As die pap eers laat val is

Deel op

Baie mense ken die gevoel om op voorskrifmedikasie te wees, en net voor ‘n pil in die mond kom, te voel hoe dit uit die vingers glip en op die grond beland. En dan is dit weg. Dit het onder die yskas ingerol, of in die hond se waterbak beland…maar vir verdere gebruik is dit verlore.

So kan die verkiesing in die Ivoorkus beskou word.

Soos die meeste kuslande in Wes-Afrika, het die Ivoorkus ook ‘n groot Moslembevolking wat hoofsaaklik in die Noorde woon, en ‘n Christen-animistiese bevolking wat hoofsaaklik aan die kus woon. Dikwels is die kusbevolking meer deur die eertydse koloniale mag kultureel aangeraak as die binneland.

Op die gevaar af om te vereenvoudig, geld dit in breë trekke ook vir die Ivoorkus. Trouens, die Franse koloniale heersers het maar betreklik kort voor die land onafhanklik geword het, werklik doeltreffend tot die binneland deurgedring.

Die grootste moondheid in die gebied, Nigerië, het hierdie werklikheid staatkundig ondervang. In dié land moet Moslem en Christenpresidente mekaar aflos, natuurlik so lank die demokrasie hou wat tot dusver te gereeld in die slag gebly het.

Die Ivoorkus se posisie is afgesien van die ooreenkomste met Nigerië ook baie uniek. Die bevolking praat sowat 70 Afrikatale, die voorouers van die huidige inwoners het betreklik onlangs eers in die land gevestig, en die grootskaalse volksverhuisings het weens streekkonflikte ook nog nie mooi gestabiliseer nie. Tussen die Moslem-noorde en Moslem-buurlande is die staatkundige grens min of meer irrelevant.

Die land se opgetekende geskiedenis dui ook nie op ’n groot godsdienstige onverdraagsaamheid nie. Die jarelange Christen-president Felix Houphouët-Boigny het in 1990 die huidige verkiesingswenner, die Moslem Alassane Ouattara as premier aangestel, ‘n pos wat hy tot 1993 met die president se afsterwe beklee het. Ouattara is ‘n internasionaal hoogaangeskrewe ekonoom, en sy internasionale loopbaan, onder meer as jeugdige adjunk-direkteur van die IMF het eers politieke aspirasie gekry toe Houphouët-Boigny hom nader getrek het. Na 1993 het die politieke situasie in die Ivoorkus baie vloeibaar geword, en Ouatarra het meestal sy internasionale loopbaan as ekonoom voortgesit.

Maar hy het ook die leier van ‘n Moslemparty geword. Sy kandidatuur vir die presidentskap is egter telkemale in die wiele gery, en hy is onder meer gediskwalifiseer oor hy ‘n deel van sy jeug in Burkina Faso deurgebring het, en ook in ‘n stadium ‘n paspoort van daardie land gedra het. In die Ivoorkus is hy die sondebkok gemaak vir ongeveer alles wat verkeerd gegaan het, soos mislukte staatsgrepe.

Toe hy uiteindelik wel kon deelneem, was sy oorwinning vir niemand, behalwe oud-president Laurent Gbabgbo ‘n verrassing nie. Hoewel syfers baie verskil, is die algemene opvatting dat die Ivoorkus beduidend meer Moslems as Christene het. Gbagbo skop vas, en dis heel moontlik dat hy werklik glo dat baie van die Moslem-kiesers wat sy ondersteuners na die verkiesing gediskwalifiseer het, se burgerskap weens die vloeibare grense onder verdenking is.

Die Ivoorkus se dilemma toon hoe belangrik dit is dat wanneer ‘n grondwet onderhandel en opgestel word, die betrokke land se werklikheid in ag geneem word. In die Soedan het soortgelyke faktore tot ‘n dekadeslange burgeroorlog gelei, en miljoene mense het die lewe gelaat. Selfs tussen die Arabiese Moslems, en die nie-Arabiese Moslems van Darfoer, was konflik en ‘n gevolglike volksmoord.

In Suid-Afrika gaan gereeld stemme op dat Kemptonpark her-onderhandel moet word, ‘n duidelike aanduiding dat sekere Suid-Afrikaanse realiteite nie behoorlik verreken en ondervang is nie. In die Ivoorkus neem die ongevalle toe, en is klaarblyklik nog nie ‘n aks met onderhandelinge en selfs dreigemente gevorder nie. As die pilletjie eers geval het …

печи дровяные дляЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.