Een plus een is gelyk aan een – in ‘n verkiesing

Gereeld gaan daar stemme op vir groter opposisiekonsolidasie om die ANC so doeltreffend as moontlik in verkiesings aan te durf. Die ID is pas deur die DA “ingesluk” en baie kommentators sien met afwagting uit na hoe dit in die praktyk gaan neerslag vind. Slim koalisievormings in die verlede het immers die DP van ‘n bykans onbenullige partytjie tot amptelike opposisie laat groei, en in die Wes-Kaap aan bewind gestel.

Maar maak 1 + 1 = 2? Veral in die politiek?

Nie noodwendig nie, as ‘n mens na die geskiedenis gaan kyk. By dieselfde geleentheid as wat die Demokratiese Alliansie op die voorgrond gebars het, het verskeie ander alliansies soos Alliansie 2000 + in die stof gebyt.

Dit is nie net ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel dat ‘n politieke 1 + 1 nie noodwendig twee lewer nie. Pas het die Nederlandse koerant, Trouw, ‘n berig geplaas oor ‘n opname deur Maurice de Hond, wat soortgelyke bevindings veral ten opsigte van linkse samewerking in Nederland opgelewer het. (Berig hieronder).

‘n Mens moet dadelik byvoeg dat Nederlandse joernaliste openlik daarop wys dat die Nederlandse politiek te skisofrenies is vir buitestanders om te verstaan.

Hoeveel mense, Nederlanders inkluis, het werklik verwag dat die ChristenUnie met verlede jaar se verkiesing sou krimp? Dié party het die reputasie vir knapheid, eerlikheid, hardwerkendheid en politici met groot aansien gehad. Toe kry dit die geleentheid om saam met die groter CDA en PvdA ‘n koalisieregering te word. Die baie populêre leier, André Rouvoet, word adjunk-premier en minister. Toe die Pvd A uit die koalisie onttrek, word die belading op die CU groter om saam met die CDA die regering tot ‘n vervroegde verkiesing te lei. Die CU het aan die verwagtinge voldoen wat daaraan gestel is.

En toe verdwyn die CU amper as politieke faktor.

Met agterna-slimmighede kan verskeie faktore gevind word. Die CU het die ou probleem dat dit min mense se eerste keuse, en baie mense se tweede keuse is. Raak die groter CDA in die knyp, soos nou met die opkoms van Geert Wilders se party, gaan stem baie CU-ondersteuners vir die CDA as ‘n soort pragmatiese uitvlug.

Nog ‘n faktor is dat ‘n party in ‘n koalisie ‘n deel van sy oemf inboet. Veral as dit ‘n party met sterk beginsels en ideologie is. ‘n Deel van die ideologiese kern raak vervreem.

Met die slae wat Alliansie 2000 + (wat onder meer die VF en burgerlike instansies verteenwoordig het) en die opkoms van die DA moet die vraag gevra word: Wat het die een bevoordeel en die ander benadeel?

Die media het uiteraard ‘n groot rol gespeel. Toe die NP voor die verkiesing uit Alliansie 2000+ onttrek en by die DA aansluit, het baie van die opposisiemedia volledig hul steun by die DA ingewerp, en Alliansie 2000 + is “behandel” soos die VF tevore behandel is. Maar dit verklaar nie die volledige prentjie nie. Alliansie 2000+ het naamlik swakker gevaar as die VF op sy eie.

“Ons was naïef” het die Vrystaatse leier van die VF destyds verklaar en hy is reg bewys toe die VF+ hierna op sy eie aan die daaropvolgende munisipale verkiesing deelgeneem, en in Bloemfontein (Mangaung) meer as een setel )soos Alliansie 2000 +) verower het. Boonop was die Alliansie 2000 + se lid in die raad ‘n verteenwoordiger van die destydse Belastingbetalersvereniging, en met die volgende verkiesing was hy ‘n DA-kandidaat en is nou ‘n DA-raadslid.

Behalwe die media-impak, is daar ander faktore wat sommige alliansies na verwagting sal laat krimp, en ander sal laat groei?

‘n Deel van die verskynsel kan daarin verklaar word dat veral die kleiner opposisiepartye gewoonlik hul verteenwoordiging uit die proporsionele setels (provinsiaal, nasionaal en munisipaal) verkry. Die stelsel maak voorsiening dat partye wat net een vol kwota kry, of selfs geen vol kwota nie, nog op die grootste breuk van die res ook setels kan kry. Twee of meer partye sonder ‘n vol kwota kan verteenwoordiging verwerf. Is hul stemme egter saamgetel omdat hulle as eenheid deelneem, is dit moontlik dat die totaal steeds minder as ‘n vol kwota is, en saam steeds net een setel verwerf. Dus gewoon ‘n numeriese berekingsrealiteit.

Dit lyk ook of partye met ‘n besondere ideologie, ‘n bepaalde nismark het. Word hierdie ideologiese grondslag verwater of minder geaksentueer in ‘n samewerkingsmodel, verloor die nismark sy verbintenis, en kan kiesers net sowel vir ander partye stem waar hulle meen hul stemme groter impak sal hê.

Partye se individuele verkiesingsratte is gewoonlik ook goed geolie, en loop met ‘n bepaalde impak. Is daar samewerking, is die aanslag dikwels gefragmenteerd en minder entoesiasties.

Uiteindelik speel selfbelang ‘n rol.’n Kandidaat se deelname kos hom baie geld, geld wat hy hoop om deur verkiesing nie net terug te kry nie, maar om mildelik op sy “belegging” te kan oes. Nominasiestryde is om hierdie rede fel, omdat selfs die grootste optimis in ‘n klein party weet sy kanse om verkies te word, word drasties verminder as hy nie nommer een op die lys is nie. Hoe laer op die lys, hoe geringer word sy kanse, hoe meer is hy bewus daarvan dat hy moeite en geld in die water smyt. Sy ondersteuners wet dit ook.

Partyleiers is gewoonlik meesters om mense op te sweep, en veral kandidate wil graag glo dat hul party goed genoeg gaan doen om hulle verkies te kry. ‘n Deel begin in die onmoontlike glo. Dit het veral momentum gehad in die eerste aantal verkiesings na 1994, toe dit nog minder duidelik was hoeveel steun watter party sou kry.

Die manipulering van kandidatelyste om “sterker” kandidate hoër op lyste te kry, het dikwels tot groot bitterheid gelei sodat sommige kandidate in effek weinig meer gedoen het as om hul eie party te rysmier.

Hoe meer 1994 in die verskiet geraak het, hoe meer het die realiteit by baie kandidate begin posvat dat hul deelname eintlik weinig meer doel dien as om hul kandidatefooie in die hande te kry om verkiesingsveldtogte vir die kandidate bo-aan die lys te finansier. Dit het al moeiliker begin word om kandidate se kandidatefooie voor die verkiesing ingevorder te kry, en na verkiesings het sulke kandidate met hul uitstaande fooie en al dikwels verdwyn.

Daar was vroeg-vroeg ook reeds tekens dat die DA – ID-samesmelting ook nie oral 1 + 1 = 2 oplewer nie. In beginsel sou ‘n mens graag wou aanvoer dat die saak ideologiese gronde het. Die DA is immers ‘n liberale demokratiese party (lid van Liberaal Internasionaal) terwyl die ID homself na ‘n lang tyd sonder verklaarde ideologie tot sosiaal-demokratiese party verklaar het. In Suid-Afrika speel ideologie egter nog nie die rol wat dit veronderstel is om te speel nie. Ou DA – ID-botsings veral in landelike munisipale verkiesings het waarskynlik ‘n groter rol gespeel dat daar ‘n uitvloei na die ANC eerder as die DA was.

Selfs met die vorming van die DA uit die DP en NP het die media gewys daarop dat die twee partye ideologies eintlik identies is, en dat dit kunsmatig is om twee partye te hê. Toe die huwelik versuur en Marthinus van Schalkwyk die NNP uit die DA uitgelei het (eintlik net ‘n fraksie) het hy dit gemotiveer aan die hand van onversoenbare ideologie. Die DP, het hy verduidelik, is liberaal-demokraties, en die NNP ideologies Christelik Nasionaal. Met die NNP se opname in die ANC was dié onderskeid weer uit die oog.

Samewerking en samesmelting is nie noodwendig gedoem tot mislukking nie. Daar bestaan talle aantreklike faktore, soos die poel en beter benutting van hulpbronne. ‘n Belangrike faktor is ook dat kiesers, uitgesonderd die partye se kernsteun, neig om partye se taai-in-die-bekheid vir samewerking as dwarstrekkerig, en nie in die beste belang van die kiesers nie, te ervaar.

Trouens, daar is gereeld oproepe dat Suid-Afrika in effek ‘n tweepartystaat “soos die VSA” moet word, sodat die ANC optimaal beveg kan word. Die dikwels onuitgesproke gedagte is dat SA weer die luukse van ‘n gewone veelpartydemokrasie kan bekostig as die ANC se mag eers gebreek is. Die gedagte word ook dikwels kwalik verbloem deur die media gedryf.

Daar is verskeie redes hoekom sake egter nie so eenvoudig is nie. Ten eerste is die VSA nie ‘n tweepartystaat nie, hoewel dit in die praktyk so uitgekristalliseer het. ‘n Belangrike verskil met byvoorbeeld Suid-Afrika is dat verteenwoordigers veel minder aan partykoukusse gebonde is, en ‘n veel wyer ideologiese spektrum verteenwoordig word as wat twee hoofstroompartye sou impliseer.

Baie lobbies en belangegroepe werk dus as de facto partye om hul beleid ten beste neerslag te laat vind. Die beleid van die Christian Coalition of America met sy vier miljoen ingeskrewe lede verskil niks van die beleid van die Kanadese Christian Heritage Party en die meeste CDP’s wêreldwyd nie.

Na 1994 het ‘n politieke werklikheid weens verskeie faktore ontstaan: die Suid-Afrikaanse politieke toneel word oorheers deur partye wie se eendjies almal in die een hoek van die dam, die sekulêre, swem. Die deel van die dam waar die Christen-demokrasie, die Christen-Volkseie, die Groenes en ander moet swem, is bykans onbevolk.

Sou ‘n de facto tweepartybedeling nou ingevoer word sodat die ANC ten alle koste verslaan kan word, word baie kiesers ten opsigte van dit wat hulle self glo, effektief ontkieser. Want, so het die geskiedenis geleer, in die politiek kan 1 + 1 net ‘n halwe totaal oplewer.

Samenwerking tussen linkse partijen zorgt er niet automatisch voor dat zij groter worden dan wanneer deze partijen apart blijven opereren. Dat blijkt zondag uit een peiling van Maurice de Hond onder vierduizend mensen.

Het onderzoek gaat in op recente geluiden van onder meer GroenLinks om meer te gaan samenwerken met andere linkse partijen zoals de PvdA.

Van de ondervraagden geeft twee derde (67 procent) aan ooit wel eens gestemd te hebben op de PvdA, SP, GroenLinks of D66. Dat geldt ook voor ruim een derde van de mensen die in 2010 op de PVV of de VVD stemden. Van de ondervraagden geeft een kleine meerderheid van 54 procent aan dat zij nog wel eens zullen gaan stemmen op de vier genoemde partijen.

Kiezers van VVD en CDA geven aan dat zij denken nog wel eens op D66 te gaan stemmen. Die kans wordt volgens De Hond weer kleiner als D66 meer met de linkse partijen gaat samenwerken. Overigens wordt een vorm van samenwerking tussen D66 en GroenLinks nog het meest positief beoordeeld, maar zou volgens de opiniepeiler niet per se leiden tot betere verkiezingsresultaten.

Omdat er geen verschuivingen zijn in politieke keuzes in vergelijking met de vorige keer, leverde De Hond dit keer geen zetelverdeling aan. Zijn peiling een week voor de kerst gaf aan dat de VVD de grootste was met 34 zetels, gevolgd door de PVV met 27. Daarna kwamen de PvdA (19), SP en CDA (beiden 18).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.