die SABC dieselfde moeilikheid, met radioprogramme wat oor die naweek op talle radiostasies en die TV ontwrig is om pres. Zuma se toespraak by die party se 99ste verjaardagvieringe regstreeks uit te saai – wat nog meer chaos tot gevolg gehad het omdat die toespraak sowat twee ure laat begin het.

Daar kan nog geargumenteer word dat dit werklik ‘n groot geleentheid was, en dat die toespraak vir die hele land belangrik is. Die interessante gaan egter wees om te sien hoe die SABC as beginselsaak op opposisiepartye se aanspraak op ten minste ‘n regverdige porsie van hierdie soort blootstelling.

Wat egter nie verskoonbaar is nie, is die president se versekering dat die ANC met sy kader-ontplooiingsbeleid sal voortgaan.

Dit is nie heeltemal nuut nie. Die ANC het hom ook by die beleidskongres vroeër vanjaar daartoe verbind, maar die klem is daarop geplaas dat die mense wat so ontplooi word, geskik vir die poste moet wees. Sedertdien het dit egter geblyk dat toepaslike kwalifikasies nie baie swaar weeg om geskiktheid te bepaal nie.

Om in ‘n verkiesingsjaar poste op hierdie wyse aan kaders te beloof, getuig van ‘n algehele onbegrip van die skeiding tussen politieke party en regering. In ‘n land waar werkloosheid hoogty vier is die belofte van poste ‘n belangrike dryfveer, en kan die party wat in die eerste plek vir die werkloosheidskoers verantwoordelik is, daardeur stemme trek.

So word die belangrike rol van opposisiepolitiek ondermyn.

Oor die jare het daar ‘n praktyk ontstaan, veral in die VSA, dat senior amptenare wel die politieke ampsbekleërs se keuses is, wat soms groot skade aangerig het omdat van hierdie mense min anders as lakeie was, en bekwaamheid ‘n relatiewe onbelangrike oorweging was. In sommige kringe word selfs beweer die aanvalle op die Twin Towers sou voorkom gewees het as die intelligensiewese volledig in die hande van gemotiveerde, kundige tegnokrate was.

In Suid-Afrika het verskeie DG’s se koppe ook al gerol omdat die verhouding tussen hulle en die betrokke minister onherstelbaar verbrokkel het.  ‘n Vroeë, skandalige voorbeeld was toe die DG vir Gesondheid. Olive Shishana, die trekpas gekry het sodat Manto Tshabala Msimang ongesteurd as minister kon aanbly en met knoffelsake besig hou, en die land se beeld reuse skade kon bly berokken.

Die ANC het egter die beleid van kaderontplooiing veel verder as die departementshoof-konvensie gevoer. ‘n Aantal jare gelede het die ganse personeelkorps, meestal wit, van ‘n privaat skool in die Vrystaat by die ANC gaan aansluit ter wille van die staatsubsidie.

Op hierdie manier sal enige party homself baie lank aan bewind kan hou.

Maar so ‘n party regeer dan nie volgens die demokratiese beginsel van algemene belang nie. En dan is dit nie meer demokrasie nie, maar nepokrasie.

туника для девочки своими рукамиФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.