Herrie se kerrie: Nuwejaarsmoles

As onse mense gedink het onse mense hou soms rowwe nuwejaarspartytjies, dan is hulle reg. Maar elders gaan dit nie altyd veel stemmiger nie.

In Duitsland het ouers gaan jolyt hou, en hul huis in die sorg van hul 16-jarige dogter gelaat.

Fout.

By terugkeer blyk dit dié dogter het ‘n partytjie vir 150 mense aangelê. Vir soveel mense was die toiletgeriewe te min, en nou ja. Die huis is in die toestand van ‘n varkhok aangetref, en dit gaan volgens die polisie duisende Euro’s kos om die huis weer bewoonbaar te maak.

Dan het die Vrystaat ook ‘n nuwe LUR vir Phakisa-sake gekry. Hy oefen glo vir volgende jaar se Dakar.

Die Herries moes self voor Kersfees van die uitspan langs die groot dam terugkom, waar die Sedoos sy ding gedoen het. Klein Herrie moet egter nog water kry wat vir hom te koud is, en hy het elke dag behalwe een, die koue diepseewater gaan aandurf wat die Sedoos strand toe aangewaai het.

En waai die Sedoos by die see, dan reën dit in die Vrystaat. Tuis moes Herrie eers die leeus uit die grasperk jaag om dit met die grassnyer te kon in waag.

Die rede vir die Herries se spoedige terugkeer is ander se idee van pret – om klappers te skiet. Sommiges klink soos groot bomme, en Herrie was in die artillerie. Dan gaan Pumba aan’t bewe, en loop klim sy in elke hoekie in, of klim op tafels, of spring op Herrie in die katelkooi.

Nie eens die reën het gekeer dat mense klappers skiet nie. En dis dan dat Herrie en sy kroos se gedagtes bloeddorstig raak en die allerverskriklikste lot vir die klapperskieters bedink. Trouens, die Herries het vreeslik baie begrip vir die Engelse wat met olie Guy Fawkes gaan klaarspeel het – al het hy nog nie eens kans gehad om sy vuurwerke te laat afgaan nie.

Pumba herinner vir Herrie aan daai lang maer stafsersant wat op ‘n landmynkursus gegaan het. Met sy terugkeer moes hy weer die troepe oplei, onder andere deur oral “landmyne” en “fopmyne” met donderbusse te stel. Maar die arme man se senings was so gedaan met daai kursus dat hy te veel gebewe het, en die “myne” dikwels ongeskeduleerd afgegaan het.

Soos dié keer terwyl die troepe in die eetsaal was. “Boem!”

Buite sit die staf kop onderstebo met sy rug teen die kamp se omheining, die gruis tussen sy bene waar hy sy brousel aanmekaar gesit het, weggeskiet. Snaaks, daai een moes ‘n waterbom gewees het, want dit was sopnat.

Hierna was daar van opleiding met die donderbusse min sprake, maar wel nog heelwat donderbusse. Dié het geblyk nuttige aanwendings te hê, soos Kassie wat nie die duik uit sy staalhelm kon kry na ‘n Bedford dit skrams getref het nie.

Toe daai donderbus onder die helm afgaan, raak hy (die helm) skoon klein voor dit Skylab rakelings mis en terugval. Duik mooi uitgeskiet.

Met die luitenant wie se pyp ontplof het is darem nie donderbusse gebruik nie. Nee, die troep wat so vriendelik was om die luitenant se pyp vir hom te gaan stop, het ‘n kordietstokkie wat uit ‘n kanonlading gehaal is, fyngemaak en saam met die twak gestop. Dit, kan Herrie met groot stelligheid sê, het soos ‘n bom gewerk. Maar moet dit asseblief nie tuis, by die skool of die werkplek probeer nie.

Die dag as Pumba nie meer daar is nie… Dan het Herrie die klapperskieters al mooi “gemerk” en gaan hulle ‘n ietsie leer van wat alles met skieterige goed gemaak kan word…   

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.