Ivoorkus: Diversiteit en konflik

Die Ivoorkus, Côte d’Ivoire,  is op die oomblik in die nuus weens die afloop van ‘n verkiesing.

Maar is dit ‘n gewone geval van ‘n Afrika-despoot wat nie van die mag wil afstand doen nie, ná hy in ‘n demokratiese verkiesing met die kous oor die kop huis toe gestuur is?

Om die kompleksiteit te verstaan, moet ‘n paar realiteite in ag geneem word.

Volgens sommige bronne is sowat 60% van die byna 20 miljoen inwoners (wat ‘n paar miljoen immigrante en vlugtelinge insluit) Moslem, en veral in die Noorde woonagtig.

Dié feit is dalk vir baie mense ‘n verrassing, in die lig van die Basilika wat oud-pres. Felix Houphouët-Boigny in Yamoussoukro opgerig het. Dit is die derde grootste (sommige bronne sê die grootste) Christelike kerk ter wêreld, en staan in ‘n land waar maar sowat 12 % van die inwoners Christene is.

Ander bronne dui egter daarop dat sowat 40 persent van die bevolking Moslem is, en sowat 34% Christene, met die ander animisties of ongelowig.

Soos in baie ander Wes-Afrikaanse state is die Moslem-noorde vroeg vanuit die Sahara en deur die Islam beïnvloed, terwyl die kusgemeenskappe weer deur Europeërs en die Christendom beïnvloed is. Hoewel beduidende Moslemryke, soos die Kong-ryk bestaan het, was dit baie heterogeen en het nie lank bestaan nie. Trouens, baie van die huidige inwoners van die Ivoorkus se voorouers het betreklik onlangs eers binne die grense gevestig. Hierdie volksverhuisings het weens verskeie faktore, soos onderlinge konflikte, plaasgevind.

Hoewel die amptelike taal Frans is, word 76 Afrikatale ook gepraat.

Die elite is sterk Frans georiënteer en Abidjan aan die kus het ‘n sterk Franse karakter. Tradisioneel behou Moslemgemeenskappe egter meer tradisionele elemente,en ironies, soms ook Wes-Afrikaanse Afrika-elemente.

Tot 1990 was die Ivoorkus ‘n de facto eenpartystaat.

Alassane Ouattara, ‘n Moslem, het in 1990 op die politieke toneel  verskyn toe die afgeleefde “pappa” Houphouët-Boigny hom die eerste minister gemaak het, hoofsaaklik om die ekonomie reg te ruk. Outtara is ‘n hoogaangeskrewe ekonoom wat reeds voor hy 40 jaar oud was, ‘n adjunk-direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds geword het. Hy het tot 1993, met Houphouët-Boigny se dood, die premier gebly. Sy politieke loopbaan is hierna deur die afgestorwe president se opvolgers gedwarsboom, waarop hy weer na die buiteland teruggekeer het.

Ouattara se kandidatuur sou telkemale gekeer word. Die tegniek wat sy teenstanders gebruik het was om sy burgerskap te bevraagteken, of aan te voer dat hy nie lank genoeg in die land woonagtig was nie. Ouattara het wel lang tye in Bo-Volta (Burkina Faso) gewoon, ‘n land wat by tye deel van die Ivoorkus was, en wie se Moslembevolking ten nouste aansluit by dié van die noordelike Moslembevolking van die Ivoorkus. Ouattara is egter in die Ivoorkus gebore, en het ook lank reeds seker gemaak dat sy burgerskap verseël was, ná hy ‘n tyd lank wel as burger van Bo-Volta beskou is.

Hoewel Ouattara ná sy politieke isolasie weer ‘n ruk by die IMF gewerk het, het sy teenstanders hom gereeld op die mees belaglike manier die sondebok gemaak vir omtrent alles wat in die Ivoorkus verkeerd geloop het, veral mislukte staatsgrepe.

Die linksgesinde Laurent Gbagbo (‘n Rooms-Katoliek) het in 2000 aan bewind gekom ironies ná sy voorganger, generaal Robert Guëi, na afloop van ‘n algemene verkiesing verseg het om soos beloof die presidentskap te ontruim. Guëi het self deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom. Gbagbo se bewind is egter vanuit die staanspoor deur onluste geteister. Die hoofrede was dat sy vernaamste teenstander Ouattara, leier van die Moslemse Kongres van Republikeine, op omstrede wyse belet was om aan die verkiesing deel te neem. Die ou storie: Sy verbintenis tot die Ivoorkus is bevraagteken.

Juis omdat die Ivoorkus ‘n geskiedenis – ook tot die huidige – het van groot bevolkingsgetalle wat oor grense heen migreer of vlug, is dit nie altyd so maklik om ‘n streep te trek oor wie werklik Ivoorkusburgers is of behoort te wees nie, en so stemreg behoort te hê nie. Ná Gbagbo die onderspit gedelf het, het sy bondgenote ook talle van die kiesers wat vir Ouatarra gestem het, gediskwalifiseer.

Indien die Ivoorkus se politieke geskiedenis tot dusver slegs op beperkte skaal deur Moslem-Christen-polarisasie gekenmerk is, is dit duidelik dat Gbagbo se koppigheid dit nou ‘n meer pertinente faktor gaan maak.

Wanneer so ‘n polarisasie eers plaasgevind het, raak dit moeiliker om te ontlont. Of Kenneth Meshoe, ACDP-leier, se vredesending op versoek van kerkleiers in die Ivoorkus tot vrede kan bydra of selfs wys was, sal op die duur gesien moet word. Neem hy, soos vroeë aanduidings uit koerantberigte lui, ‘n pro-Gbagbo-standpunt in op grond van “ander perspektiewe” sal dit minstens hoogs gevaarlik wees. Die situasie en die realiteit is gans te kompleks om aan die hand van een stel “ander perspektiewe” ‘n standpunt teen die streeks- en wêreldmening in, in te neem.

Analiste was gou om ‘n soort Kenia / Zimbabwe-opsie, waar die verslane leier vasklou en die wenner dan as kompromis eerste minister word, af te skiet. Tog, sou dit blyk dat daar ‘n beduidende Christen–Moslem-polarisasie plaasvind, sal ‘n staatkundige model wat dit ondervang waarskynlik aangewese wees. In die Soedan gaan dié polarisasie waarskynlik tot ‘n verdeling van die land lei. In Libanon word die presidentskap en eersteministerskap deur ‘n Christen en ‘n Moslem as reëling gehou. In Nigerië roteer die presidentskap (wanneer die demokrasie lank genoeg hou om dit moontlik te maak) afwisselend tussen Christen- en Moslempresidente.

Dalk is daar in die Ivoorkus nou ‘n bietjie meer op die spel as ‘n regeringshoof wat by die stembus verslaan is, en nie wil kopgee nie. Dit mag wel die uitsluitlike motief van Gbagbo wees, maar is dit hoe die land se Christen- en Moslembevolkings dit ervaar?

Is ‘n moontlike hervatting van die burgeroorlog ‘n meer aanvaarbare opsie as om ‘n blywende staatkundige reëling te tref waar Christene en Moslems hulself staatkundig optimaal kan uitleef?

Voorsorg (ook staatkundig) bly beter as nasorg.

Maar hier was skynbaar nie voldoende staatkundig voorsorg getref nie.

casino games

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.