Waarom nie ook Soedan se volkstate veroordeel nie?

Deel op

Dit is deesdae amper ‘n refleks-reaksie onder die klein en krimpende poeletjie meepraters om die horries te wil kry by die blote aanhoor van die woord volkstaat. Neem dr Leopoldt Scholtz se onlangs rubriek in Die Burger as voorbeeld, waarin hy opnuut probeer voorgee dat ‘n Afrikaner-volkstaat nie haalbaar is nie en vergeefs poog om die gedagte aan ‘n volkstaat, wat hom en die Broeders van Naspers tog so irriteer, as doodgebore af te maak. Die feit dat selfs hy in dieselfde rubriek moes toegee dat die NSA vinnig besig is om te ontaard in ‘n falende staat, spreek terloops egter boekdele.

NUUT!

Met ryke ironie, gegewe die tydvak waarin dr Scholtz se rubriek geskryf is, is Soedan egter besig om hom voor te berei vir die splitsing van Afrika se grootste land in twee volkstate: Een vir die noordelike, Arabies-gesinde Moslems, en ‘n suidelike, swart, Christelik-animistiese volkstaat.

 

Die gewone politiek-korrekte verdagtes, wat dr Scholtz, Mad Max en die miniskule groepie soortgelyke blanke randeiers insluit, se stilte oor die te-stigte Soedanese volkstate is egter dawerend. Kom, dr Scholtz en Mad Max, wees nou konsekwent hier. Spring ook op julle perdjies en veroordeel Soedan se verdeling in twee state, of verduidelik vir ons waarom suidelike Soedan, wie se bruto geografiese produk verdwerg word deur die Weskaap of selfs die voormalig-blanke gebiede van Pretoria s’n, wel ‘n volkstaat vir hulle wat die Bybel Nubiërs genoem het, mag word, maar Afrikaners nie ook ‘n volkstaat mag verkry nie? Sou julle nie so maak nie, sal ons die gevolgtrekking moet maak dat julle bevooroordeeld teenoor Afrikaners is; dat daar een stel reëls vir ander Afrika-bewoners is, maar ‘n ander stel vir Afrikaners.

 

Vir die rekord: Ek dink steeds selfbeskikking soortgelyk aan die Baske of Katalane in Spanje, in teenstelling met ‘n geografiese volkstaat, is op die korttermyn meer haalbaar vir Afrikaner, maar ek kan hoegenaamd geen rede bedink waarom die mense van Soedan geregtig sou wees om oor hulself te beskik, maar Afrikaners nie. Of wil diegene wat elke keer die politiek-korrekte horries kry by die aanhoor van die woord volkstaat, wag totdat Suid-Afrika se huidige laegraadse burgeroorlog omsit in ‘n volskaalse een soos wat hom in Darfoer afgespeel het? Of is dit juis dat diegene wat hoogheilig uit Europa vir ons probeer preek, nie ‘n flenter omgee al sou Suid-Afrika wel in Darfoer nommer twee verander nie?

kompressormash.comФильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.