Orania – ‘n persoonlike indruk

Orania se blanke werkers

Orania se blanke werkers‘n Span van ses Praaglede het Orania verlede week besoek op ‘n feitesending, onder leiding van Dan Roodt en ekself, om eerstehands te gaan kyk wat hierdie pioniers al bereik het en tot stand gebring het. Ons gasheer was John Strydom, Orania se skakelbeampte, en verskeie leiers en sprekers van die gemeenskap het ons toegespreek en meer vertel van die volgende:

  1. Orania se geskiedenis;

  2. die ekonomiese en finansiële modelle wat gevolg word;

  3. die groei wat ervaar is vanaf die stigting;

  4. die welsyns- en sosiale omstandighede wat ervaar en bestuur word;

  5. die toekomsplanne wat in plek is; en

  6. die groei in die ontwikkeling van ‘n eie ekonomie.

Daar is so baie stories wat vertel word, so baie persepsies van en kritiek teen Orania, dat mens dink dit moet ‘n agteraf, arm gemeenskap wees, waar daar net stof en troostelose droefheid ervaar word – en ons het met sekerlik dieselfde mate van vooropgestelde idees daar aangeland.

Die eerste indruk wat mens kry as jy daar aankom, is dat dit maar lyk soos net nog ‘n klein plattelandse dorpie in Suid Afrika – wel soos die dorpies in die ou Suid=Afrika gelyk het. Dit is klein, skoon en rustig. Daar is armoedige huise, gemiddelde huise en mooi huise. Nêrens sien jy kasteelagtige Boere-Toskaanse gedrogte nie. Daar is ou motors wat beter dae geken het, gemiddelde motors en nuwe blink motors. Baie mense ry fiets, en hulle laat toe dat jy jou vierwielmotorfiets op die pad kan gebruik. Daar is ‘n paar gastehuise, ‘n baie moderne boetiekhotel, vakansie-oord, kampeerplek, ‘n OK-kruidenierswinkel, ‘n motorhawe / vulstasie, ‘n paar koffiewinkels, ‘n klerewinkel, die belangrike aandenkingswinkeltjie, ‘n opelugrestaurant teen die rivier en landboubedrywighede rondom die dorp. Orals in die strate en aan die lowergroen oewer, sien jy sorgelose kinders rondhardloop en speel.

Vir mense wat al oorsee was en veral ander lande se platteland besoek het buite die stede, is dit nie ‘n skok om blankes te sien arbeiderswerk doen nie, maar ek glo dat sommige mense dit met die eerste oogopslag as skokkend sal ervaar. Daar sien jy blankes gate grawe, strate skoonmaak, padinstandhouding doen, fondasies grawe, sement meng, kruiwa stoot, hope gruis en grond met grawe wegwerk, plantjies versorg in die kwekery en rakke pak in die OK. In Orania sien jy bitter min oorgewig mense (ek het twee gesien, maar hulle is seker nog nie lank daar nie), want deur harde fisiese werk, word daardie ekstra kilojoules wat ons ander so lekker laat sukkel om die middel in toom te hou, net eenvoudig deur werk verbrand.

Ek het daardie selfde tendens opgemerk in Suid-Amerika, waar mense ook hulle eie werk moet doen. Daar is oorgewig mense net eenvoudig die uitsondering en nie die reël nie. Die een rede hoekom Amerika, Kanada en Engeland se mense oorgewig is, is dieselfde as wat ons in Suid Afrika ervaar – volksvreemde arbeid, en te veel geld en materialisme. Die Amerikaners gebruik hoofsaaklik Spaanssprekende mense vanuit Sentraal- en Suid-Amerika om hulle arbeiderwerk te doen. In Kanada is dit meestal afstammelinge van die inheemse Indiaanstamme, en dan in Engeland is daar mense van Wes-Indië, Pakistan en Indië.

Die sosiale aard van Orania weerspieël die meeste Suid-Amerikaanse en Europese kleindorpstrukture, en dit is, dat daar nie onderskeid getref word tussen welaf mense en die armes nie. Omdat almal ewe hard werk en bou aan ‘n klein ekonomie, word jy aanvaar op sterkte van die bydrae wat jy maak, wat meer gefokus is op werk as op finansiële rykdom. As jy daar rondbeweeg met jou Gucci-pak, jou vroutjie met haar gimnasiumlyfie, sonbedbene en Prada-handsakkie en jou R1-miljoen-Mercedes, gaan niemand vir jou meer respek hê as vir die arm seun wat elke dag die strate vee om die gemeenskap tot diens te wees nie. Inteendeel, as jy net daar is vir die vertoon en nie jou bydrae anders as deur geld maak nie, gaan hulle nie veel van jou dink nie.

Soos dit behoort te werk in ‘n klein groeiende ekonomie, is daar nie plek vir luiheid of ydelheid op Orania nie. En dit is ongelukkig die faktor waarmee ons stedelinge en gemiddelde mense met ons materialistiese ingesteldheid die mense van Orania en Orania as ‘n heropboumodel mee beoordeel en hulle kritiseer. Kritiek wat myns insiens ongevraagd en onregverdig is. Alhoewel nie volkome nie, is daardie mense vry. Indien nie polities en volkekundig vry nie, is hulle vry deur middel van hulle arbeid en sukses, en die feit dat hulle arbeid en finansiële doelwitte wat bereik word, tot voordeel van hulleself en die gemeenskap is. Dit herinner my aan die Duitse slagspreuk van die Nazi’s: “Arbeit macht frei.” Hoewel polities inkorrek, is dit heel gepas vir Orania.

Daar is wel ‘n sosiale probleem wat die mense van Orania deurlopend moet bestuur, en dit is die feit dat baie arm Afrikaners sonder heenkome daar aankom, en dink hulle kan daar versorg en gekoester word, sonder om self arbeidsaam by te dra. Alhoewel daar wel simpatiek na sulke mense uitgereik word, is die ekonomie net te klein om ‘n welsynstaat te word, en dus word daar van sodanige mense verwag om te begin om die arbeidsbehoefte te vul. Sommige van hulle skakel suksesvol in, en word in die gemeenskap opgeneem en gehelp, maar ander kan net nie daardie kopskuif maak nie, en word dan weer op hulle pad gesit.

Ek ondersteun hierdie benadering, omrede die Afrikaner nie kan bekostig om ‘n welsynsvolk te word nie. Orania kan nie bekostig dat daar ‘n blanke plakkerskamp ontstaan, waar die mense gevoed en versorg moet word uit ‘n reeds klein ekonomie nie. Dit is ‘n feit dat elke volk bestaan uit verskillende lae mense. Jy kry jou akademici, jou intelligentsia, jou professionele mense, jou denkers en planmakers, jou entrepreneurs en besigheidsmense, jou witboordjiewerkers, jou dienswerkers, en dan natuurlik jou arbeiders. Ons as Afrikaners het so lank onder apartheid gewoond geraak aan swart arbeid, dat ons nie meer arbeiders wil wees nie. En dit is ook ‘n feit dat party mense maar onder moet begin, en binne hul vermoë hulleself maar moet opwerk na ander vlakke. Mense wat alles in die lewe verloor het, moet tog begryp dat jy weer iewers moet begin, al het jy ‘n meestersgraad in wiskunde – Arbeit macht frei, of in die Afrikaanse idioom, soos deur Langenhoven geskep: Arbeidadel, of in die Orania-idioom: Selfwerksaamheid.

Wat eiendom op Orania betref, is hulle ongelukkig getref deur hiperinflasie op eiendomspryse, as gevolg van ‘n geweldige aanvraag na eiendom en huise die afgelope drie jaar. Pryse in Orania is heelwat hoër as in die omliggende dorpe soos Vanderkloof, Petrusville en Hopetown. ‘n Gedienste erf kos in die omgewing van R 200 000. Dit is ook natuurlik iets wat baie moeilik beheer kan word in ‘n vryemarkstelsel, maar realisme moet maar altyd die botoon voer. Myns insiens is die Malema-barometer hiervoor verantwoordelik, en sal dit op een of ander manier beheer moet word. Hoe meer Malema gal braak oor die blankes en nasionalisering, hoe groter en meer dringend is die planne van baie mense om na ‘n volkstaat te verhuis, en op die ou-end is dit net dít – planne. Die ekonomiese realiteit van die Noordkaapse platteland staar mens nog altyd in die gesig, en dit is ‘n beperkende ekonomiese aktiwiteit en realiteit. Eiendomspryse in Orania behoort vergelyk te word met die buurdorpe om ‘n meer realistiese waardasie te doen, en kan daarom nie veel hoër wees nie.

Die dorpsraad op Orania besef die probleem, en is besig met planne om dit te bestuur. Hulle gaan binnekort weer erwe beskikbaar stel om die voorraad, en dus aanbod te verhoog, en is gedurig besig om na boumetodes te kyk wat goedkoper as die normale is. Boukoste is dan ook baie hoog, omrede alle materiale ver aangery moet word en daar van blanke arbeid gebruik gemaak word.

Wat die landbou betref, is daar al heelwat gevestigde bedrywe, wat suksesvol bestuur word. Die voorkeurboerdery is pekanneute, en hierdie tyd van die jaar lyk dit te mooi om die dorp as gevolg van al die boorde. Verder het ons druiweboorde en ‘n mielieland onder spilpuntbesproeiing waargeneem.

Daar is kerke vir die meeste denominasies in die Afrikanerkultuur, en dit blyk dat daar baie verdraagsaamheid tussen die mense bestaan. Ons het egter opgemerk dat daar drie skole is, en dit was nogal ‘n skok. Waarom drie skole in so ‘n klein gemeenskap aan die gang hou terwyl al die kinders tog een groter skool kan ondersteun?

Vir ‘n entrepreneur met ‘n goeie besigheidsidee wat kan inpas in die streeksekonomie, is daar geleenthede op Orania, en die Orania Koöperasie sal selfs finansiële bystand kan aanbied vir merietegevalle.

Op die ou end kom die vraag na vore: Hoe sien ek Orania – 1) as bestaande gemeenskap en heropboumodel, en 2) in die toekoms van die Afrikaner?

Ons wat nie daar woon nie, het nie die reg om Orania as model, of as gemeenskap te veroordeel en te kritiseer nie. Dit is nie deel van die normale ekonomie nie, en dus sal jy nie daar ‘n groot winkelsentrum aantref met restaurante, luukse winkels of flieks nie. Maar jy sal dit ook nie in Hartswater of Koekenaap aantref nie; tog praat ons nie smalend van die mense wat daar bly nie. Die mense wat ek op Orania ontmoet het, is eerlike, hardwerkende Afrikaners, sonder pretensie, hoogmoed en venyn. Hulle sien nie neer op enige mens nie, en praat nie sleg van die mense binne die Afrikanervolk wat op hulle neersien nie. Baie van hulle is hooggeleerd, sommige is slim, ander miskien dom, maar hulle het almal ‘n doel in die lewe en hulle werk gefokus daarvoor: Om ‘n plek en ‘n lewe vir hulleself en hulle nageslagte daar uit die klip en stof van die Noordkaap te bewerkstellig. ‘n Plek waar ons kultuur en manier van dink en doen beskerm en verder ontwikkel kan word.

As model het hulle bewys dat die Afrikaner selfversorgend kan wees en dat ons, soos ons voorouers die Vryburgers en die Voortrekkers, sonder buitehulp iets van die grond af kan opbou wat net tot eer sal strek van hulle wat daaraan deel het.

As die politiek nie inmeng en dit tot niet maak nie, gaan Orania in die Afrikaner se toekoms ‘n baie belangrike rol speel as ‘n tuiste vir hom in Afrika – ‘n biosfeer waar ons mense hulle batterye kan gaan laai teen die aanslag van die verafrikanisering van Suid Afrika. Dit wat daar begin is, sal groei en sal lewensvatbaar wees, al word dit (hopelik nie) afgesny van die buitewêreld as gevolg van politieke strategieë van die ANC.

Elke Afrikaner wat smag na, en wil bydrae tot die vryheid van ons volk, behoort aan te sluit by die Orania Beweging, en solank ‘n finansiële bydrae te maak tot die Orania Koöperasie. Dit gaan die groeipunt word van ‘n Afrikanerhartland. Ek is beïndruk, en kan net met respek praat van die mense wat daar woon en die sukses wat hulle tot dusver bereik het met baie min hulpbronne.

Vir my medevolksgenote wat op Orania neersien en wat smalend van hulle praat, wil ek net die volgende sê: “Dit is beter vir ‘n dwaas om stil te bly, want dan sien niemand sy onkunde raak nie.”

путешествие по средиземному морю

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.