Volksmoord – die aanbieding en lesse uit die geskiedenis

Die volksmoord-debat word in baie lande lewend gehou. In Suid-Afrika is daar ‘n debat buite die hoofstroom oor die moorde op Afrikaners, veral deur plaasmoorde, as volksmoord getipeer kan word, terwyl die lande in Europa wat dit strafbaar maak om volksmoorde te ontken, geleidelik meer word.

Volksmoord word inderdaad nie net aan getalle gemeet nie, maar die ontmensing waarmee dit gepaard gaan, en wat dikwels deur erge wreedheid en ontberings vererger word.

In Engels word twee woorde gebruik om volksmoord mee te beskryf, genocide en holocaust, beide van antieke Griekse herkoms wat aandui dat dit geen nuwe begrip is nie. In 1948 het die VN die pleeg van volksmoord ‘n misdaad gemaak. Die volkereg beskou “genocide” as die misdaad om ‘n nasionale, etniese, rasse- of godsdienstige groep uit te roei (destroy), of saam te sweer om uit te roei. Per definisie is “genocide” dus nie net die vernietiging van so ‘n groep nie, maar ook die sameswering om dit te doen. Uit die gevallestudies is dit ook duidelik dat dit as volksmoord beskou word, selfs al sou die aksie nie volkome geslaag het nie.

Ja, volksmoorde word dikwels om verskeie redes ontken. Lees maar ‘n ou Engelse ensiklopedie soos die “ The new Consolidated Encyclopedia” se weergawe van die Anglo-Boere-oorlog se konsentrasiekampe om sommer net daar en dan beroerte te wil kry.

Dié ontkenners het dikwels suiwer politieke motiewe, vir ander is die akkuraatheid van getalle uiters belangrik om te bepaal of volksmoord inderdaad plaasgevind het, asof daar ‘n sekere getal of persentasie mense doodgemaak moes word om as volksmoord beskryf te kan word.

Die volksmoord-kwessie word nou geleidelik meer aktueel namate die eeuherdenking van die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke nader kom. Hoewel die na raming meer as ‘n miljoen Armeniërs tussen 1894 en 1923 omgekom het, word 24 April 1915 tradisioneel as die aanvangsdatum aangedui.

Dit het deel van ‘n omvattender etniese suiwering uitgemaak met veral Grieke en Assiriërs, soos die Armeniërs Christene, wat die spit afgebyt het.

Amptelik ontken Turkye die volksmoord. Trouens, so diep is die ontkenning gewortel dat mense van Turkse herkoms wat in ander lande burgerskap gekry het, dieselfde mening bly huldig. In Nederland, waar mense van etniese Turkse herkoms tot die parlement verkies is, moes minstens een sy setel ontruim omdat hy geweier het om die Armeense volksmoord te erken.

In Nederland is volksmoord ‘n gevoelige saak, en die ontkenning daarvan het strafbaar geraak.

Juis nou is die kwessie omstrede. ‘n Boek, Haar naam was Sarah, deur Tatiana de Rosnays, wat eintlik as kitsch beskou word, is ‘n topverkoper en is ook verfilm. Resensente meen dat die skryfster wel deeglik bewus van die verbod op die ontkenning van volksmoord was, en die Auschwitz-gebeure “goedkoop” maak. Met die ergste emosie afgeloop, begin resensente tot die gevolgtrekking kom dat De Rosnays eintlik wou wegfokus van die diep put van volksmoord, na die lesse vir die toekoms wat daaruit te leer is.

Hoewel die Nazi-aanslag teen Jode en byvoorbeeld sigeuners en die Armeense waarskynlik die bekendste is, was daar meer onlangs nog baie, soos die Khmer Rouge se volksmoord in Kambodja (1975), die Tutsi-Hutu uitdelgings in Rwanda en Burundi, Darfoer, die Bosniese, die Biafraanse, die massamoord op Matebeles in naburige Zimbabwe, die Koerde in Turkye tussen 1986 en 2003 en die Koerde aan die hand van Saddam Hoessein in Irak deur onder meer deur die gebruik van chemiese wapens.

Omdat volksmoord gewoonlik teen ‘n etniese minderheid gepleeg word, word die saak dikwels in die buiteland deur mense in diaspora lewend gehou.

Die bekendste voorbeeld is die Jode wat wêreldwyd sorg dat niemand van die uitwissing van Jode deur die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog vergeet nie. Die meeste bronne gebruik ‘n syfer van 6miljoen.

Die Armeense voorbeeld word in bietjie meer besonderhede onder die loep geneem omdat dit meer raakvlakke met die posisie van die Afrikaners het.

Wêreldwyd is Armeniërs in diaspora ook besig om voorbereidings te tref vir die eeufeesherdenking van die Armeense volksmoord, wat sy hoogtepunt waarskynlik op 24 April 2015 sal bereik. Invloedryke Armeense gemeenskappe in ballingskap het hulle in lande soos Frankryk en die VSA gevestig, met kleiner maar nie minder invloedryke groepe nie in ander lande soos Nederland en Libanon. In die VSA is na raming meer as 300 000 mense van Armeense herkoms, en baie beklee baie invloedryke poste soos in die politiek en as joernaliste in van die VSA se belangrikste koerante, TV-stasies en nuusdienste.

In die 70gerjare het verskeie Turkse ambassades en die Turkse lugdiens onder terreuraanvalle deurgeloop wat deur ASALA uitgevoer is. Sasala is die afkorting vir die Armenian Secret Liberation Army for the Liberation of Armenia .

Hoewel die terreur min of meer opgehou het, is dit nie so seker of dit so onaktief is soos wat formeel voorgehou word nie. ASALA self meen dit is nie nou ‘n aktiewe organisasie nie omdat sy doel, bewusmaking, reeds geslaag het. Dit was egter tot baie onlangs, baie lank na sy formele opskorting in 1986, nog besonder aktief en radikaal op talle internetwebwerwe.

Boonop is ASALA se stigtingsdoelwitte nog nie behaal nie. Dit is om grondgebied te herwin in Oos-Turkye, Noord-Iran en die voormalige Sowjet-Armenië, soos wat in die verdrag van Sèvres in 1920 deur pres. Woodrow Wilson onderneem is. Dié verdrag is egter nooit bekragtig nie, en die VSA is onder meer via Navo, waarvan Turkye ‘n lidland is, ‘n bondgenoot van Turkye. Sowjet Armenië het intussen onafhanklikheid verwerf, maar of dit sal voorkom dat Turkye “oorgesien” sal word, veral in die lig van die ontkenning, namate 2015 nader kom, is iets wat nog gesien moet word. Twee belangrike voormalige hartlandgebiede van die Armeniërs val immers binne die hedendaagse Turkye, een naasliggend aan hedendaagse Armenië en die ander aan die kus van die Middellandse See, ‘n eertydse monargie met noue bande met die Franse koningshuis en ‘n sleutelrolspeler in die Kruistogte.

‘n Vergelyking tussen die Armeniërs en die Afrikaners kan op twee maniere getref word: die omstandighede rondom die volksmoord, en die reaksie, asook verwagte reaksie daarop.

Daar is raakvlakke tussen die volksmoord en die konsentrasiekampe, ook in die effektiewe ontkenning daarvan in die kollektiewe geheue van die bevolkings van die lande wat daarvoor verantwoordelik gehou word. In beide gevalle is die bevolking se vermoë tot meerderheidsbesetting in sy eie grondgebied ernstig geknou. Statisties (300 per 100 000 van die gemeenskap per jaar volgens Interpol) kan ook ‘n saak uitgemaak word dat plaasmoorde op volksmoord neerkom, veral in die lig van parallelle met Zimbabwe se grondgryp en ‘n vasbeslotenheid om liedjies te mag sing soos “Maak dood die Boere.”

Ook wat die diaspora-gemeenskap betref, is daar ooreenkomste. Verder het die hedendaagse Armenië ‘n baie soortgelyke rol as wat Orania by ‘n groot deel van die Afrikaner speel, al is die ooreenkomste vir alle praktiese oorwegings (tans nog) simbolies van aard.

Oor die toekomstige ooreenkomste in reaksie kan net bespiegel word. Gaan ASALA of ander groepe weer die wêreld deur terreur vir Turkye moeilik maak?

Ons sal nie weet nie. Terwyl ASALA of die oorblyfsels daarvan onlangs nog aktief en radikaal op die internet doenig was, was dit duidelik dat die Turkse veiligheidsdienste dit deeglik gemonitor het, en minstens reklamegewys daarop gereageer het. As subversie beplan word, sal dit gewoon dom wees om dit so in die openbare domein te doen – in ieder geval teenstrydig met die begrip “secret” wat in die organisasie se naam ingebou is.

Dat ‘n onstuimige diplomatieke tydjie vir Turkye voorlê is egter duidelik, en die Armeense lobbie in die VSA, gaan geen geringe rol speel nie.

Dat daar soortgelyke sentimente onder minstens ‘n deel van die Afrikaner aanwesig is, is duidelik. Dat frustrasievlakke hoog kook is uit onder meer internet-uitsprake duidelik, dit vind neerslag in die godsdiens, en dit is nog grootliks sub judice in hofsake.

Op die oomblik benut Farao elke geleentheid om daarop te wys dat die Israeliete nog lekkerder as die Egiptenare uit die vleispotte eet. Al hoe meer Israeliete voel dat ‘n slaaf met ‘n vol maag steeds ‘n slaaf is.

Die geskiedenis het die voordeel dat die mens, en veral sy leiers, daaruit kan put om die maak van dieselfde foute uit te skakel. In Rapport wys Flip Buys daarop dat Churchill daarteen gekant was dat die Duitsers na die Eerste Wêreldoorlog verneder moes word. Sy tydgenote het nie uit dié voorbeeld, wat Bismarck voorheen reeds gestel het, geleer nie en dieselfde foute as Bismarck se opvolgers gemaak.

Turkye gaan dalk leer: Vergifnis is moeilik as nie om verskoning gevra word nie. Duitsland doen dit.

cleopatra gamesФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.